Vyf afskakelwenke om intensioneel vakansie te hou

Hier is afskakelwenke sodat jy hierdie feestyd kan aanpak om jou lewe eenvoudiger en rustiger te lei sodat jy op ’n sinvolle manier kan afskakel en ontspan en intensioneel vakansie te hou. Deur sielkundige Gerda Kriel.

09/12/2022

Die einde van die jaar snel teen  ’n geweldige pas nader en in ons almal se gedagtes brand die skuldgevoel van al die onbereikte nuwejaarsvoornemens van 2022. Sperdatums, laaste kilogramme wat ons nog wou afskud en die spanning van die perfekte feestafel dek, brand soos sooibrand in ons borskaste en jou tyd én kapasiteit vir die jaar is amper op. Hokaai. Haal asem. Die einde van die jaar hoef nie so ’n malle gejaag na wind te wees nie. Hierdie feestyd wil ek jou uitnooi om jou vakansietyd sinvol te gebruik, sodat jy die nuwe jaar met energie en groter kapasiteit kan aanpak.

Vyf afskakelwenke

1. Gooi uit.

Alles wat té is. Te veel klere, te veel skoene, te veel plastiekbakkies sonder deksels. Alles wat jou die gevoel gee dat jou lewe te vol is, het nodig om te gaan. Navorsing bewys dat “clutter” ons gevoelens van angstigheid en depressie kan verhoog. Ons breine skei meer kortisol af in reaksie daarop, en veroorsaak dat jy as’t ware in ’n gedurige veg- of vlug mentaliteit is. Marie Kondo is nie verkeerd as sy aanvoer dat ’n netjiese huis ’n gelukkige huis is nie. Onthou: elke item wat jy besit verg ’n deel van jou aandag, maak dus seker die items in jou lewe is items wat jy met intensionaliteit kies om aan aandag te gee.

Doen dit: Pak jou handsak reg, maak dáárdie laai in jou huis leeg. Enige aksie wat jy neem om minder te maak in jou fisiese omgewing sal ’n positiewe effek in jou teweegbring en sodoende jou kapasiteit vergroot.

2. Her-evalueer jou prioriteite en roetines.

Elke seisoen in jou lewe gaan iets anders van jou vereis. Soms hou ons aan ’n gewoonte of rol vas lank nadat die seisoen eintlik al verby is. Gebruik die feestyd om sinvol te besluit oor watter aktiwiteite en roetines jy nodig het om af te skaal in jou lewe, sodat jy met meer vryheid kan beweeg. Werk dit byvoorbeeld nog vir jou om 5:00 soggens op te staan nadat jy die hele nag wakker was met skreeuende kleintjies? Of is jy dalk vir die derde jaar in ’n ry klas-mamma en smag jy na ’n breek? Ons ‘om-te-doen’ lysie moet ons met energie vul, en nie dreineer nie. Herrangskik dit wat vir jou belangrik is sodat dit vir hierdie seisoen werk.

Doen dit: Maak ’n lys van jou huidige verantwoordelikhede en roetines. Evalueer of elkeen nog sinvol bydra tot jou lewe, en of jy nog passievol en energiek daaroor voel. Onthou, om uit te tree uit ’n sekere rol gee iemand anders die geleentheid om haar voete daarin te vind.

3. Prop uit.

Jy is reg, skakel jou foon af. Of minstens jou sosiale media. Sosiale media is ’n wonderlike uitvinding, maar dit kan ons gevoel van angs verhoog, omdat ons gedurig skuldig voel as ons nie sinvol bydra nie, of as ons voel of ons alles wat lekker is misloop.

Deur sosiale media af te skakel, gee jy jou brein die kans om te herstel, en om inligting weer op ’n tradisionele manier te verwerk, sonder die gepaardgaande verhoogde kortisol wat daarmee saam gaan.

Doen dit: Probeer ’n sosiale media detoks vir 14-21 dae. Let bietjie op of jou slaapritme, verhoudings en bewustelikheid verbeter. Neem ook sommer ’n breek van nuus en alles wat jou aandag probeer verswelg.

4. Her-evalueer jou verhoudings.

Is daar vriendskappe wat jy tans soos ’n meulsteen met jou saamdra? Omdat julle al jare saam ’n pad stap, voel dit jy moet die vriendskap van alle kante af aan die brand stook. Vriendskappe kan seisoene deurstaan. Seisoene van hegter wees, seisoen van verder wees. Nie alle verhoudings in jou lewe kan te alle tye jou aandag geniet nie.

Ons kan hoogstens ses hegte vriendskappe op ’n slag onderhou, en almal anders gaan dan na die volgende ‘kring’ rondom ons. Soms is dit moeilik om vriendskappe op die regte plek te plaas, maar openhartige gesprekke met geliefdes kan vriendskappe selfs versterk.

Doen dit: Maak ’n lys van jou naaste vriende, en maak ’n lys van vriende oor wie jy skuldig voel omdat jy nie by hulle uitgekom het vanjaar nie. Let op wie is nou deel van jou onmiddelike sirkel en wie is, vir nou, effens verder weg. Deur bewustelik hierop te let kan jy meer sinvol met die naaste aan jou vriendskappe bou wat jou positief kan raak, sonder dat jy voel jy skeep iemand af.

5. Her-evalueer jou grense.

Vakansietye is sinvol wanneer ons evalueer waar ons grense en beperkinge ook lê. Is daar dinge waarvoor jy eerder nee behoort te sê, of laat jy toe dat mense jou tyd en talente misbruik sonder dat jy daarvoor ’n dankie kry? Om jou grense te ken en tyd te neem om te herstel van tyd tot tyd, laat  jou toe om met meer bewustelikheid te leef sodat jy kan identifiseer wanneer jou grense nie gerespekteer word nie.

As daar enigiets is waarvoor jy in die verlede ja gesê het, wat tans vir jou swaar voel, of inbreuk maak op jou vreugde en produktiwiteit , is dit dalk tyd om die goue drie-letter woord te leer: Nee.

Doen dit: Let op hoe jou liggaam voel wanneer jy ’n versoek kry. Maak dit jou opgewonde en bring dit ekstra energie? Of voel dit te swaar en lastig om te doen. Leer jou ligaaam se seine, en sê nee wanneer dit nodig is! Jy sal jouself nog lank daarvoor bedank!

Mag hierdie wenke jou help om die vakansietyd sinvol en bewustelik te benader. En mag jy in 2023 onthou dat nuwejaarsvoornemens net ekstra ‘clutter’ is, waarsonder jy beslis baie ligter deur die lewe sal beweeg.

Lees ook: Agt emosionele welweesgeskenke vir onder jou kersboom

Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
mindful eating
Geniet jou kos, maar eet bewustelik
error: Content is protected !!