Met ’n baba op die heup is mooilyk nie altyd maklik nie; hier is Simoné Pretorius se vinnige mooilyk-wenke. En dis handig (selfs al het jy dalk nie ’n baba op die heup nie). Deur Suzanne Kotzé
Simoné Pretorius se vinnige mooilyk-wenke
Met Simoné se dogterjie, Harper, wat nou maar agt maande is, moes sy vinnig leer om vinnig mooi te te lyk, met ’n goeie skoot realisme en nie ‘eksie-perfeksie instagram realiteit’ nie. Want deesdae voer Simoné Tiktok-danspassies uit, met Sophie the Giraffe in haar hand of ’n baba teen haar lyf vasgebind.
1. Wees genadig met jou lyf
Dit was aanvanklik ’n frustrasie om na Harper se geboorte gewoond te raak aan my postpartum-lyf. My eerste wenk is dalk meer psigies as fisies. Hoe vinniger jy vrede daarmee maak dat nie net jou lewe nie, maar jou liggaam ook ‘n hengse verandering ondergaan het, hoe vinniger kan jy weer soos (die “nuwe”) jouself voel.
Dit klink teenstrydig, maar die kopskuif was groot.
Hoe vinniger jy meer genadig is met jouself, hoe makliker is dit om in die oggende aan te trek.
2. Droë sjampoe, droë sjampoe, droë sjampoe
Geen ma behoort hiersonder te wees nie.
3. Bad saam met baba
Ek het die eerste paar maande elke aand saam met Harper gebad. Dit het verseker dat ek ook skoon bly en nie ’n gaatjie gedurende die dag hoef te vind vir bad of stort nie. As ek skoon gevoel het, het ek beter gevoel. Ek het ook elke oggend en aand my gesig gewas. Non negotiable.
4. Mom buns, mom buns, mom buns.
Daar is ’n rede hoekom dit so genoem word. Gelukkig is dit ook sommer in die mode.
5. Maskara en lippe
’n Bietjie maskara en ’n mooi lippie doen wonders vir die siel.