Welwees potgooie; voorstelle vir jou luisterbiblioteek

Hier is 8 gewilde en lekkerluister welwees potgooi (podcast) voorstelle, van gesondheid en geestesgesondheid tot verhoudings, selfverbetering en ouerskap, hier’s beslis ’n potgooi vir elkeen. Indien jy, of iemand wat jy ken, graag podcasts luister, deel gerus hierdie lysie welwees potgooie vir hul luisterbiblioteek. Deur Justine Kroes

28/03/2025

Gesondheid en welwees

Huberman Lab

Die Huberman Lab potgooi word aangebied deur Dr Andrew Huberman, ’n neurowetenskaplike en ’n professor in die departement van neurobiologie by die Stanford University of Medicine in Amerika.

 Huberman weet net hoe om moeilike konsepte en informasie te omskryf sodat jy dit makliker kan verstaan en begryp. Sy gaste is ook gesiene kenners op elk van hul gebiede en hoewel die gesprekke partykeer taamlik medies en tegnies kan raak, bring Andrew Huberman die gesprek altyd vinnig terug na ’n punt toe.

Die potgooi volg die tema van gesondheid deur verskillende aspekte van die brein (en liggaam) te bespreek en hoe dit ons persepsies, gedrag en gesondheid beheer. Onderwerpe wat bespreek word, volg gesprekke en meer spesifiek die navorsing en bevindings rondom slaap, oefening, gesondheid en geestesgesondheid.

Sy potgooi is onder die top 25 podcasts wêreldwyd en is gereeld nommer een in die gesondheidskategorie. Huberman gesels oor ’n verskeidenheid gewilde onderwerpe, vanaf slaap, die voordele van ligblootstelling en kouewaterterapie tot die wetenskaplike nadele van alkohol asook hoe om prakties jou eie geluk te kweek. Om ’n idee te gee, hier is van Huberman Lab se gewildste episodes wat die meeste geluister is, (om maar ’n paar te noem):

Dr. Matt Walker: The Science and Practice of Perfecting Your Sleep

Rick Rubin: Protocols to Access Creative Energy and Process

Science-Based Tools for Increasing Happiness

What Alcohol Does to Your Body, Brain & Health

… om maar ‘n paar te noem.

Luister na The Huberman Lab op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Calm Clear & Helpful

Mariette Snyman is ’n Stylvol vriendin en oudkollega van Suzanne en Justine, sy is ook daarby ’n bekende joernalis wat talle verskillende welweesonderwerpe ondersoek en passievol daaroor skryf.

Mariette het ook haar eie webwerf en gesels op haar eie potgooi Calm, Clear & Helpful.

Die Calm, Clear & Helpful potgooi – As angs, hartseer, chroniese pyn of ander probleme jou wakker hou, dan is die Calm, Clear & Helpful potgooi vir jou. Die immer nuuskierige joernalis Mariette Snyman speel gasvrou en nooi gereeld ’n hele klompie kenners op hierdie potgooi; onderwerpe sluit holitistiese gesondheid, liefde, verhoudings, ouerskap en die verskillende uitdagings wat elke lewensfase bring, in.

Sommige van die episodes is in Afrikaans beskikbaar.

Luister na Calm, Clear & Helpful op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Self-help/ self-verbetering

The Mel Robbins Podcast

Dis g’n geheim dat Mel Robbins ’n gunsteling hier by Stylvol is nie. Mel se hulpvaardige navorsingsgesteunde advies het al duisende se lewens verryk en verbeter.

Mel bied handige wenke wat deur navorsing ondersteun word, daarby ook persoonlike maniere waarop Mel self moeilike situasies of probleme opgelos en oorwin het.

Baie episodes sluit bekende kenners in en Mel se praatstyl is maklik om na te luister en te volg. Elke episode bemagtig jou om eienaarskap van jou lewe te neem, en daardie lewe vir jouself te skep wat jy graag wil hê.

Luister na The Mel Robbins Podcast op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Lees ook: Waaroor gaan Mel Robbins se The Let Them Theory?

Geestesgesondheid

On Purpose with Jay Shetty

Jay Shetty word beskryf as die gasheer van die nommer een geestegesondheidspotgooi in die wêreld. Shetty het 5 jaar gelede die potgooi begin om gesprekke te deel wat mense gelukkiger en gesonder laat.

Jay glo dat wanneer jy as mens “gesien” en “gehoor” voel, dan sal jy met meer gemak en genade moeilike situasies kan aanpak. Shetty word daaraan geken om moeilike idees in maklike, meer verstaanbare boodskappe te omskryf. Die potgooi volg temas en gesprekke rondom liefde, jou lewensdoel, asook hoe om meer bewustelik te leef en dieper konneksies met ander te kweek.

Die doel van die potgooi volgens Jay is om luisteraars te bemagtig om gesonder, gelukkige en self-vervulde lewens te leef met behulp van die strategieë en wyshede wat Jay deel.

Jay gesels graag met ’n reeks gaste vanaf Hollywood bekendes tot kenners, en denkleiers wêreldwyd (thought leaders) wat natuurlik voorsiening maak vir ’n wye verskeidenheid van perspektiewe en insigte.

Luister na “On Purpose with Jay Shetty” op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Verhoudings:

Unlocking Us by Brené Brown

Verhoudingskenner, outeur en professor Dr Brené Brown se “Unlocking Us” potgooi se doel is om ’n dieper deel van jou menswees te vind sodat jy met meer hart, meer liefde en meer moed kan lewe.  Brené word veral geken aan die jare se navorsing aan “vulnerability” kwetsbaarheid en hoe ons as mense meer oop, eerlik en vulnerable met mekaar behoort te wees.

Haar boodskap is eenvoudig “om ware konneksies met ander te deel moet ons bereid wees om al ons onvolmaakthede ten volle aan mekaar bloot te stel. Sodat ons in mekaar se vreugdes maar ook hartseer kan deel.

Brené sê “Ek het die afgelope 20 jaar spandeer om emosies en ervarings te bestudeer wat betekenis aan ons verhoudings gee, en een aspek hiervan is duidelik, ons is gemaak om konneksies met ander te deel.”

“Ek wil graag hê dat hierdie potgooi ’n gesprek deel wat eerlik en onafgewerk is, een wat die ware lewe weerspieël, die magic maar ook die messy. Die idee is om gesprekke met ander te deel wat moeilik, ongemaklik maar ook inspirerend is. Om te bewys dat ons nie die lewe alleen behoort te doen nie, want dit is nie hoe ons geskape is nie”.

Luister na “Unlocking Us” op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Loopbaan en kommunikasie:

The Jefferson Fisher Podcast

Jefferson Fisher, ’n praktiserende prokureur en kommunikasiespesialis, deel handige raad om beter te kommunikeer, nie net in verhoudings nie, maar ook in die werksplek veral met moeilike mense.

Jefferson het byna oornag op Instagram gewild geraak waar hy “sommer net so” in sy kar tussen hofsessies ’n paar handige kommunikasiewenke deel; volg vir Jefferson op Instagram hier

Jefferson se potgooi fokus op hoe om beter te kommunikeer, episode na episode is propvol handige en haalbare strategieë wat jy kan implementeer om verhoudings te verbeter, hoe om moeilike gesprekke te hê asook hoe om suksesvol met moelike mense te kommunikeer.

Jefferson se kort en kragtige potgooi episodes (tussen 13 en 20 minute lank) is ’n maklike luister tussendeur kinders op en aflaai of selfs terwyl jy met jou oorfone in by die naelsalon sit.

Hier is van sy gunsteling episodes:

“How to handle people who dominate conversations”

“How to never struggle with small talk”

“What to say when someone belittles you”

Luister na The Jefferson Fisher Podcast op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Ouerskap:

Good Inside with Dr. Becky

In hierdie weeklikse potgooi, aangebied deur kliniese sielkundige en ma van drie Dr Becky Kennedy – word moeilike ouerskapsvrae beantwoord en bespreek. Dr Becky deel uitvoerbare leiding in kort episodes, want as ouers, weet ons tyd is min.

Jy het heel moontlik al van Dr Becky se kort (en kragtige) videos op Instagram gesien, en jy herken heel moontlik haar stem. Volg vir Dr Becky hier.

Haar deurbraakbenadering van hoe om meer gemaklik met die ongemaklike te raak, het  duisende ouers bemagtig om die altyd die “good inside”, die goeie binne jou raak te sien.

Hierdie potgooi bied gereedskap, raad en wenke oor hoe om jou outoriteit as ouer uit te oefen deur steeds ’n sterk band tussen jou en jou kind/ers te vorm. Dit stel jou in staat om die ouer te word wie jy graag wil wees en kweek daarby ook die vaardighede wat nodig is vir lewensukses in jou kind se eie lewe.

Luister na Good Inside with Dr. Becky op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

’n Ma & ’n Mikrofoon

Aangebied deur bekende nuusleser Daniella van Heerden (wat self ’n Ma van twee is) is ’n podcast wat die wêreld van die moderne Afrikaanse Ma weerspieel. Daniella voer openhartige gesprekke met kenners en spesiale gaste.

Die fokus is nie alleen op babas en kleuters se gesondheid nie maar ook Ma’s se emosionele welstand. Van lekker saam lag met ander Ma’s tot meer ernstige onderwerpe soos nageboortedepressie, tantrums en boelies. Daar kuier ook gereeld bekende Ma’s by Daniella in die ateljee om hul stories te deel.

Luister na ’n Ma & ’n Mikrofoon op Spotify hier, of Apple podcasts hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Instant Pot Pro
Heerlike hoenderkerrie in ’n japtrap met die Instant Pot Pro
error: Content is protected !!