Ons almal ken die eindelose lysies oor wat om te pak vir jou en baba en selfs pappa, die tien stelle klere vir baba en daardie pragtige onderklere vir mamma. Hierdie lysie is anders – hierdie is die lysie wat jou as mamma gaan laat goed, rustig en weer soos haar ou self voel. Ons deel graag wat ons ingepak het vir die geboortes van ons kinders, hier is 10 moet-hê items vir jou hospitaal smuktassie. Plus hoe om die regte produkte vir baba te kies. Deur Justine Kroes en Suzanne Kotzé
Pak jou smuktassie: 10 moet hê items vir Mamma
1. Verwyderingslappies vir grimering
Opstaan is nie altyd moontlik nie (of dit is seer). Gebruik die lappies om jou gesig skoon te vee.
2. Watersproei
Daar is ’n magdom watersproeie op die mark; ons hou veral van die wat Franse fonteinwater gebruik. Dit laat jou vars voel, en help om uitdroging te keer. Pssst … daardie watersproei op baba se seer boudjies werk net so goed
3. Gekleurde lipsalf
Jou lippe voel gewoonlik ekstra droog in die hospitaal. Gekleurde lipsalf laat jou lippe gehidreer voel, maar gee ’n bietjie ekstra kleur aan jou gesig. Jy kan sommer ’n tikkie hiervan aan jou wange smeer as blosser.
4. Getinte bevogtiger
Om grimering aan te wend mag dalk heel onder aan jou lysie wees maar ’n BB-, CC-room of getinte bevogtiger gee naturlike dekking en laat jou vel glansend lyk.
5. Hidrerende gesigmasker
As jy eers begin borsvoed, kom jy agter hoe dors jy die heeltyd is. Jou vel is net so ‘dors’ en gedehidreerd. Die lugversorging in die hospitaal vererger dit. ’n Hidrerende gesigmasker (kies een waarmee jy sommer kan slaap) is wonderlik hiervoor.
6. Maskara
Maskara laat jou oë dadelik oop en wakker lyk; as jy nie maskara wil dra nie, kleur jou wimpers tuis voordat jy hospitaal toe gaan. Glo ons, jy gaan daardie eerste paar weke dankbaar wees vir gekleurde wimpers, wanneer jy nie tyd of lus het om grimering aan te sit nie.
7. Ongegeurde handeroom.
Onthou vermy swaar geparfumeerde produkte wat dalk jou baba se sensitiewe senustelsel oorweldig kan laat voel.
8. Jou haarborsel
Hou dit op jou bedkassie sodat jy dit vinnig kan raakvat as kuiergaste inloer. Wenk: draai ’n paar haarrekkies om die borsel se handvatsel dan hoef jy nie oral vir jou haarrekkies te soek nie. ’n Haar-scrunchie werk net so goed en die half-op half-af bolla-haarstyl is steeds ’n sjiek styl – selfs al dra jy dit by jou japon!
9. Droë sjampoe
Dit is wonderlik vir as jy nie wil (of kan) hare was nie en om jou haarwortels te verfris. Dit gee ook lekker volume op jou haarwortels. Jy kan selfs ’n haarserpie oor vuil hare dra of vir ekstra kleur dra as jy lus het.
10. Jou gunsteling lyf-olie of lyfroom
Smeer jou lyf met ’n gunsteling lyf-olie of lyfroom (pasop weer vir té geparfumeerde produkte) na jou eerste stort aan – dit sal jou dadelik weer soos jou ou self laat voel.
Kies so die regte produkte vir jou baba
Die boonste lagie van ’n pasgebore baba se vel (epidermis) is nog nie heeltemal vas aan die dieper dermis lagie van die vel nie en dus is ’n baba se epidermis drie tot vyf keer dunner as ’n volwassene se vel. ’n Baba se epidermale sperfunksie (wat vog binne jou vel hou en bakterieë uithou) werk nog nie behoorlik nie, en baba se vel is dun en delikaat. Omdat die sperfunksie nie so goed werk nie is dit baie belangrik om die heel sagste produkte op jou pasgebore baba te gebruik.
As jy die verkeerde produkte op jou baba se vel gebruik, kan dit veroorsaak dat hierdie reeds delikate sperfunksie van die vel verder negatief beinvloed word. Dit kan ook lei tot veltoestande soos atopiese dermatitis of ekseem.
Kies so die regte produkte:
- Kies so ver moontlik natuurlike produkte.
- Kies seepvrye produkte sonder enige parfuum, parabene, sulfate of kleursel (gewoonlik produkte wat baie skuim maak).
- Vermy anti-bakteriële produkte of ’n seep wat alkohol (etanol of etiel-alkohol) bevat.
- Vermy produkte wat die natuurlike olies van die baba se velletjie verwyder en kies produkte wat pH-neutraal is. Gebruik eerder die wat natuurlike olies soos groente olies bevat in plaas van produkte wat mineraalolies bevat.
- Kies produkte met natuurlike bestanddele en formulasies wat bevogtig soos seramiede en essensiële vetsure asook anti-inflammatoriese bestanddele byvoorbeeld vitamien B5.
Daarom is dit uiters belangrik om van geboorte af slegs die heel sagste produkte op babas se velletjies te gebruik om seker te maak die sperfunksie van die vel word nie gesteur nie.
Lees gerus ook hier: Die pH van baba se vel; het jy geweet dit is belangrik