binnekring
binnekring

Vyf tipe vriendinne wat in jou binnekring hoort

Watter tipe vriendinne is in jou binnekring? Navorsing dui daarop dat jy gewoonlik die gemiddeld “word” van die vyf mense met wie jy die meeste tyd deurbring. Daarom dat dit so belangrik is dat jy jou binnekring fyn moet kies. Deur sielkundige Gerda Kriel

’n Paar weke gelede het ek my om ’n tafel vol vroue bevind. Iewers tussen die lag en gesels, het ek rondom my gekyk na die stralende gesigte van ’n groep vriendinne wat sommer saam die lewe en die vreugde van skoonheid vier. Elke vrou rondom daardie tafel wèèt wie sy is. Sake-eienaars, kunstenaars, mammas – elkeen gevestig in haar identiteit: gemaklik om haar plek om die tafel vol te sit. 

Ek het besef hoeveel van hulle kosbare vriendinne vir my is, vroue wat my lewe onherroeplik verander en aangeraak het. Vroue wat in my glo, my aanmoedig en my uitdaag om te groei en beter te word. 

Wees intensioneel met die vroue in jou binnekring

Net soos ons rondom ’n gedekte feestafel intensioneel is met die vroue wat ons nooi om saam met ons te sit, net so moet ons intensioneel wees met die vroue wat ons nooi om aan ons “lewenstafel” te kom sit saam met ons. Die sosiale nabyheidseffek bepaal dat ons sterk beïnvloed word deur die mense met wie ons die meeste van ons tyd deurbring.

Navorsing dui daarop dat jy gewoonlik die gemiddeld “word” van die vyf mense met wie jy die meeste tyd deurbring. Daarom dat dit so belangrik is dat jy jou binnekring fyn moet kies. 

Riglyne vir die vyf vroue wat jy moet nooi om rondom jou lewenstafel te kom  sit.

1. Die Mentor

’n Mentor is ’n ouer vrou wat so een of twee lewensfases voor jou is. Sy is iemand met wie jy ’n oop, eerlike verhouding kan hê, met wie jy kan praat oor dinge waarmee jy sukkel, en na wie se raad en insette jy kan luister. Dis belangrik om  ’n mentor te kies wat dieselfde lewenstrajek as jy het, en iemand is na wie jy bereid sal wees om te luister. Sy is ’n rolmodel vir jou, sonder om op ’n troontjie van onaantasbaarheid te wees. Die mentor gee om vir jou welstand en groei, en sy skroom nie om jou soms uit te daag of tereg te wys nie. Dink aan haar as die wyse ouer vrou wat meer weet as jy, en wie jy eendag hoop om te wees.

2. Die Afrigter

Hierdie rol is baie taak-gefokus. ’n Afrigter help jou om ’n vaardigheid te ontwikkel wat jy nog nie het nie. Dit kan enigiets wees soos ’n sportafrigter, naaldwerk-guru, kunsonderwyseres of iemand wat jou leer beter kook. Om onder ’n vrou wat meer vaardig as jy is te leer, kweek in jou leergierigheid, neuroplastisiteit asook nuwe vaardighede waarby jou selfvertroue positief kan baat. Boonop is die vermoë om aan te hou leer al meer in aanvraag in die werksomgewing, omdat dit ’n teken is dat jy makliker by nuwe omstandighede en vereistes kan aanpas.

3. Die Hartsvriendin

Sy ken jou deur en deur. Hierdie plek om jou tafel word gehou vir daardie vriendin wat jou op jou beste en jou slegste gesien het, en wat by jou staan deur dik en dun. ’n Hartsvriendin is iemand vir wie jy enige tyd van die dag of nag kan bel en jou hart by kan uitstort sonder om te verwag dat sy jou raad gaan gee of jou gaan berispe. Sy dra jou belange op haar hart, sy is daar vir elke groot en klein geleentheid, en sy is soos die suster wat jy vir jouself kies. In ’n tyd waar oppervlakkige vriendskappe volop is, is die waarde van ’n hartsvriendin ongelooflik kosbaar. As jy so iemand het,koester haar! 

4. Die Familielid

Dalk is dit jou ma. Dalk is dit jou suster. Of net dalk jou eksentrieke tante met wie jy graag oor kruie en sterre gesels. Om doelbewus ’n familielid rondom jou lewenstafel te nooi, gee vir jou die ondersteuning en perspektief van iemand wat jou ken van jou vroegste tye af. Hulle anker jou aan jou verlede, en help jou om te onthou wie jy is, wanneer die lewe se stormwaters dreig om jou te verswelg. Ons identiteite is onlosmaaklik deel van die families waaruit ons kom, en daarom is dit belangrik dat jy jouself toelaat om ook jou familie se insette in jou lewe te kry.

5. Die “Anders-as-jy” vriendin.

Hierdie vriendin en jy dink anders. Sy daag jou uit. Haar agtergrond, en dalk selfs kultuur, verskil van joune, en sy laat jou die dinge wat jy vanselfsprekend aanvaar, net weer in heroënskou neem. Haar posisie is belangrik omdat sy jou uitdaag om met ’n ander lens die lewe te geniet. Dink na oor jou vriendekring: is julle almal min of meer eenders? Met eenderse belangstellings, agtergronde en lewenservaringe? As jou antwoord ja is, is dit beslis tyd om jou lewe te verryk met ’n vriendin wat anders is. 

Die grootste risiko wat ons loop in die samestelling van die mense wat die naaste aan ons beweeg, is dat die groep ons nie uitdaag nie. Dat dit té gemaklik rondom mekaar is.

Jou lewenstafel moet jou ondersteun, maar jou ook toelaat om jou denke te groei, te vernuwe, en om jou te inspireer om ’n beter jy te wees.

En as jy dit kan regkry, is daar geen groter vreugde nie as om ’n fisiese tafel vir hierdie vyf vroue te dek, sodat jy hulle belangrikheid en rol in jou lewe met oorgawe kan vier.

Lees ook: 8 wenke om dieper vriendskappe te kweek


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

  1. Dit klink vir my na n goeie platvorm vir opbouende positiewe plasing om mekaar op die hande te dra

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
ondersteun jou vriendin met kanker
Ondersteun jou vriendin met kanker só
error: Content is protected !!