Ons oë doen deesdae die praatwerk; so gebruik hierdie wimperwenke om jou oë te beklemtoon en groter en oper te laat lyk. Drie grimeerkunstenaars verklap ook wat hulle gunsteling maskara is om te gebruik. Deur Suzanne Kotzé
Wimperwenke om jou wimpers voller te laat lyk
Nee dit is nie jou verbeelding nie; jou eers welige wimpers word dunner soos die tyd aanstap. Hormone, vitamientekorte, oë wat (vir jare) gevryf word en slegte grimeerverwyderingsgewoontes speel ’n rol.
- Wimpervoorbereiders (primers) voed jou wimpers en laat hulle terselfdertyd langer en dikker lyk. Wend dit aan voordat jy jou maskara aanwend.
- Ons het lank gelede hierdie truuk by grimeerkunstenaar Rose Bruins geleer: “Tik deursigtige gesigpoeier met ’n groot poeierkwas oor jou ooglede, wimpers en onder die oë aan. Dit voorkom dat jou maskara maklik smeer en die poeier op jou wimpers laat die wimpers voller lyk.”
- Wimperserum help die groei van jou wimpers aan. Gebruik dit saans op skoon oë en wimpers. Die truuk is egter dat jy dit gereeld moet aanwend. Dit help nie jy wend dit een aand aan en vergeet weer die volgende dag nie.


Wat van wimperverlengins en vals wimpers?
- Wimperverlengings word aan jou eie wimpers geheg. Dit lyk fantasies en jy het nie regtig maskara nodig nie, maar jy moet dit omtrent elke twee weke laat opknap. Dit is ’n tydsame proses en nie goedkoop nie, maar die moeite werd as wimpers jou ding is. Jy lyk dadelik of jy grimering aanhet; so dit spaar beslis tyd. As jy egter graag ooggrimering dra, is hierdie dalk nie vir jou nie. Ek speel graag rond met verskillende oogskadu’s en het gevind dat ek elke keer as ek my ooggrimering verwyder, ek ook ’n paar van die verlengings verloor.
- Vals wimpers is ’n goedkoper opsie as wimperverlengings en na ’n paar keer se aanwend word dit al hoe makliker. Justine wend weekliks vir haarself vals wimpers aan en sê: “
Vals wimpers is nie net baie goedkoper nie, maar dit voel ook sagter en ek hoef nie ure by ’n salon deur te bring nie.
- As ’n wimper afval, kan jy ook net dadelik ’n nuwe een self aanplak. My wenk is: oefen, oefen, oefen! Aan die begin het my wimpers maar deurmekaar gelyk, maar met tyd en oefening het dit na elke aanwending al hoe makliker geword.
- Justine se gunsteling vals wimpers is van Clicks, Essence en Eylure
Wimperwenke: maskara
Maskara wat reg aangewend is, laat ons oë oper en groter vertoon.

- Wikkel jou maskaraborseltjie so na as moontlik aan jou ooglid in. Baie vroue wend maskara slegs aan die buitenste helfte en punte aan. Dit veroorsaak dat die punte van jou wimpers swaar raak en hang.
- Wend maskara ook aan die onderkant van jou boonste wimpers aan; as jy dit net bo aanwend kan dit jou wimpers swaar maak en laat hang.
- Kyk af na en in die spieël wanneer jy maskara aanwend, so kom jy beter by die wortels by en krul jou wimpers ook beter.
- Begin in die binnehoeke van jou oog en werk uitwaarts, so skep jy ’n waaier-effek.
- Wend ’n paar ekstra lagies aan die buitehoeke van jou wimpers aan, dit laat jou oë oper vertoon.
- Om seker te maak dat daar nie klonte vorm nie, wag so 2-3 sekondes tussen lae.
- Gebruik ’n waterdigte maskara as jy ’n olierige vel of ooglede het, want dit voorkom dat die maskara maklik smeer.
- As jy waterdigte maskara gebruik, kies ‘n grimeerverwyderaar wat olie bevat. Dit haal dit die beste af.
- Gebruik maskara met ’n kleiner borseltjie as jy baie kort wimpers het.
- As jou maskara gesmeer het, maak dit so vinnig moontlik skoon, want as dit eers droog is, is dit moeiliker om te verwyder. Gebruik ’n oorstokkie wat in ooggrimeringverwyderaar gedoop is om maskarasmeersels onder jou oë te verwyder.
- Gebruik ’n wimperkruller slegs op skoon wimpers. Kyk af, plaas jou wimpers tussen die twee tangetjies, lig jou arm op en druk vir so 10 sekondes af.
- As jy nie ’n wimperkruller het nie, gebruik jou vingers en druk jou wimpers opwaarts terwyl jou maskara droog word.
Gebruik jou tyd wanneer jy maskara aanwend, dis die moeite werd en is naas onderlaag die grimeerproduk wat die grootste verskil maak.
Grimeerkunstenaars se gunsteling maskaras
Merle Titus

Ek hou van die hele Essence Lash Princess reeks. Dit is wonderlik vir volume of om natuurlike wimpers langer te laat lyk.

Wet n Wild Mega Length Mascara Very Black (R92,95) het ’n dun borseltjie en is wonderlik vir vroue met min of dun wimpers.
Algria Ferreira
My heel gunsteling maskara is altyd altyd Nars Climax Mascara (ongelukkig nie in Suid-Afrika beskikbaar nie). Volgens my is dit die enigste maskara wat nie wimpers hard en breekbaar maak nie.

Sensai 38°C Mascara (R645) is nog ’n gunsteling. Dit vorm ’n tipe buisie rondom elke wimper wat nie sommer afkom nie, want dit is waterdig. Dit kom slegs af in warm water (van 38˚).
Cheryl Parker

Essense I Love Extreme Volume Proof Mascara R75,95
Hierdie is ’n winner as ek op foto-sessies is waar die modelle sportief en effens ‘sweterig’ moet lyk. Dit kom nie af of smeer nie, selfs as ek die modelle se gesigte met water moet sproei.

Bionike Defence Color Volume Mascara (R155, Dischem)
Ek gebruik graag hierdie maskara op my bruide. Dit smeer nie en is waterdig is nie te ‘nat’ nie. Dit gee ook goeie volume, krul die wimpers en gee lengte.

MAC Haughty & Naughte Lash Mascara (R355) bly een van my gunsteling maskaras. Dit kom met twee borseltjies; een wat volume gee (die groter borseltjie) en die ander gee definisie. Ek gebruik die groot borseltjie op die boonste wimpers en die klein een op die onderste wimpers. Hierdie maskara is donkerbruin. Dit is ook in ’n swart, waterdigte weergawe beskikbaar wat ek ook graag gebruik.
Watter maskara gebruik ons op die oomblik?
Suzanne

Elizabeth Arden Grand Entrance Mascara in Stunning Black (R340). Die gekurfde, fyn borseltjie maak aanwending baie maklik. Dit vorm my wimpers mooi en laat dit beslis langer lyk. Dit lyk ook nie te dramaties vir elkedag se dra nie.

Benefit Roller Lash Curling Mascara (R460, Edgars) wend maklik aan. Dit laat my wimpers mooi opkrul en lig dit. Dit is waterdig, so dit smeer nie. Dit bevat ook bestanddele wat my wimpers beskerm. Dit is ook in ‘n kleiner grootte beskikbaar (R240) vir as jy dit dalk eers wil toets.
Justine

Ek het onlangs Essence se Lash Princess Sculpted Volume Mascara (R81,95) probeer, die een met die kurwe in die borseltjie. Dit maak net so baie sin, ’n mens se wimpers is mos nie reguit nie? Die kurwe maak aanwending net ’n plesier!

My heel gunsteling maskara waarna ek altyd terugkeer is Maybelline se Collosal Extra Volume Mascara (R99,95 Clicks). Die borseltjie werk lekker op my boonste en onderste wimpers, dit smeer nie maklik af nie, maar is maklik genoeg om saans te verwyder.
Lees ook: Lyk jonger met hierdie 10 grimeertruuks