Ses dinge wat Vanes-Mari du Toit se hoogswemrekord haar oor uithouvermoë geleer het

Nadat Vanes-Mari du Toit die mal perd, of sal ons sê ysbeer, opgesaal het om die wêreldrekord vir die hoogste swem bo seespieël aan te durf, is sy ’n kenner as dit by uithouvermoë kom. ‘Die woord ‘opgee’ is nie deel van my woordeskat nie!’ Deur Suzanne Kotzé

Sy is dalk bekend as netbalspeler en TV-aanbieder, maar met durf in haar are, het Vanes-Mari du Toit en die Madswimmer span besluit hulle wil die hoogswemrekord breek. Dit het beteken dat hulle 6405 bo seespieël moes swem. Om hierdie hoogte te bereik moes hulle vir twee en ’n half weke lank bibberkouetoestande aandurf terwyl hulle die Himalajas treetjie vir gladde treetjie in die sneeu aandurf, met versigtige teue ysige brandlug.

Ons het met Vanes-Mari gesels in Kaapstad tydens die bekendstelling van hul dokumentêr oor hul avontuur.

Maklik was dit beslis nie, daar was trane en beserings, maar met hope uithouvermoë het hulle wêreldrekordsukses behaal. ’n Trotse Vanes deel wat hierdie avontuur/oorlewingsessie haar oor uihouvermoë geleer het.

Vanes-Mari saam met van haar spanmaats; (links na regs) Neo Mokuene, Vanes-Mari du Toit, Madswimmer stigter Jean Craven en spandokter Chiara Baars.

Vanes-Mari se wêreldrekord in hoogswem het haar die volgende oor uithouvermoë geleer.

1. Dit is belangrik om uit jou gemaksone te beweeg

Vanes-Mari glo dat uithouvermoë’n innerlike krag is wat jy slegs kan ervaar as jy buite jou gemaksone beweeg. “En elke mens se gemaksone lyk anders; vir sommige is bloot om op te staan en te glimlag dalk buite hul gemaksone. Jy hoef nie avontuurlustig te wees om uit daardie gemaksone te te kom nie.

Maar sodra jy uit jou gemaksone beweeg, leer jy meer oor jouself, jy leer waartoe jy in staat is.”

2. Uithouvermoë is ’n samevoeging van ’n klomp faktore

Jy het jou innerlike dryf, jou instinkte om te oorleef en beter te wees. Uithouvermoë gaan ook hand aan hand met ’n doel. Daar kan nie uithouvermoë wees as jy nie ’n doel het nie.

In die berg was ons doel baie dae oorlewing.

Elke dag was regtig taf en ons het nie geweet wat om te verwag nie. Dis nie ’n roete wat al ooit van te vore gedoen is deur toeriste nie. Dit was meestal die sherpas en plaaslike mense wat daardie roetes al gestap het. Dit was baie uitdagend vir mense wat glad nie gewoond is aan die terrein nie. En dit sal enige iemand uithouvermoë gee, as jy weet jou lewe hang daarvan af.

3. ’n Span wat weet waardeur jy gaan, help

“Daar is kere wat ek gegly het in die sneeu en seergekry het, maar dan weet jy jy kan nie anders as om op te staan en aan te gaan nie. Niemand anders kan dit vir jou doen nie,” vertel Vanes-Mari.

“Dit help egter ongelooflik baie as jy saam met ’n span is wat weet waardeur jy gaan. As julle mekaar in die oë kyk en vir mekaar sê: ‘luister, daar is nie ’n omdraaikans nie, ons moet vorentoe gaan.’”

Die laaste deel was die moeilikste. Die span moes deur die sneeu loop op ’n fixed line. “Dit was glibberig, met diep splete waarin jy kon val. Daar was heeltyd hierdie risiko van as jy nie nou fokus nie, gaan jy baie ernstig seerkry of erger.”

Gelukkig het Vanes se liefde vir spansport haar gehelp om aan te hou, nie net vir haarself nie, maar ook vir haar span. “Die nommer sewe was juis besonder prominent gedurend hierdie avontuur,” vertel sy. “in die netbalbaan is ’n mens sewe en in ons span was ons ook sewe. Die bergreeks wat ons uitgeklim het was die Dhaulagiri bergreeks en die spesifieke berg wat ons uitgeklim het was die nommer 7 berg.”

4. Uithouvermoë is ’n innerlike mag.

Dit is wanneer jy alleen is met jou gedagtes dat jy jouself beter leer ken. “En ja, ek het soms gewonder of ek dit verder gaan maak,” sê Vanes-Mari.

’n Emosionele Vanes-Mari

“In ’n stadium het ek gegly op die ys en my rug seergemaak. Die pyn was so erg, ek kon nie regop sit nie en ek kon skaars asemhaal en in daai oomblik het ek nie geweet of ek sal kan aangaan nie. Ek het nie geweet hoe ek nog ’n 25kg rugsak teen ’n helling op sou kon dra nie. Daar was kere wat ek in sak en as gesit het, en gehuil het en gedink het ek kan nie verder nie, en dan het daai innerlike uithouvermoë ingetree en my laat besef hoe vêr ek al gekom het en nie nou kan tou opgooi nie.”

Die uitdagende deel was die laaste twee dae voordat hulle die bopunt waar hulle geswem het, bereik het. “Ek het gesit met ’n laerug-besering en die hoogte bo seespieël van 6500m, maak ook dat die lug baie dun is met min suurstof.

Dit is dodelik, jy kan vog op die longe kry, vog op die brein en verder was dit ook so koud, tot minus 30° saans. Die lug was so koud dat jy nie dit nie direk kon inasem nie.  Jy moes deur jou buff asemhaal, sodat dit jou nie brand nie.

Dit was werklik ’n oorlewingstryd, maar ek moes myself ook in die oë kon kyk en sê: ‘as jy hier omdraai nadat jy al so vêr gekom het, gee jy op.

En die woord opgee is nie in my woordeskat of DNS nie. So ek het op my innerlike krag staatgemaak en vasgebyt.”

5. Vier jou oorwinnings

Die trots wat jy ervaar as jy jouself uit jou gemaksone haal en jy oorkom al hierdie struikelblokke, en jy besef wat jy reggekry het, is ongelooflik. ’n Mens kyk ook sommer anders na jouself.

Ons is soms so selfkrities en hard op onsself om beter te wees, maar ons moet ook wat ons vermag het, vier.

En dit help om uithouvermoë te bou, dan skuif jou grense. Jy moet kan sê ‘oukei great, hierdie was goed gewees en nie net aanhou go-go-go nie. Jy moet jouself kan beloon vir dit wat jy vermag het. En dit gee weer uithouvermoë om nuwe dinge aan te pak.

6. Jou grense verskuif

Hoe meer en meer jy jouself uit jou gemaksone haal, hoe meer verskuif jy die grense van jou gemaksone.

Essensieël hang jou gemaksone van jou af, hoe meer jy jouself daaruit haal, hoe meer groei jy geestelik en emosioneel.

Sekere goed verveel jou amper. Daai goed waaroor jy dalk van te vore getob het, en jou geluk gesteel het, maak amper nie meer saak nie. Jy is nou gewoond aan iets ‘erger’ of iets anders, dan groei jy en jou grense skuif. En dit is baie spesiaal.

Mag hierdie jou inspireer om jou eie grense te verskuif, en doelwitte te stel wat jy met uithouvermoë aanpak. En onthou, dit hoef nie ’n groot avontuur te wees nie.

Hier is nog van Vanes-Mari se foto’s van hul avontuur.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
geraas-sensitiwiteit
Hoekom raas dit so? Is jy geraas-sensitief?
error: Content is protected !!