Sommige vroue kry jonk reeds grys hare, terwyl ander later (of dalk nooit) grys word nie. Moeg gekleur? Dink jy daaraan om jou grys te wys? Hier is raad. Deur Suzanne Kotzé
02/09/2002
Volgens bekende trikoloog dr John Gray, hang die ouderdom waarop jy begin grys word van jou genetika af, maar oor die algemeen is die helfte van Kaukasiese mense se hare halfgrys teen die ouderdom van 50. Danksy genetika word sommige mense (soos Justine se ouma, haar ma en dalk syself) nooit grys nie, terwyl ander van ons lank vóór die ouderdom van 50 reeds vêr meer as halfpad grys is.
Charles Junior Louw se raad om jou grys hare te wys
Hier is van die vrae wat Kaapse haarkapper, Charles Junior Louw, gereeld hoor.
Moet jy die proses aanhelp en jou hare stelselmatig grys kleur of dit eensklaps doen?
“Baie haarkappers stel voor ’n mens doen dit oor tyd, maar ek dink dis baie meer skadelik oor die langtermyn om oor en oor bleikstrepies oor dieselfde hare in te sit.”
As jou finansies dit toelaat, gaan sien die beste professionele haarstilis en doen dit ordentlik. Wees gewaarsku, dit is ’n duur proses!
As jy wel meer stelselmatig wil verander, begin eers deur die kleurmolekules uit die hare te haal vóór enige bleikproses.



Hoe keer ek dat my grys hare geel word?
’n Professionele pers sjampoe (soos Inoar Speed Blonde) is ’n moet. Jou haarstilis sal ook vir jou kan raad gee hoe om hierdie tipe produkte te gebruik. Verskillende tipe’s grys moet die produk byvoorbeeld vir verskillende tye oplos. Vir my een kliënt (met die pienk) hemp beveel ek byvoorbeeld aan dat sy een keer per week die sjampoe vir 20 minute aanlos en slegs twee minute op haar kuif (wat gebleik is en sal pers raak as sy dit vir 20 minute lank oplos).
Karen Botha van Inoar Professional sê ook: “Onthou grys hare is eintlik maar dooie hare en ekstra vog en voeding is ’n moet.”
Grys hare lyk ook growwer, want die olie-kliere op jou kopvel produseer minder sebum wat dikker, growwer hare tot gevolg het.
Blonde, wit en grys hare is ook meer geneig om te oksideer en geel of oranje te lyk. Dit is belangrik om pers sjampoe te gebruik om dit te voorkom. ’n Droë olie werk ook goed om daardie wegvlieghaartjies (wat net nie wil plat lê nie) te tem en te voed.
Inoar Speedblond Shampoo en Absolut DayMoist masker is ’n baie gewild onder ons kliënte met grys hare.”

Wat as jy die natuurlike pad verkies?
Oorweeg wortelsproei (te koop by Clicks en Dis-Chem) en spuit dit op jou hare, en veral die punte, om jou grys weg te steek, terwyl dit uitgroei. Dit werk soos ’n bom!


’n Ander opsie is om jou hare kort te sny (sodat jy die meeste van jou gekleurde hare afsny) in ’n moderne pixiesnit en jou hare lyk dadelik stylvol.
Loer gerus hier vir inspirasie: Die koelste inspirasie vir pixie-haarstyle
Sal grys hare my laat oud lyk?
Nie as jy seker maak die kleur lyk sag, en nie hard nie. Menige van my alreeds grys kliënte kom in en ek dan vlek ek die hare met ’n direkte kleurstof wat nie die horinghuid van die haar sal penetreer nie. Dit laat die kleur heeltemal uitwas.
Die groot geheim is om sag te lyk met jou grys kleur. Grimering is ook ’n wondermiddel om die hare te komplementeer.
Gaan grys hare by my pas?
Hierdie is die groot vraag wat ek gereeld kry. Velkleur speel ’n groot rol. Iemand met ’n olyfkleurige vel of geel ondertoon is ’n goeie kandidaat vir grys hare. As jou veltoon rooi is, mag die grys hare jou vel op die verkeerde manier komplementeer en die ongewensde gelaatskleur of rooiheid en merkies beklemtoon.
Maar wat jy moet weet is: op die ou end is grys vir ’n vrou wat gereed is en nie skaam is om met haar ouderdom te spog nie.
Louise Parker Ross van Loving the Look, Babe oor haar grys hare

Lou (of Loving the look Babe soos baie van ons haar ken) vertel dat sy reeds in haar middel twintigs begin grys word het. “Ek het aansienlik meer grys begin word op so 34, en ek is nou 38 jaar oud,” vertel sy.
“Ek het nooit my hare gekleur nie, want ek het uit my ma se foute geleer. Dit het haar jare geneem om die haarlyn van kleur uit te groei.
Die grys hare laat my so bietjie soos Cruella de Ville voel (sonder die hondjiemoorde).
“Dit laat my ook vreemd sexy voel, met ’n tikkie wysheid, al is ek eintlik baie jonk van gees. “
Lou se mode en grimeerraad vir vroue met grys hare
Rooi lipstiffie saam met grys hare lyk altyd glansryk.
Die res hang werklik van jou persoonlikheid af en hoe jy jouself wil uitdruk.
Is jy ’n ‘kleur-mens’? Hou ’n gekleurde kledingstuk teen jou gesig en kyk na jou reaksie. Jy sal intuïtief weet wat lyk goed by jou. Vra jouself af: ‘laat die kleur my POP?’
Foto: Cass Collett
Zarine Pretorius

Hare deur Charles Junior Louw
Zarine (nou 41) het so middel dertigs begin grys word en kleur nou, vandat sy meer grys wil lyk, haar hare meer as ooit van te vore. “Vandat ek begin grys word het ek net niks daaraan gedoen nie. Ek het ’n paar vroue met grys hare gesien wat vir my so mooi gelyk het, dat ek net my hare ook wou los. Aan die begin van 2022 het ek egter besluit dat ek nou moeg gewag is en ek (en Junior) het besluit om my hare grys te kleur.”
Zarine se raad vir grys hare.
Om grys te wees is nie vir almal nie.
Sien ’n kenner wat vir jou sal kan sê of dit by jou sal pas of nie.
Onthou hare groei weer, so neem die kans en probeer. (Zarine is juis tans blond, al het sy baie van haar grys hare gehoud)
Danielle Weakly, oor haar grys hare

Ons het onlangs vir Danielle Weakley, redakteur van Modern Beauty & Wellness raakgeloop en kon nie ophou kyk na hoe mooi haar grys uitgroei nie.
“Ek is mal daaroor,” het sy al laggend vertel. “Die enigste probleem is dat toe ek nie wou grys hare hê nie, het dit gevoel of ek al hoe vinniger grys word. Noudat ek graag heeltemal grys wil wees, voel dit asof my hare so stadig grys word!”