Die winter nooi ons uit om stadiger te leef, dieper te rus en vertroostende roetines te skep wat liggaam en gees koester. In plaas daarvan om bloot die kouer maande te “oorleef”, koester die seisoen as ’n geleentheid om te herlaai. Van gesellige rituele tot sonlig en sosiale verbintenis, hierdie klein gewoontes kan ’n merkwaardige verskil aan jou bui en welstand maak. Deur Suzanne Kotzé
1. Skep ’n warm drankie-ritueel
Om jou hande rondom ’n warm beker/koppie te vou op ’n koue oggend is so vertroostend. Of dit nou koffie, rooibostee of kruietee is, om jou warm drankie oomblik in ’n bewuste ritueel te omskep, kan help om stres te verlig en oomblikke van kalmte te skep.
In The Little book of Hygge skryf Meik Wiking oor hoe eenvoudige vertroostende rituele sentraal is tot wintergeluk en emosionele welstand. Steek ’n lekkerruik kers aan, sit stil vir ’n paar minute in stilte en geniet die warmte en aroma werklik in plaas daarvan om deur jou drankie te jaag.
Wenk: staan 10 minute vroeër op, sodat jy alleentyd het voordat jou gesin wakker word en die dolle gejaag begin.
2. Skuif meubels om die sonlig te vang

Wintersonlig is kosbaar. Om jou meubels te herrangskik sodat jou gunstelingstoel in ’n sonnige kolletjie staan, kan jou sommer dadelik beter laat voel. Die ideale plek om op te krul en ‘n boek te lees.
3. Koesterende knus komberse

Winter is die seisoen van tekstuur en gemak. Sit sagte kombersies op beddens se voetenente, rusbanke en leeshoekies om geselligheid deur die huis te skep. Omgewingsielkundiges verwys dikwels na tasbare gemak; sagte materiale, warmte en verskillende teksture wat ons senuweestelsel kan kalmeer en gevoelens van veiligheid en ontspanning te skep.
4. Hou aan oefen

Dit is maklik om die kouer donker oggende en aande as verskoning te gebruik waarom jy nie kan oefen nie. Maar die winter is juis die ideale tyd om aan jou fiksheid te werk aangesien jou hart nie so hard werk omdat jy warm kry en sweet nie. Endorfiene wat tydens oefening afgeskei word kan ook jou gemoed lig en help om jou meer energiek te laat voel.
Lees meer hier: Vier goeie redes vir aanhou oefen die winter
5. Hou jou hande besig
Winter is die perfekte tyd om stokperdjies te herontdek. Brei, inkleur, legkaarte, bak of hekel moedig alles bewustheid aan en help om angstige gedagtes stil te maak.
Handwerk-gebaseerde aktiwiteite skep ook ’n gevoel van prestasie en kan diep meditatief word. Kreatiewe stokperdjies kan ook stres verminder deur die brein te help om op herhalende, kalmerende take te fokus eerder as angstige gedagtes.
6. Skep ’n bad/stort-ritueel

’n Warm bad aan die einde van ’n koue dag kan ’n herstellende bederf word eerder as net ’n moet-doen roetinetaak. Voeg badsout, essensiële olies of kalmerende musiek by om dit in ’n sensoriese ervaring te omskep.
Volgens Isabel Roos van die Isa Carstens Academy is die volgende essensiële olies bekend vir hul kalmerende en ontspannende eienskappe:
- Roemeense kamille (chamomile)
- Roosmalva (rose geranium)
- Laventel (lavender)
- Lemoenblom (Neroli)
Oorweeg dit gerus vir jou bad.
Lees ook: Kan essensiële olies help vir angstigheid en slaaploosheid?
7. Geur jou huis bedagsaam

Verskillende geure kan verskillende luime dwarsdeur jou huis skep. Vars sitrusgeure werk goed in kombuise, terwyl laventel, sandelhout of vanielje strelend is in slaapkamers en leefruimtes.
In haar aromaterapieboeke beklemtoon Valerie Ann Worwood hoe geur emosionele welstand en geheue beïnvloed. Geurige kerse of verspreiders kan ’n huis onmiddellik gerusstellend laat voel.
8. Skep gesonde slaapgewoontes
Winter se langer nagte is die ideale geleentheid om rus te prioritiseer. Mik vir dieselfde slaaptye, stel jou ligte vroeër sagter in die aand (skakel hoofligte af en sit bed en staanlampe aan) en verminder skermtyd voor slaaptyd.
Slaapkundiges beklemtoon dat kwaliteit slaap immuniteit, hormoonbalans en bui ondersteun; alles veral belangrik gedurende die winter wanneer siektes en moegheid meer algemeen is. Navorsing wys ook dat gesonde ligblootstelling gedurende die dag slaapgehalte kan verbeter.
9. Geniet oggendsonlig

Blootstelling aan oggendsonlig is veral goed gedurende die winter.
Sonblootstelling in die oggend en middag help om jou liggaam se sirkadiese ritme te reguleer en kan jou energievlakke en slaapgehalte verbeter. Navorsing gepubliseer in BMC Public Health het wys dat blootstelling aan sonlig ’n belangrike rol speel in slaapregulering en om jou sirkadiese ritme re reguleer.
Lees meer hier: 7 Redes waarom oggendsonlig goed is vir jou
10. Maak die meeste van mooi weer
Wanneer dit mooiweer is; kom buite, al is dit hoe kort. Drink ’n koppie koffie in jou tuin, gaan stap om die blok of in die natuur.
Ons kan gerus by die Noorweeges konsep Friluftsliv leer. In ’n land met lang, donker winters het die Noorweërs geleer om die meeste van hul tyd in die natuur te maak, selfs al is dit hoe koud. ’n Noorweegse digter het die term vir die eerste keer in 1850 gebruik om te beskryf hoe buitelugtyd jou spirituele en geestelike welwees kan verbeter. Vandag is dit deel van Noorweegse kultuur en word vir enigiets van ’n buitelug stap tot tyd in die sauna na ’n see-swem gebruik. Dit gaan daaroor om vars lug in te asem, die eenvoud van die natuur te geniet en waardeer en stil te word.
11. Koester sosiale verbindings
Veral Kapenaars is skuldig daaraan om gedurende Winter by die huis te hiberneer en min te sosialiseer. Dit kan soms isolerend voel. Maak ’n punt daarvan om steeds vriende te sien. Al is dit vir klein afsprake soos ’n koffie.





