10 grimeer-truuks vir ’n jonger voorkoms; bekende grimeerkunstenaar Cheryl Parker gee raad. Sy deel haar 5 moet-hê produkte vir ouer vroue plus 5 grimeerfoute wat sy vroue gereeld sien maak. Lyk jonger, volg die raad: Deur Justine Kroes. Foto Shutterstock
10 grimeer-truuks vir ’n jeugdiger voorkoms:
Cheryl Parker se top grimeer-truuks:
- Hidreer jou vel reg om seker te maak fyn lyne en plooie word opgeplomp vir ’n gladder gelaat
- . Skilfer af! Dit voorkom daardie ongewenste dowwe vel-voorkoms en laat jou gesigprodukte jou vel beter binnedring.
- Jy moet ’n serum by jou velsorgroetine byvoeg, bevogtiger alleen kan nie die vel al die nodige voedingstowwe gee nie.
- Bring jou jeugdige glans terug deur ’n druppel verhelderaar-room (illuminating cream) by jou onderlaag te voeg, of wend dit aan ná jou bevogtiger en sonskerm.
- Verruil jou poeierblosser vir ’n roomblosser, dit lyk dadelik meer jeugdig en sal ’n mooi glansende effek op die vel skep. Wend jou roomblosser met jou vingerpunte aan die appels van jou wange aan en vryf in totdat dit natuurlik lyk.
- Verruil jou mat onderlaag vir ’n getinte bevogtiger wat nie net jou vel sal beskerm nie maar ook jou vel meer glansend laat lyk.
- Gebruik jou verbloemer aan die buitenste hoeke van jou oë om daardie moeë oë te lig.
- Definieer jou wenkbroue met veeragtige-hale. Om jou wenkbroue in te vul is ’n natuurlike ‘face lift’. Moet nooit jou wenkbroue inkleur nie, dit lyk onnatuurlik en ‘hard’, is Cheryl se raad.
- Wend ’n room-verhelderaar aan jou wangbene, wenkbroubeen en die kupidoboog net bo jou lip en poets dit uit met ’n donsige kwas om enige harde lyne te vermy.
- Verruil jou lipomlyner vir ’n lipvlek of getinte lipsalf, dit lyk meer natuurlik teenoor die harde lyne wat die lipomlyner skep.
5 Moet-hê grimeerprodukte vir ouer vroue
Cheryl stel die volgende voor vir jou smuktassie:
- Hialuriensuur serum dit werk soos ’n GROOT sluk water vir die vel. Dit kom natuurlik in ons vel voor en klou van aan vog om die voorkoms van fyn lyntjies en plooie te verminder deur die vel letterlik op te plomp.
2. ’n Roomblosser (’n roosskakering) lyk die beste op die meeste veltone.
3. Room-verhelderaar dieselfde skakering as jou vel.
4. Wenkbroupotlood (nie swart nie).
5. ’n Verhelderaar-room om by jou onderlaag te meng, veral as jou onderlaag ’n mat-effek gee.
5 Grootste foute wat ouer vroue maak met hul grimering.
“Die maklikste manier om jonger te lyk is om meer vel te wys, moet nie te veel onderlaag gebruik nie”
Cheryl Parker
1. Die vel is te mat en poeier is sigbaar in fyn lyne. Gebruik poeier net op die voorkop, langs die neus en op die ken.
2. Vel wat heeltemal toegesmeer is onder onderlaag lyk dof. Wend eerder ’n ligte lagie onderlaag aan en gebruik dan ’n verbloemer om enige merkies of probleemareas te verbloem.
3. Lippe met duidelike lyne rondom – gebruik eerder ’n rooskleurige potlood en wend ’n lipsalf wat effense glans skep bo-oor aan.
4. Verhelderaar is te duidelik aangewend (te oud, te blink of te silwer). Jou verhelderaar moet ’n satyn tekstuur op jou vel skep, nie ’n kleur nie.
5. Wenkbroue wat te donker ingekleur of geteken is. Jou potlood- (of poeier-)skakering moet met jou natuurlike haarkleur ooreenstem. Waneer jy jou wenkbroue vul, eerder as om hard te teken of in te kleur, gebruik liewer ligte veerhale sodat dit meer soos haartjies lyk.