’n Paar jaar gelede was dit ’n gespog oor die groen sap wat jy gedrink het (juicing) of die harde sweet oefensessies wat ons gedoen het, en nou is dit iets baie meer eenvoudig; slaap. Maar ook nie altyd so maklik vir almal van ons nie. Deur Suzanne Kotzé
Vroue slaap veral sleg
Net gister deel ek op ’n vriendinne WhatsApp groepie ’n foto van my ‘sleepscore’ met die boodskap; “Kyk hoe fantasies is my sleepscore. Ek dink nie ek het al ooit so goeie een gekry nie.” En dan pieng die foon natuurlik van hoe sleg almal slaap. Dit blyk dat vriendinne (wat wissel van detigs tot vyftigs) almal sleg slaap in gemeen het.
En kyk ons na sosiale media is dit gevul met met ‘sleepmaxxxing’wenke, magnesium aanvullings, oggend sonlig ens. En dit is nie sosiale media en persoonlike ondervinding nie, slaapkenners stem saam; ons nuwe slaapobsessie weerspieël die werlike probleem dat vroue doodmoeg is en nie genoeg slaap nie.
’n Oorsig wat laasjaar in gepubliseer is, wys dat tot 90% van vroue tydens perimenopouse en menopouse met slaapversteurings sukkel. Wisselende hormone is die sondebok hier.
Is jy deel van die 3am klub?

Een van die mees algemene klagtes tydens perimenopouse is om in die vroeë oggendure wakker te word; dikwels tussen 2:00 en 4:00; en dan te sukkel om weer aan die slaap te raak.
Kenners glo dat wisselende estrogeen- en progesteroonvlakke die liggaam se interne temperatuurregulering, bui en slaapsiklusse kan ontwrig. Nagsweet, angs en kortisolpieke kan alles bydra tot hierdie vroeë oggendwakkerwordings.
Slaapspesialiste sê leefstylfaktore kan die probleem vererger:
- Alkohol voor slaaptyd
- Laatnag-foonblaaiery
- Oormatige kafeïen
- Onreëlmatige slaapskedules
- Hoë stresvlakke
Slaap en gewigstoename
Swak slaap beïnvloed nie net gemoedstoestand nie; dit kan ook gewig beïnvloed. Dit is ’n verassende feit wat ek onlangs geleer het toe ek ’n funksionele dokter gaan sien het. Dr. Carmichael het aan my verduidelik dat vroue wat gereeld min slaap (vyf uur of minder), meer geneig is om mettertyd gewig op te tel in vergelyking met vroue wat ongeveer sewe uur per nag slaap.
Navorsing wys ’n gebrek aan slaap hongerhormone soos ghrelin en leptien ontwrig, drange na soet kos verhoog en kortisolvlakke verhoog, wat kan bydra tot abdominale vetberging.
Slaaptekort kan ook energievlakke verminder, wat oefening moeiliker maak.
Dit is een rede waarom baie welstandskenners nou sê slaap is net so belangrik soos voeding en oefening vir gesonde veroudering.
Aandgewoontes benadeel stilweg slaap
Moderne aandroetines kan rus saboteer sonder dat ons dit besef.

Ons weet dit is sleg vir ons maar meeste van ons blaai tog saans voor ons gaan slaap deur sosiale media en stel ons breine bloot aan stimulerende inhoud en blou lig, wat melatonienproduksie kan onderdruk.
Laat in die nag werk, televisie kyk en e-posse in die bed lees en stuur, kan ook die senuweestelsel geaktiveer hou wanneer dit eintlik moet afskakel.
Kenners beveel aan:
- Hou slaapkamers koel en donker (Lees hier: 12 wenke vir ‘n rustige slaapkamer vir beter slaap)
- Verminder skermtyd voor slaaptyd
- Beperk kafeïen na middagete
- Kry oggendsonligblootstelling (Lees hier: 7 Redes waarom oggendsonliggoed is vir jou)
- Oefen gereeld
- Handhaaf konsekwente slaap- en wakkerwordtye (Lees hier: Wat is slaapsinchronisasie en hoe gebruik jy dit om beter te slaap?)
Navorsing dui ook daarop dat gereelde fisiese aktiwiteit die slaapgehalte kan verbeter by menopousale vroue wat warm gloede en nagsweet ervaar. Doen egter liefs kardiovaskulêre oefening soggens, want doen jy dit saans kan dit jou weer wakker hou.
Slaapmeet met jou slimhorlosies: nuttig of stresvol?
Slaapmeet met slimhorlosies het in gewildheid ontplof, en ek kyk maar te gereeld wat my ‘sleepscore’ was, sodra ek wakker word.
Terwyl sommige kenners glo dat dit vroue kan help om swak slaapgewoontes en -patrone te identifiseer, waarsku ander dat obsessie met slaapdata eintlik angs rondom “perfek” slaap kan skep. Navorsers het selfs die term “ortosomnie” geskep om ongesonde fiksasie op slaapmetrieke te beskryf.
Nuwe navorsing wys dat slaapmeet vir sommige van ons nuttige inligting verskaf, maar subjektiewe slaapgehalte maak ook saak. (Jou horlosie sê dalk jy het goed geslaap, maar jy voel moeg, of jy voel jy het goed geslaap, maar jou horlosie stem nie saam nie.)
Uiteindelik sê kenners dat die doel nie perfekte slaap is nie, maar beter, meer herstellende rus oor die algemeen.





