Die pastel tendens is nie net tans gewild in die modewêreld nie, maar in skoonheidskringe ook. Pastelkleurige naels is beslis die beste manier om te toets watter pastelkleur jou gunsteling is om te dra – pistasiegroen, ligpienk, laventel, liggeel of hemelsblou. Ons toets graag pastel-naelkuns – wie weet, dalk is jy net so braaf soos Suzanne wat die allermooiste pastelskakerings van die reënboog haar vingerpunte laat vlei. Deur Justine Kroes & Suzanne Kotze
Staan opsy, donker naels, pastelkeurige naels is hier om te bly
Ons is so gewoond daaraan om swart of wynrooi naellak te kies tydens died wintermaande, maar dié keer het ons, ons uit daardie gemaksone gepluk en ’n slag iets nuuts probeer. Ons het albei heel toevallig dieselfde pastelkleurige naels inspirasiefoto van Pinterest af saamgeneem na ons afsonderlike naelafsprake toe, wat is die kans?!
Justine se laventelkleurige Franse manikuur
’n Pers pastelskakering is beslis een van my gunsteling kleure hierdie seisoen, en toe ek daardie inspirasiefoto raakgesien het op Pinterest, het ek geweet ek moet dit probeer. Met die foto in my hand is ek na my naelsalon toe waar ek mooi verduidelik het wat ek graag wil probeer.
Ek is heel verbaas en geniet hierdie prettige naels meer as wat ek gedink het ek sou. En nou is die swart-naels-vir-die-winter vireers iets van die verlede, bring die naelkuns en helder pastelkleurige naels asseblief!
Suzanne se pastel-reënboog Franse manikuur
Ek hou so baie van naelkuns, hoewel dit nie iets is wat ek gereeld probeer nie. Die Franse manikuur met verskillende kleure voel soos veilige naelkuns en werk goed op my kort naels. Dit helder sommer die grou wintersdae op. Almal by die naelsalon was gaande oor die kleurkombinasie. Ek gaan beslis probeer om hierdie ook self te verf. Ek was verbaas om te sien dat die naeltegnikus taamlike dik kleurpunte aangeverf het. En toe met ’n klein kwassie gedoop in naelpolitoerverwyderaar die kleur ‘uitgevee’ het om die kleurstrepie smaller te maak.
Lees ook: Vierkantige gekleurde Franse naels