Nadat Mel Robbins haar The Let Them Theory op TikTok gedeel het, het miljoene mense dit gekyk en selfs ‘let them’ op hulself laat tatoeër het. Na 11 probeerslae het The Let Them Theory boek die lig gesien en mense glo dit het hul lewe verander. Waaroor gaan die bohaai en hoe kan dit jou help? Deur Suzanne Kotzé
Mel Robbins

Mel Robbins is alles behalwe nog ’n prekerige motiveringspreker en skrywer wat voorgee dat haar lewe perfek is. In haar boeke (The 5-Second Rule, Take Control of Your Life en The Let Them Theory) deel sy eerlik oor alles van haar eie struikelinge (onder andere ’n drankprobleem en bankrotskap) tot hoe sy self gesukkel het om situasies en mense rondom haar wil beheer (The Let Them Theory). Dit is juis haar eerlike deel (oor alles van vriendskappe tot huwelike, familie, alleen voel) wat jou laat voel jy kan jou vereenselwig met ’n situasie. Dit is juis haar eie ondervinding met haar familie wat die inspirasie hieragter agter The Let Them Theory was. Haar raad is prakties en doenbaar, gestaaf deur wetenskaplike kenners en navorsers wat sy in leketaal vir ons omskryf.
Kyk na Mel se eerste TikTok oor Let Them wat sy in 2023 gedeel het (en meer as 11 miljoen keer gekyk is). Klik hier om te kyk

Hoe Let them ons gehelp het
Ek vind selfhelpboeke gewoonlik moeilik om te lees, maar ek kon nie ophou luister (op Audible) na díé een nie. Dit het my opgewonde gemaak oor al die ekstra energie wat ek nou gaan hê as ek op my eie aksies fokus eerder as om die heeltyd ander mense te wil help (op ’n manier wat vir my reg is en nie noodwendig vir hulle nie). Dit het my ook insig gegee in my eie verhoudings met vriende en familie en my laat dink oor hoe die regte manier is om mense te ondersteun, maar ook meer op myself en my eie geluk te fokus,” Suzanne
“Let Them” is ‘n kragtige beginsel, maar dit is nie passief nie, want jy moet steeds die “Let You” gedeelte ook toepas vir die teorie om eintlik te werk. Ek voel sommer reeds ligter en dra nie swaar aan my verwagtinge van ander mense of ander mense se verwagtinge van my nie.” Justine
Waaroor gaan The Let Them teorie?
Kortliks gestel: hou op om soveel tyd te spandeer om situasies en ander mense se optrede te probeer beheer, want dit is onmoontlik. Laat hulle doen wat en hoe hulle wil (Let them). Die enigste iets wat jy kan beheer is jou eie optrede. (Let me). En dit is waarop jy jou energie en aandag moet fokus.
Hierdie is wat vir my uitgestaan van The Let Them teorie
Om te wil beheer is natuurlik en laat jou gemaklik en veilig voel.
Dit is natuurlik om mense en omstandighede te wil beheer, want dit laat jou veilig en gemaklik voel. Dit kom van ’n plek van vrees.
Om ander mense te probeer beheer is ’n vermorsing van jou tyd en energie
Hou op om almal rondom jou te probeer beheer. Jy vermors soveel energie om die heeltyd bekommerd te wees oor wat ander mense doen of nie doen nie.
Die enigste mens wat jy kan beheer is jouself
Jou gevoelens, jou aksies en reaksie.
Jy kan nie ander mense se gevoelens en verwagtinge van jou beheer nie.
Dit is onmoontlik is om iemand anders se gedagtes te beheer. Daarom is dit ’n totale mors van jou tyd om te vrees wat ander mense dink, of om hul gedagtes te probeer beheer. Jy sal nooit in beheer voel van jou lewe, jou gevoelens, jou gedagtes of jou optrede, as dit is waaroor jy bekommerd is nie. Gebruik eerder jou energie vir iets wat jy kan beheer, want ander mense se verwagtinge en gevoelens teenoor jou is nie iets wat jy kan beheer nie.
Let them kan nie werk sonder let me nie
Die Let them teorie werk slegs as jy altwee dele gebruik. As jy sê let them neem jy ’n besluit dat ander mense se aksies jou nie gaan pla nie. Wanneer jy daarna sê let me, neem jy verantwoordelikheid vir wat jy volgende doen. Let me wys jou wat jy wel kan beheer; jou waardes, jou aksie, jou behoeftes en wense en wat jy volgende wil doen.
Let them is nie let go nie
As jy sê let them beteken dit nie jy gee moed op of stap weg nie. Jy bevry jouself bloot van die situasie deur die persoon/situasie nie te probeer beheer nie, en te besef hulle kan en moet dit self doen.
Let them is nie ’n verskoning om te onttrek nie
Let them is nie ’n verskoning om mense te ghost of te onttrek of om moeilike gesprekke te vermy nie.
Moenie dat ander mense se gedrag spanning veroorsaak nie
As ander mense se gedrag spanning veroorsaak, gee jy jou mag aan dinge wat buite jou beheer is of net nie saak maak nie, en dit beïnvloed dikwels ander dele van jou lewe.
Leer om jou energie te beskerm
Spanning steel jou energie, drome, mag en beïnvloed jou verhoudings.
7/10 mense se brein is konstant in vlug/baklei modus
Nadat Mel met dr. Aditi Nerurkar, ’n spanningskundige van Harvard Universiteit, gesels het, verduidelik sy dat die oomblik as ons gespanne voel, ons reptielbrein oorneem en in baklei of vlug modus ingaan. Dit hou gewoonlik net vir ’n kort tydjie en dan herprogrameer jou brein sodat jy weer kalm voel.
Dit gebeur egter dat jou brein nie herprogrameer nie en dan is jou brein in ’n konstante baklei of vlug modus. Dit veroorsaak dat jy die heeltyd gespanne voel en nie energie vir enige iets anders het nie. Jy voel verwyderd, nie teenwoordig nie en kan nie eens dink aan jou drome nie.
Jy kan jou brein herprogrameer
Die oomblik as iets gebeur wat jou gespanne laat voel, doen die volgende
- Sê let them en sit jouself in pouse
- Sê let me, en haal diep asem
- Haal weer diep asem
So maak jy jou reaksie op spanning stadiger en kalmeer jy jou liggaam en brein.
Ander se buie of emosies is nie jou verantwoordelikheid nie
Ander mense se emosionele onvolwassenheid (van stilstuipe tot tantrums) kan jou heeltemal dreineer omdat jy ingee. Maar as jy sê let them, gee jy hulle die spasie om hulle emosies uit te druk, sonder om dit te probeer regmaak. En as jy dan sê let me, neem jy verantwoordelikheid vir wat jy volgende doen, al ontstel dit dalk die persoon.
Die meeste volwassenes is net agtjariges in ’n grootmens se lyf.
Onthou dit volgende keer as iemand jou trigger of irriteer met emosionele onvolwassenheid. Hulle het dalk nooit self geleer om hul emosies of behoeftes reg uit te druk nie. As jy dit besef, kan jy die persoon met meer deernis benader en ook beter grense stel.
Alle vriendskappe hoef nie lewenslank te wees nie
Daar is sommige vriende wat in jou lewe is vir ’n rede, ’n seisoen of lewenslank. As ’n vriendskap jou moeg maak of as dit geforseerd voel en jy net bly vasklou aan die idee van die vriende wat julle eens op ’n tyd was, is dit erger as om die vriendskap te beëindig.
Die verbrokkeling van ’n vriendskap is nie noodwendig persoonlik nie.
Die drie pilare van vrienskap is
1. Nabyheid
Hoe vêr of naby jy van jou vriende woon.
2. Die fase van jou lewe
Jy is dalk ’n nuwe ouer, pasgetroud, pasgeskei of enkellopend en dit beïnvloed jou vriendskap.
3. Energie wat verskuif
Soms verskuif die tipe energie wat jy met vriende gehad het, soos een of beide van julle groei en julle kliek net nie meer nie.
Die verbrokkeling van ’n vriendskap vind gewoonlik plaas waneer een van die drie pilare verbrokkel. Dit beteken egter nie dat julle nooit weer gaan vriende wees nie.
Jy kan niemand dwing om te verander nie
Al is dit omdat jy lief is vir hulle en net die beste wil hê vir hulle. Al wat jy kan doen is om ondersteunend te wees en self ’n voorbeeld te stel.
Volg die ABC van invloed om verandering te inspireer
A, apologise
Vra om verskoning oor hoe jou gedrag/oordeel die persoon laat voel het terwyl jy hulle wou dwing om te verander. Vra ‘open ended’ vrae, sonder oordeel of reaksie. Hoe laat jou gewig/werk/fiskheid/verhouding jou voel? Herhaal hulle antwoord terug aan hulle en vra ’n volgende vraag.
B, back off
Moenie inmeng nie en observeer bloot die persoon se gedrag
C, celebrate.
Vier klein veranderinge en stel ook self die voorbeeld. Jy kan byvoorbeeld nie iemand inspireer om meer te oefen, as jy self nie oefen nie. Doen dit in die hoop dat hulle ook die veranderinge sal aanbring. Wees bereid om drie tot ses maande te wag.
Geen huwelik of verhouding is perfek nie
Met ’n huwelik moet daar wedersydse gee en neem wees. Alle verhoudings verander met tyd.
Suksesvolle paartjies het twee goed in gemeen
- Hulle wil altwee hê die verhouding moet werk en altwee is bereid om aan die verhouding te werk.
- Die probleme waaraan hulle werk beteken nie dat een persoon sy/haar waardes of drome moet prysgee nie.
Volg die ABC bo om verandering aan te moedig, maar moet nooit verandering verwag nie.
Beëindig jou gekla, of beëindig jou verhouding
As daar iets is wat jou werklik pla, en jy reeds die ABC gevolg het en daar geen verandering was nie, vra jouself af of jy die res van jou lewe met die persoon kan saamleef as hy/sy nie verander nie. Of kan jy jou verwagting van die persoon verander? As dit antwoord nee is, is dit dalk tyd om jou verhouding te beëindig.
Onthou die 80/20 beginsel
Ons fokus dikwels so op 20% van ’n persoon wat ons wens ons kan verander, dat ons vergeet van die 80% wat saakmaak. Is die persoon sagmoedig, bring hy/sy die beste in jou uit? As die antwoord ja is op die beginsels wat vir jou belangrik is, fikseer jy dalk jou perfeksionisme op die 20% wat nie soveel saak maak nie.
Daar is nog vele ander onderwerpe wat aangeraak word in die boek. Dit is beslis die lees of luister werd.


The Let them Theory, uitgegee deur Penquin Random House, is by verskeie boekwinkels en aanlynplatforms beskikbaar.