Anzél Stofberg Rabie, of soos baie van ons haar ken, Anzél in die Boland, gesels oor haar liefde vir restaurante en gee wenke oor hoe ons ‘veilig’ kan uiteet. En sy is ook pas gekies as die ambassadeur vir Suid-Afrika se Restaurant Week. Deur Suzanne Kotzé
Anzél in die Boland
Anzél en haar man Stephanus Rabie (wat die produksie van die program doen) reis en kuier weekliks die Boland vol met hulle TV Program Anzél in die Boland. “Ons geniet spesiale oomblikke met mense en dit wat ons almal saambring om ’n tafel -heerlike kos en wyn,” vertel Anzél oor hulle program.
Oor haar liefde vir restaurante en hoekom die industrie ons nou so nodig het
“Ek en Stephanus is nog altyd lief vir goeie kos; by die huis en by restaurante.
Ons glo wel dat Suid Afrika se restaurante van die beste ter wêreld is, kwaliteit en prys gewys, en dit is vir ons lekker om die gasvryheidsindustrie te ondersteun waarookal ons kan!”
Anzél vind die omvang van restaurante wat moes toemaak of afskaal baie onstellend.
“Een van die sjefs wat in seisoen 1 op Anzél in die Boland was, moes sy restaurantdeure toemaak. En hy was al aangewys as een van die beste sjefs in ons land!”
Sy vind dit harverskeurend dat ander restaurante gedwing is om af te skaal en van hulle personeel moes laat gaan.
“Net voordat ons by ’n plaas verfilm het vir Anzél in die Boland seisoen 2, het die plaas byna die helfte van hulle werksmag afgelê. Dit sluit toe die hoofsjef en al die mense in saam met wie ons die res van die dag verfilm het. Die sjef was ’n groot ‘hit’ op die episode en niemand wat na die program gekyk het, sou weet dat daar ’n demper op die dag was nie.”
Lees gerus hier oor die uitwerking van die inperking op die restaurant-industrie
https://partners.24.com/TheBiggerPicture/HospitalityBeyondCovid19/index.html
Restaurant week
Tydens Restaurant Week wat eintlik seker eerder ‘restaurantmaand’ behoort genoem te word, het top restaurante spesiale aanbiedinge. Besoek gerus https://www.restaurantweek.co.za om te sien watter restaurante hieraan deelneem.

“Ek is baie trots om Restaurant Week se eerste ambassadeur te wees. Restaurant Week is ’n instelling wat reeds jarelank in Europa vir inwoners die geleentheid gee om by die beste restaurante te eet teen ’n fraksie van die normale prys. Ek glo dit is ’n ongelooflike inisiatief om mense aan te moedig om op ’n ander manier kultuur te ervaar.
Selfs mense wat nie gewoonlik foodies is nie, kry nou die geleentheid om die gasvryheidsindustrie te ondersteun, veral na ’n jaar soos wat ons die afgelope jaar gehad het,” sê Anzél.


Anzél se wenke: wees só veilig in restaurant
Speel oop kaarte as jy angstig voel
As jy benoud voel om ’n restaurant te besoek, vertel dit vir die person wat jou bespreking neem. Die meeste restaurant sal baie graag hulle gaste wil akkommodeer. Moenie skaam wees om te vra of jy buite of langs ’n venster kan sit nie. “Ek het onlangs by ’n restaurant geëet en vir hulle gevra om die venster bietjie meer oop te maak en hulle het dit gedoen sonder om te blik of bloos.”
Vroeë aandete of middagete is goeie opsies
Gedurende die winter raak dit vroeg donker, so gaan vir ’n vroeë aandete terwyl die son nog skyn en jy dalk buite kan sit.

Ek verkies om vir middagete uit te gaan, omdat dit gewoonlik stiller is. Minder mense is minder aansteeklik. As jy groot geëet het vir middagete, kan jy sommer vinnig iets aanmekaarslaan vir aandete en lekker vroeg in ’n sweetpak (of in jou pjs!) klim.
Haal jou masker eers by jou tafel af
Tydens Covid-19 (en sekerlik vir nog ’n klompie jare wat kom) moet ’n mens sensitief wees vir die pandemie en die moontlikheid dat ’n mens by mekaar kan aansteek. Ek voel dat ’n mens nooit versigtig genoeg kan wees nie. Dra jou masker wanneer jy die restaurant binnekom, en haal dit eers af wanneer jy by jou tafel sit. Wanneer jy die kleedkamer gebruik, is dit respekvol om jou masker aan te sit en dit eers weer af te haal wanneer jy by jou tafel terug is.
Handontsmettingsmiddel by jou
Ek het heeltyd ’n klein sanitizer by my en is nou al in die gewoonte om dit kort-kort te gebruik. Sit dit sommer langs jou op die tafel, en sit dit kort-kort aan.
Verwoord jou versoeke
Die ding is – hierdie siekte het soveel trauma veroorsaak (ek het self my peetpa verloor aan Covid en my pa en stiefma was albei gehospitaliseer agv Covid). Moenie vreemd voel as jy angstig is nie, dit is normaal en nie vreemd nie. Die mat is onder ons almal uitgeruk. Jy is geregtig om jou versoeke te verwoord en nie skuldig te voel om dit te doen nie.
Jy kan Anzél in die Boland ook nou op Showmax kyk.
Lees ook: Twee resepte uit Vickie de Beer se Low-Carb Express resepteboek