Gesonde eetgewoontes; ’n dieetkundinge se top-drie wenke

Met die vertroosting wat kos gedurende die koue wintermaande bied, is gesonde eetgewoontes dalk net ‘n vae herinnering. Keer so terug na gesonde eetgewoontes met hierdie drie topwenke PLUS drie idees vir gesonde peuselhappies. Deur dieetkundige Liezel Engelbrecht, RD (SA)

Om kos te maak of te bak is ook dikwels ’n vorm van ontspanning en ontlading. 

So, voeg daarby die vertroostingsaspek van kos gedurende die koue wintermaande, is dit moontlik dat jy ’n paar kosgewoontes aangeleer het wat jy nou weer wil afskud.

Hier is drie wenke vir terugkeer na gesonder eetgewoontes: 

1. Hou ’n joernaal

Hou ‘n dagboek vir twee of drie dae.

Dit help jou om na jou huidige roetine en kosinname te kyk. Hou ‘n dagboek vir twee of drie dae, en skryf neer wat jy eet en wanneer jy dit eet. Jy kan dit sommer op jou foon doen, ’n appgebruik of dit net neerskryf. Let dan op wanneer jy geneig is om te eet, en of daar ‘n spesifieke rede is: is jy verveeld, gespanne, moeg, opgewonde? Of is jy net doodhonger omdat jy nie ’n behoorlike ontbyt of middagete gehad het nie? As die rede is dat jy nie ’n ontbyt of middagete gehad het wat gebalanseerd is nie, kan jy dadelik daarvan begin werk maak.

2. Kry drie maniere om emosies te ontlaai met iets wat nie kos is nie.

Probeer om aan iets anders te dink as eet soos byvoorbeels strek.

 Probeer dink aan drie ander dinge wat jy kan doen behalwe eet, bv.

  1. opstaan en strek, 
  2. tee drink of 
  3. iemand bel.

Kies dan een as jy weer so voel. Natuurlik moet jy ook probeer om die onderliggende probleem, bv as dit spanning is, aan te spreek.

3. Bly gehidreerd.

Drink eers water voordat jy begin peusel.

As ons gedehidreerd is, dan kan ons dit maklik verwar met honger. Dehidrasie kan jou ook moeg laat voel. Dit kan jou ook sommer laat gryp na iets soets wat vinnig energie gee.

Idees vir gesonde peuselhappies

Om die regte tipe peuselhappies te kies is belangrik.

Kombinasies van proteïen, vesel en gesonde vette is altyd wenners. Vet en proteïen kan jou vinniger versadig laat voel, terwyl vesel ook stadiger afbreek in jou liggaam as verfynde stysels en suiker. Dit help met bloedsuikerbeheer en gevoelens van versadiging. 

Hier is drie idees.

1. Ongegeurde laevet jogurt

Eet dit saam met ’n lekker byvoeging. Suiwel is ook ’n bron van proteïen. Voeg hierby ’n gesonde vet soos ’n handvol sade of neute en ’n opgesnyde vrug soos piesang, aarbeie of appel.

2. Volgraanbeskuitjies of ryskoekies. 

Ryskoekies het nou nie so baie vesel in soos volgraanbeskuitjies nie, maar dis steeds lekker om vinnig aan te peusel. Eet dit saam met ’n laevet maaskaas en ’n paar skywe tamatie of komkommer, neutbotter, hummus met komkommer, of Marmite en ’n klein biejite gerasperde kaas. Onthou dat kaas baie hoog in versadigde vette is. Mozarella bevat effe minder, maar wees steeds suinig daarmee.

3. Maak ’n Meditereense peuselkosblik

Pak vir jouself ’n kosblik in die oggend, al bly jy by die huis, en hou dit in die yskas. Vul dit met babatamaties, wortelstokkies, olywe, komkommer en ’n klein houertjie hummus of tzatziki. Eet dit met of sonder ’n paar volgraanbeskuitjies of  ’n halwe pita in wiggies gesny.

“My heel belangrikste wenk is egter om te beplan. Neem ’n halfuur of 20 minute oor die naweek om jou middagetes en peuselhappies te beplan en hiervolgens inkopies te doen.”

– Liezel Engelbrecht

Meer oor Liezel

Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. Voor haar loopbaan as dieetkundige het sy 10 jaar lank in die mediabedryf gewerk as leefstyljoernalis, inhoudskepper en tydskrifredakteur.

liezel@liezelthedietitian.com

www.liezelthedietitian.com

Of volg haar op Instagram @LiezelTheDietitian

Lees ook: Rolene Strauss se top vyf wenke vir meer selfvertroue

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Wordle
Wat de ‘Wordle’ is Wordle (en hoe speel jy dit?)
error: Content is protected !!