Jy het nie noodwendig ’n hele bou en breek-opknapping van jou spasie of ’n reuse begroting nodig om jou spasie te verfyn en gesofistikeerd te laat lyk nie. Die geheim? Stylvolle dekoritems wat ’n groot impak op jou spasie het. Hier is 15 dekoritems wat enige spasie onmiddellik verhef; Deur Justine Kroes.
20/06/2025
15 Dekoritems om jou spasie te verhef
1. Groot spieël
’n Groot spieël wat op die regte plek gehang word, het die krag om ’n kamer groter en oper te laat vertoon. Die spieël reflekteer lig en kan dien as ’n “tweede venster” in ’n spasie met min lig. Die vorm en raam van die spieël kan boonop jou spasie en dekor komplementeer en dadelik ’n spasie verhef.
2. Beligting (wat ’n stelling maak)
Ruil daardie vervelige ligte (wat die bouers nog destyds ingesit het) vir ’n sjiek kandelaarlig, ’n lig met tekstuur of een in ’n moderne ontwerp. Kies ’n lig wat jou spasie goed komplementeer. Selfs ’n groot lamp het die krag om die gevoel van ’n spasie te verander.
Hier is nog ’n klomp handige ligwenke: Beligtingsidees vir ’n warmer atmosfeer
3. Kombersies met tekstuur
Kombersies hou jou nie net snoesig en warm nie, maar is een van die maklikste maniere om tekstuur en die gevoel van warmte in ’n vertrek te skep. Dit bied boonop ’n tikkie sagtheid en kan selfs ’n luukse gevoel skep wanneer dit oor ’n bank of stoel in ’n spasie gedrapeer word.

Hier is nog ’n paar handige wenke vir kombersies en stoorplek vir jou kombersies.
4. Koffietafelboeke
Groot koffietafelboeke met pragtige voorblaaie, dink aan mode-, reis-, kuns- of fotografieboeke uitgestal op jou koffietafel. Dit lyk indrukwekkend en dis altyd so lieflik om te ervaar hoe gaste dit geniet om hierdie boeke deur te blaai.
Stapel ’n klomp boeke opmekaar of stal een of twee van jou gunstelinge uit.
Hier is wenke van ’n kenner – koffietafelstilering, moets en moenies.
5. Dekoratiewe skinkbord
’n Skinkbord is veral handig om items op te organiseer en tafels klottervry te hou. Die gepoleerde oppervlak bied natuurlik ook ’n tikkie luuksheid vir die spasie.

Hierdie dekoritem is ook handig op jou spieëltafel, of selfs langs jou bed, om al jou persoonlike items op ’n sjiek manier netjies bymekaar te hou.

6. Gegeurde kerse en geurverspreiders
Geur bied ’n onmiddelike atmosfeer aan ’n spasie en het die krag om die gevoel en ervaring van ’n spasie te verander. Die bonus is natuurlik pragtige verpakking of unieke ontwerpe wat ’n dubbel doel dien as lekkerruik dekorelemente.
7. ’n Groot los mat
’n Groot mat dien as ’n ankerstuk in ’n kamer of vertrek en bied sonder baie moeite nodige dekorelemente soos kleur of patrone. Die mat bied boonop warmte en sal ’n leë, koue vertrek dadelik warmer en meer leefbaar maak.

8. ’n Stel bypassende strooikussings
’n Stel kussings wat bymekaar pas (nie noodwendig identies nie) kan jou vertrek gesofistikeerd laat lyk. Dink aan kussings in dieselfde kleurpalet wat andersins verskillend is in tekstuur, grootte en vorm.

’n Kombinasie van drie soortgelyke kussings in ’n spasie dien as ’n gesofistikeerde dekoritem wat ’n kompileerde of fyn beplande (curated) gevoel aan die spasie gee.
9. Geraamde kuns of afdrukke (prints)
Verpersoonlik jou spasie met kuns wat jou dekorstyl refklekteer. Dink goed na oor jou spasie en watter kunsstukke waar sal werk. Kuns en afdrukke in ’n raam lyk natuurlik meer gepoleerd en luuks. Oorweeg ’n galerymuur, hierdie dekortruuk skep behoorlik ’n aandagpunt in ’n vertrek.

Hier’s ’n paar handige wenke vir jou eie galerymuur; galerymuur 101 hier’s hoe
10. Keramiek of interessante potte en blompotte
’n Vase/ blompot hoef nie noodwendig altyd blomme in te hê nie – ’n groot leë blompot of keramiekhouer uitgestal op ’n strategiese plek kan daardie spasie of hoekie dadelik verhef. Vars blommer natuurlik ook – maar jou blompot maak ook saak.
Hier’s ’n paar op ons kooplysie:
11. Plante of vars groen blare
Daar is byna niks wat ’n spasie so lewendig laat voel soos ’n pragtige groen plant nie. Jy kan boonop plante op soveel verskillende maniere in jou spasie ’n dekorfokuspunt maak. Laat rank gerus plante teen spieëls op, of van jou rakke af.

Selfs net ’n interessante plant met unieke blare in ’n mooi keramiekpot trek dadelik aandag. Dink gerus ook aan ’n mooi groot plant in die hoek van ’n vertrek, dit kan ’n spasie omtower en super stylvol laat lyk.

12. Beeldhoukundige dekorvoorwerp
Dink aan daardie interessante ontwerpkuns en beeldhou-elemente wat persoonlikheid en ’n tikkie “flair” aan ’n spasie bring.

Daardie handgemaakte knope, metaal-ontwerpstukke, selfs die allermooiste beeldhou-geïnspireerde kershouers. Kies iets unieks, maar steeds ’n item wat jou styl en dekorpersoonlikheid uitbeeld.

13. Stylvolle stoorplek
Hierdie dekortruuk is een wat almal gerus in hul spasie kan probeer – funksionele dekor-items wat nie net mooi lyk in jou spasie nie, maar boonop versteekte stoorplek bied. Opsies soos beddens met laaie aan die onderkant of ottomans of bankies wat oopmaak. Kyk rondom jou na wat rondstaan en identifiseer wat jy graag wil wegpak vir die spasie om skoon en ongeklotter te lyk. Dit kan so eenvoudig wees soos mandjies vir speelgoed of kombersies.
Hou die materiaalstof in van hierdie dekoritems in gedagte. Fluweel of bouclé ottomans bied ’n tikkie luuksheid en jute of seegrasmandjies bied byvoorbeeld warmte en tekstuur.
14. Muurligte/lampe
Die gebruik van muurligte / lampe bied nie net lig waar daar nie vloerspasie is vir ’n lamp nie dit laat die kuns teen jou muur lyk asof dit in ’n gallery hoort! Die gebruik van hierdie tipe ligte (ook bekend as wall sconces, skep driedimensionele diepte en interessantheid waar daar voorheen dalk net ’n dooie muur was.


15. Luukse gordyne
Jy sal nie glo watter impak die regte gordyne (met die regte hoogte) in ’n spasie kan maak nie. Vloerlengte gordyne van byna dak tot vloer skep hoogte en laat jou hele spasie groter lyk. Die voorkoms van sagte gordyne versag die spasie en bied ’n luukse gevoel.



Jy het nie noodwendig meer “goed” nodig nie, jy het net die “regte goed” nodig. ’n Paar intensionele veranderinge met jou dekoritems kan jou spasie dadelik verhef, gepoleerd en stylvol laat.

















