Wicus Pretorius dekorwenke
Wicus Pretorius dekorwenke

Tuis-redakteur Wicus Pretorius deel sy 10 beste dekorwenke

Ons het vir Tuis-redakteur Wicus Pretorius gevra wat die beste dekorwenke is wat hy al oor die jare geleer het. Hier is sy 10 beste’s. Saamgestel deur Suzanne Kotzé.

21/10/2022

Tuis-redakteur Wicus Pretorius se 10 beste dekorwenke

Tuis-redakteur Wicus Pretorius

1. Vloere oftewel vloerbedekkings kan ’n huis se dekor maak of breek.

Jy kan die mooiste meubels hê, die duurste gordyne, fokusmure en kuns – maar as jou vloer téén alles werk, is dit ’n reddelose situasie. Daar is ’n goeie rede waarom mense met oudmodiese vloere saamleef. Dis moeite om te vervang – jy moet meestal uittrek. Daarby is dit duur. En dikwels ’n morsige, stowwerige spul, veral as jy teëls moet uitkap.

My raad is: druk deur, as die “bene” reg is, kan jy na later na hartelus inkleur.

Daar is baie opsies as jy ou teëls wil vernuwe – van vinielplanke tot afvlaklae wat jy bo-oor ou teëls kan lê.

2. Pasop vir dekorelemente wat jou bind.

Ek gebruik dikwels dié voorbeeld, uit my eie lewe. Jare terug het ek ‘n woonstel in Kaapstad gekoop en oorgedoen, als wit, maar in die kombuis rooi kwartsiet-werkoppervlakke. Dit was vir my die mooiste ding op aarde – tot twee maande later, want toe is dit al wat ek sien. Rooi, rooi, rooi, en dit het alles beïnvloed in die woonstel – en my gebind.

As jy hou van verandering, hou by ’n klassieke dop, en kleur in met goed wat jy relatief maklik kan verander: meubels, los oortreksels, kussings, gordyne, matte, verf.

Dis goed wat oor jare vervang of vernuwe kan word namate trends verander. Maar rooi werkvlakke in ’n kombuis – it’s almost for life! Dié beginsel geld van badkamers, kombuise tot leefvertrekke.

3. ’n Mens kan nooit genoeg pakplek hê nie

 Wanneer jy ’n blyplek begin inrig, maak lyste van als wat jy nie in jou pad wil hê nie. Veral noudat mense steeds ’n hibriedmodel volg met werk. As goed in jou pad is, irriteer dit jou – g’n wonder ons is almal met Covid deur ’n fase van “decluttering” (oftewel ontrommeling in Afrikaans) gegaan nie.

Jy kan letterlik vertrek vir vertrek lysies maak: in jou badkamer of slaapkamer – waar gaan die vuil wasgoed heen?

In jou kombuis: waar staan die mikrogolfoond.

Bou jou mikrogolfoond in, of sorg dat daar ‘n rakkie vir al jou ‘gadgets’ is.

Ek verstom my hoeveel mense honderde duisende rande bestee aan ’n kombuis en dan sit die mikrogolfoond op die toonbank soos ’n puisie, en deesdae ook die immergewilde Airfryer.

Skep iewers ’n rak waar jou “gadgets” binne bereik, maar uit die oog kan staan.

Op daardie noot: TV’s behoort nie die fokuspunt in ’n leefvertrek te wees nie. Verdoesel dit.

Ander losgoed wat dikwels pla, is van trapleertjies tot droograkke vir klere. Maak seker jy het ’n kas waar jy dit kan wegpak as jy dit nie gebruik nie.

4. Vernuwe met verf

Verf bly die beste, maklikste, mees koste-effektiewe manier om in ’n kits ’n vertrek nuwe lewe te gee. En as jy nie daarvan hou nie, of na ’n jaar moeg is vir die kleurskema – verf weer! 

5. Kontras is belangrik

Foto: Unsplash

Gepraat van verf: kies kleure waarvan jy hou, maar onthou dat kontras belangrik is. As jy ’n blou sitkamer het, wat van ’n geel stoel? Of ’n skelpienk laaikas of boekrak? Die modekenners praat van “dopamine dressing” – maar wat van “dopamine décor”? Dis dekor wat jou goed laat voel, en mense aan die praat kry.

Lees ook: Kan dopamiene dekor jou huis ‘n gelukkiger plek maak?

6. Monotoon skakerings

Foto: @home

Steeds by kleure: hoewel kontras belangrik is, kan jy kleure aan dieselfde kant van die kleurwiel gebruik vir ’n laag-op-laag-gevoel. Verskillende groene bymekaar, of selfs net skakerings van wit. 

7. Tekstuur is alles.

Foto: Linen House.

Natuurlike vesels, en natuurlike afwerkings soos hout, klip, rottang… In jou slaapkamer: kraakwit linne, maar met ’n gebreide kabelpatroon-deken, ’n snoesige wolkombers, kussings met ’n wafelpatroon – al is alles in dieselfde kleur.

8. Grootte maak saak

 Van die bank in jou sitkamer tot die mat onder jou bed. Te groot: dit laat die vertrek beknop lyk. Te klein: dan lyk jou duur dekorkopies afgeskeep. En moenie skrik vir meng en pas nie. Die dae van ’n sitkamerstel of ’n bedstel is verby. Sit items by mekaar wat verras – eklektiese dekor bly gewild, en dit sluit “upcycled” items in: ’n Draad-sluitkas in jou voorportaal vir sambrele, hospitaalkassies as bedkassies – pas die beginsel ook buite toe, op stoepe of in braaikamers. Gebruik meubels op plekke waar dit nie gewoonlik gebruik sou word nie, mits dit werk, en mooi lyk.

9. Beligting, beligting, beligting.

Foto: Pexels

Helder lig vir werk, sagte lig vir geselligheid en luim. Jy het al twee nodig in elke vertrek. Staanlampe in die sitkamer, bedlampies in jou kamer. Met beurtkrag wat geen einde het nie: mens kry die mooiste herlaaibare tafellampies en bedlampies. Dit hoef nie ’n draagbare staanflits te wees wat eintlik vir die kampeervakansie in Hartenbos bedoel is nie. Funksioneel kan mooi wees.

10. Druk jou stempel af.

Niemand wil in ’n katalogus woon nie. Jou huis wys jou hart. Maak dit jou eie: en dit beteken jy mag beslis soms die reëls breek.


Die Oktober/November uitgawe van Tuis is nou op die rakke.
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Greteli de Swart mininamlistiese dekor
Greteli de Swardt se nege wenke vir ’n minimalistiese dekorstyl
error: Content is protected !!