Droë lippe? Só kry jy hulle weer sag en glad

Droë, skilferende of gebarste lippe is een van daardie klein skoonheid-irritasies wat vinnig baie ongemaklik kan raak. Koue of droë weer, wind, son, dehidrasie, liplek en selfs sekere lipprodukte kan alles ’n rol speel.

Die goeie nuus? Jou lippe het nie ’n ingewikkelde roetine nodig nie. Die fokus moet wees op sagte versorging, vog en beskerming. Hier volg ’n maklike lipsorgroetine, wenke en produkte om te probeer. Deur Justine Kroes

Waarom word my lippe so vinnig droog?

Die vel op jou lippe is dunner as die vel op jou gesig en het nie dieselfde oliekliere nie. Dunner vel beteken jou lippe verloor makliker vog. Omgewingsfaktore soos son, wind, koue, droë lug en selfs net die gewoonte om jou lippe te lek, kan jou lippe verder uitdroog.

Vermy die gewoonte van lippe lek: Daardie “ek lek net vinnig my lippe nat”-gewoonte kan die probleem van droë  lippe vererger. Speeksel op jou lippe verdamp vinnig en laat jou lippe selfs nóg droër voel.

Stap 1: Bevogtig

Wanneer jou lippe droog en trekkerig voel, beteken dit jou lippe is gedehidreer en kan nie vog effektief behou nie. Om hierdie probleem aan te spreek is bevogtiger die eerste beskermende stap na herstel.

Gebruik ’n eenvoudige geurvrye balsem en smeer dit gereeld deur die loop van die dag aan. Vir dieper hidrasie kies bestanddele wat velselle op dieper lae kan binnedring en hidreer. Bestanddele soos seramides, galambotter, hialuroonsuur, dimethicone, mineraalolie en kasterolie kan help om die lippe te versag en vogverlies te beperk.

Stap 2: Beskerm

Moenie van ’n sonberskermingsfaktor vir jou lippe vergeet nie. Gebruik ’n lipbalsem met SBF 30 of hoër wanneer jy buite is en smeer dit gereeld weer aan. Lippe kan ook sonbrand en sonskade opdoen.

Moenie jou lippe lek, byt of die velletjies aftrek nie. Dit kan die irritasie vererger en die genesingsproses vertraag.

Wees ook versigtig met produkte wat brand, steek of te sterk tintel.

Wanneer jou lippe reeds gekraak is, vermy ook liefs enige produkte wat menthol, kamfer, kruisement, of salisielsuur bevat om enige irritasie te vermy.

Stap 3: Skilfer af

’n Sagte afskilferaar op lippe kan help om enige droë en skilfervelletjies te verwyder. Dit sal help om lippe gladder te laat voel en boonop help dat jou produkte jou lippe meer effektief kan hidreer.

Gunsteling bonus van ’n lipafskilferaar? Dit laat jou lippe syglad en laat dit jou toe om jou gunsteling lipstiffie skakering foutloos aan te wend.  

Onthou, moet nie ’n lipafskilferaar gebruik op gebarste, gekraakte of baie sensitiewe lippe nie om enige ekstra irritasie te vermy.

Wenke oor hoe om jou lipafskilferaar te gebruik:

Kies ’n sagte formule wat fyn afskilfer.

Werk sagkens en gebruik min wrywing.

Moet dit nie daagliks gebruik nie. Twee tot drie keer per week is genoeg.

Volg altyd met ’n hidrerende lipbalsem of oornag lipmasker.

Stap 4: Ekstra hidrasie

’n Lipmasker is ’n meer intensiewe weergawe van jou gewone lipbalsem en word meestal oornag gebruik.

Dit is ryker in tekstuur en ontwerp om langer op die lippe aan te bly. Juis hierom is ’n oornag aanbly lipmasker ideaal vir wanneer jou lippe droog of gedehidreerd voel.

Vir ’n eenvoudige doen-dit-self weergawe kan jy voor slaaptyd ’n ryk, geurvrye balsem in ’n dik laag aanwend. Dit help om vog te behou en jou lippe se sperfunksie te herstel.

Lip-olies, waar pas dit in?

Lip-olies is ’n lieflike hidrerende opsie wat nie net glans aan jou lippe gee nie, maar boonop lippe hidreer en heelwat sagter laat.  

Onthou as jou lippe baie droog is, sal ’n dikker balsem of salf beter werk as ’n lip-olie om vogverlies te beperk. Jy kan wel jou lip-olie onder ’n balsem gebruik as jy van die ekstra glans en sagte gevoel hou.

Wanneer om hulp te kry

Droë lippe behoort gewoonlik binne twee tot drie weke met goeie versorging te verbeter. Indien jou lippe aanhoudend droog, gekraak, vol velletjies en seer bly, of nie verbeter nie, is dit ’n goeie idee om jou dokter of dermatoloog te raadpleeg.

Aanhoudende lip-probleme kan soms deur allergieë, infeksies of ander veltoestande veroorsaak of vererger word.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Dit hoort in jou elkedag-oral-saamgaan grimeersakkie
error: Content is protected !!