Wat en wanneer jy eet kan jou slaap beïnvloed. Jy rol rond, sukkel om af te skakel of voel dalk ongemaklik. Deur dieetkundige Liezel Engelbrecht
11/03/2022
Kosdinge wat jou slaap kan beïnvloed
1. Etenstyd
Moenie te na aan slaaptyd eet nie. Jou spysverteringsisteem begin kliphard werk na ’n maaltyd, en dit kan jou dalk wakker hou! Probeer om so twee tot drie ure voor jy gaan slaap te eet. Dit geld nie vir mense wat aan diabetes ly en op insulien is nie. Ander mediese toestande kan die riglyne ook beïnvloed – volg jou dokter se raad.
2. Vetterige en energiedigte kos
Studies het getoon dat mense wat “kort slapers” is (dus minder as sewe uur per aand slaap) oor die algemeen meer energie (kilojoules) inneem, spesifiek van kosse hoog in vet, en van peuselhappies. Matige vet- en energie-inname kan dus moontlik help om slaap te verbeter.
3. Te min kos
As jy honger is kan jy ook ongemaklik slaap. ’n Maag wat grom en hol voel omdat jy heeldag nie genoeg geëet het nie, kan jou ontneem van ’n rustige nagrus.
4. Melk
Daar steek dalk waarheid in die storie dat ’n glas melk jou beter kan laat slaap. Melk bevat triptofaan, ’n aminosuur wat help met die vervaardiging van jou sogenaamde “slaaphormoon” melatonien. Wees versigtig vir volroommelk wat hoog is in vet en dus dalk slaap kan versteur.
As jy sukkel met sinus of laktose onverdraagsaamheid sal dit egter ’n teenoorgestelde effek hê.
Wees ook bedag op die hoeveelheid vloeistowwe wat jy drink voor jy gaan slaap (om badkameruitstappies in die middernagtelike ure te verminder).
5. Kafeïene
Donkersjokolade hoog in kakao, verskeie energiedrankies, sekere gaskoeldranke, koffie en tee bevat dié stimulant. Probeer eerder ’n koppie warm laevetmelk, of kafeïenvrye koffie of tee (soos rooibostee).
6. Vitamiene en minerale
’n Tekort aan sekere voedingstowwe, soos kalsium en magnesium, kan krampe veroorsaak, wat jou onrustig kan laat slaap. ’n Vitamien D-tekort word ook verbind met swakker slaapkwaliteit. Probeer genoegsame kosbronne inkry wat dié voedingstowwe bevat, of bespreek ’n aanvulling met jou dieetkundige of dokter.
7. Proteïne
Dié makronutriënt word stadig verteer. Jy kan dus onrustig slaap as jy groot hoeveelhede proteïne eet, veral afkomstig van rooivleis wat ook hoog is in vet (soos ’n groot biefstuk of lamsvleis). Probeer dus om jou porsies matig te hou, en weereens nie te naby slaaptyd te eet nie.
8. Alkohol
Hoewel jy dalk maklik aan die slaap kan raak na ’n paar glase wyn, kan dit jou kwaliteit slaap beïnvloed. Jy mag dalk begin rondrol na ’n paar ure en ’n onrustige nagrus hê.
9. Vloeistowwe
As jy gedurig wakker word in die nag om te gaan piepie en dit jou slaap versteur, eksperimenteer daarmee om vroeër op te hou om vloeistowwe te drink.
10. Suiker
’n Studie op vroulike Japanese werkers het getoon dat dié wat meer verfynde stysels soos noedels en suikerryke kosse geëet het, swakker geslaap het vergeleke met dié wat ’n hoër inname van vis en groente gehad het.
11. Groente en vrugte
Die Mediterreense dieet word verbind met beter slaapkwaliteit. Dié eetstyl word ook verbind word met ’n langer lewe, hartgesondheid en dermgesondheid.
Kenmerke van die eetpatroon sluit in:
- volop vrugte en groente
- volgrane,
- peulgewasse,
- matige inname van suiwel
- slegs klein hoeveelhede rooivleis
- min verwerkte kosse en
- min alkohol.
12. Speserye
Kos met baie speserye (maar so ook kos wat hoog is in vet en verfynde stysels) kan sooibrand veroorsaak in sommige mense. En ons weet sooibrand kan die kwaliteit van jou slaap beïnvloed. Netso kan ’n oormaat kos sooibrand veroorsaak, veral as jy dalk ’n breuk tussen jou slukderm en maag het. Kos kan dan deur dié breuk stoot en ongemak veroorsaak. Wag minstens 40 min voor jy plat lê na ’n ete, of probeer om jou bolyf hoër as jou onderlyf te hou as jy gaan slaap.
13. Suur kersies
Die klein vruggies bevat melatonien, en sommige mense beweer dit help met slaap. Sterk navorsing oor die hoeveelhede wat nodig is vir die verbetering van slaap ontbreek nog, maar probeer dit gerus as jy daarvan hou!
My wenk
As jy sukkel met slaap, probeer om ’n joernaal te hou van jou kos- en drankinname, tye wanneer jy eet en drink, en slaappatrone. Doen dit vir minstens twee weke. Kyk dan of jy ’n patroon raaksien. Elke persoon is uniek, en kan verskillend reageer op sekere kos en eetpatrone. Onthou ook dat kos nie die enigste ding is wat slaap kan beïnvloed nie. Jou gemoed, spanning, oefengewoontes, onderliggende mediese toestande, werksure, skermtyd en sogenaamde “slaap higiëne” kan ook ’n groot rol speel.
- Besoek www.adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
- Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie
Aanvullende bronne:
- Binks H, E Vincent G, Gupta C, Irwin C, Khalesi S. Effects of Diet on Sleep: A Narrative Review. Nutrients. 2020;12(4):936. Published 2020 Mar 27. doi:10.3390/nu12040936
- Katagiri R, Asakura K, Kobayashi S, Suga H, Sasaki S. Low intake of vegetables, high intake of confectionary, and unhealthy eating habits are associated with poor sleep quality among middle-aged female Japanese workers. J Occup Health. 2014;56(5):359-68. doi: 10.1539/joh.14-0051-oa. Epub 2014 Aug 28. PMID: 25168926.
Lees ook:
15 Beste wenke vir beter slaap
Kan essensiële olies help vir angstigheid en slaaploosheid
Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. www.liezelthedietitian.com.