Die versoeking is beslis groot om jou alarm dood te druk en eerder te slaap as om in die donker op te staan om te oefen. Of saans as jy tuis kom, is dit dalk al reeds donker. Navorsing wys egter dat oefening gedurende die winter juis voordelig kan wees vir jou. Deur Suzanne Kotzé
Redes waarom jy moet volhard met winteroefening

1. Verbeterde uithouvermoë
Gedurende die winter kan die koue help om jou uithouvermoë ’n hupstoot te gee, aangesien jou hart nie so hard hoef te werk nie en jy minder warm kry en sweet. Saam help dit dat jy meer effektief kan oefen. Juis hierom kan dit dalk makliker wees om gedurende die winter fiks te word.
2. Wit vet verbrand
Navorsing wys ook dat deur te oefen in koue weer kan help om hardnekkige wit vet (soos die om jou maag en dye) te verander in die ‘gesonder’ bruin vet. (Hierdie is juis ook een van die voordele wat kouewaterswem het).
3. Verbrand meer energie (omdat ons liggame moet opwarm)
Nog ’n studie wys dat oefening in die buitelug gedurende die winter meer energie as gedurende ander tye van die jaar verbrand. Ons verbruik meer energie om ons liggame op te warm.
4. Meer endorfiene – beter luim
Dieselfde studie wys dat meer immuunligaampies vervaardig word gedurende oefening in die winter as in die somer. Dit help dat meer suurstof jou brein bereik, wat die funksie help verber en ook die hoeveelheid endorfiene (wat help beskerm teen die winter se ‘af’ gevoel) wat afgeskei word.
Winteroefening-noodsaaklikhede
WARM OP
Onthou om goed op te warm voordat jy begin oefen. Oorweeg ook kompressie-sokkies, veral as jy geneig is om kuitspiere te trek.
DRA LAE
Veral as jy buite oefen. Maak seker die lae kan ook gerieflik om jou lyf vasbind, wanneer jy uittrek en begin warm kry.
FLITSLIG
’n Flitsliggie om jou kop as jy buite in die donker oefen is ook ’n moet. Ons verkies ’n herlaaibare liggie sodat jy nie die heeltyd batterye hoef te koop nie (onthou net om dit te laai!).
LIGREFLEKTERENDE KLERE
Onthou ligreflekterende klere as jy naby verkeer oefen. Mens kry selfs ligreflekterende ‘scrunchies’.
WATERDIGTE BAADJIE
Veral as jy in die Wes-Kaap bly.
BUFF
Vir ekstra hitte, hetsy jy dit om jou ore dra of om jou kop.
BO-STUK MET GATE VIR JOU DUIME
Die tipe oefen-bostukke waar jy jou duim deur die mou kan steek, sodat die bokante van jou hande warm bly, werk goed. Handskoene word dikwels te warm.





