Aanlyn-inkopies; bly so veilig(er)

Dit is einde van die jaar manie, en ons almal jaag om dinge klaar te kry en te koop; van Swart Vrydag-aanlyn-inkopies tot geskenke en vakansiegoed. Dit is egter juis gedurende hierdie tyd waarin kuberkriminele ook op hul besigste is. En dit voel asof hulle al hoe slinkser raak om ons uit te vang. Hier is wenke oor hoe jy veiliger aanlyn kan bly. Deur Suzanne Kotze

Ek sien onlangs ’n advertensie op Facebook van Cape Union Mart waar Stanley-bekers vir R250 geadverteer word. Ek is dadelik nuuskierig oor hoe op dees aarde dit so goedkoop kan wees. Ek klik en dit lyk presies soos Cape Union Mart se gewone webwerf, maar toe ek na die adres kyk, is dit capeunionmart.com en nie .co.za nie! Onthou, as iets lyk asof dit te goed is om waar te kan wees, is dit waarskynlik … Gaan kyk altyd na die handelsmerk se sosiale media en google ook die webwerf voordat jy koop.

Doen so veiliger aanlyn inkopies

Chris Boxall, hoof van kaarttransaksies, industrie en bedrognaspeuring (Head of Card Transact, Industry and Fraud Detection), FNB gee raad.

Met kubermisdadigers wat meer gesofistikeerd raak, moet jy waaksaam bly en proaktiewe maatreëls tref om jouself te beskerm, veral in spitsbestedingseisoene soos Swart Vrydag en die Feesseisoen.

1. Moenie paniekerig raak nie:

Skelms maak staat daarop dat jy haastig gaan optree as jy paniekerig voel. Hul taktiek sluit dreigemente in dat jou rekeninge geblok sal word of dat bedrog geïdentifiseer is en onmiddellik gestop moet word. Onthou, wat ook al die scenario, moet nooit jou OTP (eenmalige wagwoord), PIN-nommer of wagwoorde weggee nie. Beëindig eerder die kommunikasie en kontak dadelik jou finansiële instelling.

2. Moenie op e-pos- of SMS-skakels klik nie

Wees versigtig om e-posse oop te maak van onbekende bronne of e-posse wat verdag lyk. Geloofwaardige finansiële instellings sal jou nooit vra om op skakels te klik nie. Vermy dit ten alle tye om op skakels te klik of aanhegsels van hierdie soort boodskappe oop te maak, want dit kan jou na vals webwerwe herlei of dit kan skadelik wanware bevat.

3. Kyk mooi na die woorde van eenmalige tydelike wagwoorde (OTP’s)

Die woorde wat gebruik word vir ’n aanlyntransaksie se OTP is anders as die van byvoorbeeld ’n digitale beursie. Moenie haastig wees en aannames maak nie. As dit vreemd voorkom, maak dubbel seker.  

4. Aktiveer tweefaktor-stawing

Aktiveer  tweefaktor-stawing waar ook al moontlik: deur ’n tweede verifikasiestap te vereis voeg dit ’n ekstra laag sekuriteit by. Hierdie stawingstap vind gewoonlik plaas deur ’n ekstra boodskap deur jou foon of deur ’n TOEP (App) soos die van FNB.

5. Wees bewus van die kaart- en digitale veiligheidsmaatreëls

Daar is baie misleidende inligting oor hoe mense hulself teen bedrog kan beskerm, maar dit is wys om jou finansiële instelling se aanbevelings te volg oor hoe om jou geld te beveilig.

6. Hou sagteware en toestelle op datum

Dateer jou bedryfstelsel, webblaaiers en antivirussagteware op ’n gereelde basis op; dit kan help om jou minder kwesbaar te maak. Aktiveer outomatiese opdaterings waar moontlik om te verseker dat jy die mees onlangse sekuriteitsoplossings kry.

7. Verifieer kontakbesonderhede

As jy agterdogtig is oor ’n boodskap of versoek, kontak jou bank deur besonderhede direk vanaf hul webwerf te gebruik sodat jy nie na die bedrieër se ‘hulplyn’ herlei word nie.

Uitvis bedrieëry 

In hierdie digitale era kan bedrog swendelary in baie vorme kom, insluitend deur middel van SMS-boodskappe of e-posse. Dit is belangrik om waaksaam te bly en om nooit sensitiewe inligting, soos jou rekening- of kaartnommer, wagwoord of PIN in reaksie op ‘n teksboodskap, telefoonoproep of e-pos te deel nie. Wettige banke sal nooit vir hierdie inligting deur ‘n oproep, sms, e-pos of selfs sosiale media-platforms soos WhatsApp vra nie, dus as jy ‘n boodskap ontvang wat dit versoek, is dit waarskynlik bedrog. Verifieer altyd die bron en legitimiteit van enige versoeke vir persoonlike inligting voordat jy reageer.

Wat is uitvis bedrieëry (phishing)? 

Daar is ‘n toename in uitvissing en pogings om debiet- en kredietkaarte op misdadigers se digitale beursies te laai. Uitvissing is ‘n tipe kubermisdaad waarin mense mislei word om sensitiewe inligting soos aanmeldbewyse, wagwoorde, PIN-nommers, kaartbesonderhede of ID-nommers te verskaf deur misleidende tegnieke soos vals e-posse en webwerwe te gebruik.

En wat van smishing

Smishing is die gebruik van teksboodskappe – oënskynlik vanaf betroubare instellings – om mense te mislei om soortgelyke inligting te verskaf. 

Misdadigers kan SMS’e stuur waarin gevra word dat jy ’n klein fooi moet betaal om byvoorbeeld ’n pakkie te laat aflewer of vry te stel. Hulle vra dan dat jy jou kaartbesonderhede moet intik. Die gebruiker het geen idee dat die misdadiger eintlik daardie besonderhede in hul digitale beursie invoer nie. Wanneer ’n bank dan vir die skelm ’n versoek stuur vir ’n OTP om die laai van die kaart te bevestig, vra die skelm die gebruiker vir die OTP.  Jy glo verkeerdelik dat dit uitgereik is in verband met ’n bedrieglike betaling en oorhandig dit onwetend aan die die bedrieër. Nou kan die misdadiger jou kaart gebruik omdat dit op die skelm se eie toestel (soos foon) gelaai is en die skelm se biometrie gebruik (en nie joune nie). Die skelm kan dan byvoorbeeld die kaart gebruik deur gesiguitkenning op sy/haar foon.  

(* Hier by Stylvol ontvang ons gereeld e-posse van die ‘poskantoor’ of koeriers oor uitstaande fooie, waarop ons natuurlik nie klik nie. Maar dit kom baie geloofwaardig voor.)

Onthou, wees ekstra bedag, en as jy twyfel, vra eerder vir hulp. Jy wil nie ’n duur les leer omdat jy te simpel gevoel het om vir hulp te vra nie.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Gesonde eetgewoontes; ’n dieetkundinge se top-drie wenke
error: Content is protected !!