Na byna ’n jaar se oorweeg het Justine uiteindelik besluit om haar lang hare af te knip in ’n korter bob en sagter haarkleur aan te pak. Justine deel met ons hoekom sy die groot verandering gemaak het en die stappe om te volg indien jy dalk dieselfde haartransformasie oorweeg. Deur Justine Kroes
Waarom die verandering na bob en bruin hare?
Ek het nog altyd van my lang donker hare gehou, maar sjoe ek kon nie meer byhou met die tyd wat dit neem om te stileer nie. Ek is ook nie iemand wat my hare net in ’n poniestert sal dra nie (ek doen, maar dis nie my gunsteling haarstyl nie) so lui wees met my lang hare was nie juis ’n opsie nie. En daarby het hierdie winter sommer ekstra lank gevoel. Elke slag met haarwasdag het gevoel soos ’n ewigheid totdat ek weer my hare droog gekry het. O en die koeke, daaroor wil ek nie eers praat nie
Boonop het Suzanne se artikel 12 Haarstyle wat nou hoogmode is my verder geïnspireer om die knip te maak!
Die swart haarkleur was nog iets wat ek al ’n ruk lank wou aanpak. En die pikdonker kleur het vir my begin hard lyk teenoor my gelaat, jy weet soos die jare verloop en die plooie al hoe meer begin raak het. ’n Sagter, meer natuurlike donkerbruin is wat ek in gedagte gehad het. Dalk met ’n ligter balayage kleureffek vir die somermaande later.
Totsiens swaar, swart hare, hallo vars begin
Dankie tog vir Conley McMaster van Blondkop, uiteindelik het ek ’n haarkleurmeester in my tuisdorp gevind! Conley se kleurkennis, sy praktiese raad, en goeie advies het my finaal laat besluit om voort te gaan met die verandering. Loer na sy Instagramblad hier.
Hier’s hoe om jou knip- en kleurtransformasie aan te pak:
1. Konsultasie
Conley sê, gaan heel eerstens vir ’n konsultasie by jou haarkapper. Bespreek wat jy graag wil doen met kleur (of knip) en vind dit wat realisties moontlik is met jou huidige haarkleur. Neem inspirasiefotos en vra vir jou haarkapper oor die styl waarin jy jou hare wil knip en die kleur en wees oop vir ander idees.
2. Deel jou volledige kleurgeskiedenis
Wees eerlik en deel jou volledige kleur geskiedenis met jou haarkapper sodat hy/sy die regte produkte kan gebruik om jou hare by die gewenste einddoel te kry.
3. Doen ’n kleurtoets
Laat jou haarkapper ’n kleurtoets doen op ’n stukkie van jou hare. Conley het aan die agterkant van my kop ’n piepklein stukke hare afgeknip en gebruik om ’n “strand” toets te doen.

Hierdie was noodsaaklik om te meet hoe lank dit neem om die kleur te lig en of daar enige duidelik sigbare “kleurbande” om jou hare is weens kleurgeskiedenis.
4. Sit genoeg tyd uit op die dag
Maak seker dat jy op die dag genoeg tyd uitsit vir die knip-en-kleurproses – indien jy ligter wil gaan met jou kleur behoort jy bereid te wees om ’n hele paar uur in die salon stoel te sit. Neem gerus versnaperings en jou werk saam en maak ’n dag daarvan.
5. Detoks was is ’n moet
Conley sê: begin met ’n detoks was (detox wash) by die salon. Hierdie haarwas stap verwyder enige “heavy metals” en ander produkte om jou hare goed voor te berei vir die kleur.
6. Knip
Die knip word voor die kleur gedoen. Hieroor was ek die meeste op my senuwees. Met kleur kan ’n mens nog verander, maar met knip, as die hare weg is, dan is dit weg!

Conley het ’n baie effense angled knip gedoen, so ’n klein bietjie langer aan die voorkant om hare vorentoe te laat val as dit beweeg. ’n Blunt bob met geen lae nie vir ’n voller haarvoorkoms.
7. Versterkers/Bonders
Conley sê “Vra altyd vir jou haarkapper om bonders soos ’n K18 te gebruik – dit beskerm die hare teen breek. En versterk en versorg ook die hare deur die proses. Hierdie tipe produkte is ’n moet tydens jou kleurproses, veral as die verandering drasties van donker na lig gaan.
8. Kleur

Kleur, die doel hier was ’n sagter, meer natuurlike sjokoladebruin om die harde gevoel van die swart te breek. Conley begin met bleach en foelie, om die swart kleur te lig.

Na ure is my hare oranje, die swart het gelig! Hoera!
9. Neutraliseer
Hierna gebruik Conley ’n gloss in ’n pasgemaakte skakering om die oranje te neutraliseer.
10. Rootmelt
En laastens ’n rootmelt, hierdie tegniek is die gebruik van toners om jou natuurlike kleur na te boots. En help om die duidelike verskil tussen jou gekleurde hare en natuurlike hare by jou haarwortels eweredig te meng (blend) sodat daar nie enige sigbare lyne is nie.
11. Vertrou die proses
Wees geduldig en vertrou die proses, veruidelik Conley, want jou haarkleurplan mag dalk verander afhangend van hoe die kleur van jou hare lig op afspraakdag.
Die Na:



12. Goeie tuissorg is belangrik
Goeie tuissorg is nou uiters belangrik. Gebruik goeie salonkwaliteit produkte soos ’n hidrerende sjampoe en opknapper. Proteien- en keratienvry asook produkte sonder sulfate wat die hare verder kan uitdroog. En natuurlik is hittebeskermingsprodukte steeds super belangrik.
Deur byna ’n kilometer van my hare af te knip het amper simbolies gevoel, so asof ek die donker en swaar van die lang winter afskud en ’n ligter, varser seisoen binnestap. Die bob voel prettig, modern en so bevrydend. Selfs my man het gese “jy lyk sommer jonger”.
Indien jy dalk oorweeg om korter en ligter te gaan met jou hare, is hierdie dalk jou teken!





