Hier is emosionele welweesgeskenke wat jy hierdie feestyd sommer vir jouself kan gee: gratis, verniet, pasella. En tog: onskatbaar in waarde! Deur sielkundige Gerda Kriel
Vanjaar wil ek my pen uitruk en op fyn papier ’n briefie Noordpool toe stuur. Ek wil die klokkies van Kersvader se rendiere hoor lui en wakker word met ’n boom vol geskenke: toegedraai in eenvoud en egtheid. En dan wil ek uitdeel, vir elkeen ’n pakkie spesifiek volgens haar diepste behoeftes.
Maar omdat ons nie weet wanneer ons weer groot vieringe saam sal kan vier nie, is hier voorbeelde van geskenke wat vir jouself kan gee.
Emosionele welweesgeskenke vir jouself
1. Kwaliteit-tyd saam met geliefdes
Gesprekke uit die hart, en diep lag vir staaltjies uit vervloeë dae. Etes om lang tafels, en lang, stadige dae saam met hartsmense. Om tyd saam met geliefdes deur te bring bevorder geestesgesondheid, en na die afgelope twee jaar se afsondering, sal ek vir elkeen die geskenk van tyd saam met geliefdes wil gee.
2. Alleentyd om te herlaai
So kosbaar as wat tyd saam met geliefdes is, is alleentyd ook ’n luukse wat min mense hulself gun. Tog is dit belangrik om voor die nuwe jaar tyd vir jouself te maak. Gaan vir ’n massering, gaan stap in die natuur of op die strand. Hierdie tyd alleen kan perspektief bied op dit wat belangrik is, en kan vir jou die kans gee om dinge te verwerk wat soms agterweë bly in die daaglikse gewoel.
3. Tyd in die son
Sonskyn help die ligaam om Vitamien D te vervaardig wat op sy beurt weer ’n belangrike rol speel in ’n gesonde gemoedstoestand. Om tyd buite deur te bring is die maklikste (en goedkoopste) manier om volop Vitamien D in te kry. En, kom ons wees eerlik, die sonbruin wat kom van tyd buite deurbring is die kenteken van ’n goeie Desembervakansie! Maak net seker jy dra ’n hoë faktor sonskerm.
4. Genoeg slaap
Spanning, werksdruk en omgekeerde roetines kan geweldige slaapversteurings veroorsaak. Te min slaap kan weer lei tot allerlei gemoedsteurings en ander probleme soos gewigstoename, geheue-probleme en hoë bloeddruk. Slaap en rus word maklik onderskat, en die meeste mense ly aan ’n slaaptekort. ‘n Vakansie is die ideale tyd om jou slaappatroon te herkalibreer en op dreef te kry vir die nuwe jaar.
5. Beweging
Om jou liggaam te kan gebruik en te kan beweeg is ’n gawe wat groot vreugde kan meebring. Om jou liggaam te gebruik deur te oefen en beweeg kan jou liggaam help om serotonienvlakke te stabiliseer en kan jou algehele gesondheid bevorder. Gaan stap, ry fiets, gaan klim en strek jou liggaam soveel moontlik oor hierdie tyd. Dis die grootste geskenk wat jy jouself kan gee!
6. Spasie vir refleksie
Pluk ’n bladsy of ’n joernaal nader, skryf oor jou teleurstellings en drome. Reflekteer oor dit wat goed was in die vorige jaar, sowel as dit wat sleg was! Hou jou gedagtes oop, skryf rou oor emosies en maak seker jy sensor niks wat jy skryf nie! Om jou gedagtes te orden kan help met angs, met doelstellings vir die nuwe jaar. Dit help ook om probleme wat in die verlede hoort, eerder in die verlede te laat, sodat jy die nuwe jaar op ’n skoon bladsy kan begin.
7. Erkenning vir wie jy is
Ons kyk so maklik wie ons is heeltemal mis. Wie jy is, het jou tot hier gebring, en die erkenning daarvan kan jou help om jou eie sterkpunte raak te sien, en te weet watter van jou beste eienskappe jy kan gebruik om in die toekoms uitdagings te bowe te kom. Om jouself te ken, en jouself te vier, bou veerkragtigheid. Ons soek makliker foute uit, maar daar is soveel in jou wat goed, sterk en kosbaar is. Vier dit!
8. Bewustheid van die Klein Vreugdes
Klein vreugdes is daardie klein wonderwerkies wat elke dag plaasvind, wat so ineengeweef is met jou lewe dat jy skaars agterkom dit bestaan. Warm koffie uit jou gunstelingbeker, die sonsopkoms wat als in goud baai, die geur van varsgebakte brood, ’n glimlag van ’n vreemdeling of jou geliefde se arms om jou nek. Om met ’n bewustheid van hierdie klein vreugdes te leef, spruit uit ’n lewe van dankbaarheid, wat jou heel anders na die lewe laat kyk.
Al wat jy hoef te doen is om dit raak te sien, en elke oomblik as kosbaar te beskou.
Mag hierdie geskenkidees jou kerskous vul, jou dae vrolik inkleur en jou toerus vir die nuwe jaar om voluit, teenwoordig en vol vreugde die nuwe jaar in te dans.
Die lekkerte: hierdie emosionele welweesgeskenke hoef nie net onder die Kersboom te lê nie, jy kan dit heeljaar oopmaak en geniet!