Ons is al ewig dankbaar vir haarbykomstighede wat tot ons redding kom op dae wat ons “nog ’n dag” kan loop tussen ’n haarwas of wanneer ons uitgroeikleur bietjie te erg lyk.
Na die artikel voel selfs ons nou geïnspireer om meer gereeld ons haarbykomstighede te dra. Ons hoop dit inspireer jou ook. Ons deel 8 haarbykomstighede wat nou trend. Deur Justine Kroes
1. Haarbykomstighede met strepe
Een patroon wat wel die volgende somer seisoen gaan oorheers is strepe. En enige haarbykomstighede, veral knippies met strepe, is groot nuus.
Nes ’n gestreepte somersrok voel hierdie knippiestyle somerig en vol pret en sal ’n vervelige uitrusting dadelik opkikker.
2. Gehekelde of ketting kopdoeke
Hierdie een mag jy dalk vreemd vind, selfs ons was aanvanklik oorseker daaroor, maar dit is beslis besig om op ons te groei.
Die idee is ’n hoofbedekking waar die boonste gedeelte van jou kop toe is of met ’n gehekelde amper mussie/hoed. Die meer sjiek weergawe hiervan is die hooftooisel uit fyn (ligte) kettings gemaak wat gemaklik op jou kop pas.
Die bonus: as jy genoeg skimp kan jou Ouma of tannie (of sommer jy self!) vir jou jou eie gehekelde somer haarbykomstigheid maak!
3. Skulp en en see geïnspireerd (mermaidcore)
Of “Mermaidcore” soos dit ook bekend staan. Dink aan knippies, en haarbykomstighede wat met die allermooiste skulpies, pêrels of see geïnspireerde versierings bedek is.
Van goue seesterre tot sagte fyn pêrels met skulpiedetails.
4. Kant serpe/ bandanas
Nes kant steeds in modekringe oorheers, so is kant ook ’n gewilde haarbykomstigheid vir somer/lente.
Dink boho geïnspireerde kopdoeke of haarbade versier met fyn kant. Hierdie bykomstigheid versag enige uitrusting en lyk so vroulik.
5. Polkakolle
Hierdie seisoen kan jy eenvoudig net nie van polkakolle af wegkruip nie. ’n Sterk modepatroon, maar beslis ook ’n stapel om in jou hare te gebruik.
Van kopbande tot knippies en scrunchies, polkakolle kan blitsvinnig jou uitrusting meer modieus laat lyk.
Psst, indien jy nie graag polkakolle in jou klere wil dra nie, is ’n polkakol bykomstigheid ’n fantastiese manier om die trend te dra. Met selfs net ’n tikke polkakolle in jou hare sal jy sjiek en afgerond lyk.
6. Bandanas
Hierdie is seker die heel grootste haarbykomstigheid van die oomblik. Maak gebruik van jou syserp om jou hare bandana-styl agtertoe te bind.
Maak gebruik van jou bandana om jou hare uit jou gesig te hou in hitte of humiditeit.
En onthou, hierdie bandana styl voorkoms mag gerus oral oor gedra word. Dit is nie alleenlik vir vakansie en die strand bedoel nie.
7. Sigsag kopbande
Terug na die 90’s danksy Hailey Bieber en haar gereelde gebruik van ’n zig-zag kopband. Hierdie plastiek kopband het nou in ’n werklike trend verander.
Ons hou van die styl, pssst maak net seker hy druk nie te hard agter jou ore nie!
8. Metaalknippe
Ons hou veral van die Franse styl “pin” of barette styl haarknippe in metaal skakerings. Hierdie een is nie splinternuut nie, maar is beslis ’n haarbykomstigheid wat tydloos sjiek bly.
Maak gebruik van ’n gekurfde metaalknip om half-op half-af hairstyle te skep. Of selfs net sjiek bollas of French twists. Gewilde skakerings is goud en silwer.
Nog gewilde metaal knippe. Skuif of oopknip knippies, sommer so in ‘n ry gestapel. Psst, jy mag gerus goud en silwer meng!






































