Die keuse van ’n mat gaan oor veel meer as net ’n mooi kleur kies. Jou keuse van vesel, die tekstuur en die digtheid van jou mat gaan bepaal hoe ’n mat mettertyd lyk en verouder. Eben Barnard, eienaar van FLOER, ’n pasgemaakte vloermaatskappy, (in Kaapstad) deel sy mat kies wenke om in gedagte te hou voordat jy ‘n mat koop.
Eben help immers elke dag vir kliënte (en boetiek hotelle) met hul matkeuses. Hier’s sy moet’s en moet nie’s vir mat koop: Deur Eben Barnard, saamgestel deur Justine Kroes.
7 Mat kies wenke
1. Kyk hoe die kleur vertoon in jou spasie
Moet nooit ’n matkleur kies op grond van ’n klein sample in ’n matte vertoonkamer nie.
Plaas eerder jou mat samples plat op die vloer in jou spasie en staan ’n paar tree terug. Gaan kyk ook na die voorbeeld op verskillende tye gedurende die dag, die kleur en gevoel mag dalk verander in verskillende tipes lig.
Dieselfde mat skakering in natuurlike lig en kunsmatige lig kan werelde verskil.
“Moet nooit op ’n duur vloerbedekking besluit neem op grond van ’n klein vierkant voorbeeld wat jy in jou hand vashou nie.”
Eben Barnard

2. Dink aan hoe jy leef
Hoe ’n mat saamgestel word maak saak:
Loop pile (luspoolmatte) is baie duursaam, maar hou in gedagte, troeteldiere se kloue kan aan die lusse haak en dit uittrek.
Cut pile of snypluismatte het weer ’n sagter, meer luukse voorkoms. Maar hoe die mat gaan hou word beslis deur die vesel, die pluis hoogte en digtheid.
Juis daarom is dit belangrik om nie ’n mattekstuur te kies net gebaseer op hoe dit lyk in die matwinkel/ vertoonlokaal nie.

Die beste keuse is die een wat by jou leefstyl pas, nie noodwendig die een wat die mooiste in die vertoonlokaal lyk nie.
3. Moet nie jou mat met jou hand alleen kies nie
Dit klink dalk vreemd, maar dit is een van die heel grootste foute wat ek gereeld sien gebeur, is wanneer kliente met hul hande vryf aan ’n mat en dan hul besluit of die mat sag genoeg is of nie, daarop baseer.
Jou hande is baie meer sensitief as die onderkant van jou voete, en die mat wat ongelooflik sag voel wanneer jy dit met jou hand vryf, is nie noodwendig van beter gehalte nie.

Baie sagte matte kan fantasties voel as jy daaraan raak, afhangend van die vesels en hoe die mat geweef is kan ’n baie sagte mat makliker en vinniger tekens van voetverkeer wys en druk makliker plat. Nie noodwending iets wat jy wil hê vinnig moet wys nie.
So in plaas daarvan om jou hand te gebruik om te voel, vra eerder: Hoe gaan hierdie mat ná jare se gebruik lyk?
4. Dikker beteken nie noodwendig beter nie
’n Dik en sagte mat voel en lyk dalk luuks, maar hierdie “high pile” styl matte kan makliker voetspore en tekens van verkeer wys.
Volgens Eben is dit belangriker om aandag te gee aan die digtheid van ’n mat.
’n Digter geweefde en goed vervaardigde mat kan veel beter sy vorm en kwaliteit behou as ’n dikker mat wat op die oog af meet luuks lyk.

Moet dus nie die mat se dikte met digtheid verwar nie.
5. Moenie van die onderlaag vergeet nie
’n Goeie onderlaag (carpet underlay) bied ekstra gemak en ondersteuning onder jou voete en kan ook ’n vertrek se akoestiek verbeter.
“Ek sou eerder die regte mattekstuur en digtheid kies met ’n goeie kwaliteit onderlaag as om bloot die dikste mat moontlik te kies.” Eben Barnard
6. Kies die regte vesel vir jou lewenstyl
Daar is nie een tipe vesel wat perfek by elke huis en lewenstyl pas nie. Eben verduidelik “hou in gedagte, in Suid-Afrika volg ons nie dieselfde “skoene uit by die deur” gewoontes soos in die meeste ander lande nie. Hier moet ons matte stof, sand en daaglikse voetverkeer (en moontlik harde sonlig) kan weerstaan.

Hierdie het ’n direkte impak op jou mat en tekstuurkeuse, en dit is belangrik om ’n mat te kies wat duursaam en kleurvas is, asook maklik genoeg skoonmaak.
Wol
’n Luukse, natuurlike vesel wat goed herstel en sy voorkoms behou, maar dit verg behoorlike instandhouding en sterk direkte sonlig kan die kleur mettertyd beïnvloed.
Gekleurde nylon (SDX nylon)
’n Baie praktiese keuse vir besige huishoudings. Dit is sterk, veerkragtig, kleurvas en bestand teen vlekke.
Polipropileen (polypropylene)
’n Meer bekostigbare opsie met goeie weerstand teen vlekke en vog, maar dit herstel nie so goed van platdrukking soos wat nylon doen nie nie.
Natuurlike vesels
Soos sisal en ander natuurlike vesels bied ’n pragtige, natuurlike tekstuur, maar verg meer spesialisversorging en kan sensitief wees vir vog en maklik watervlekke wys.
7. Hou jou skoonmaakgewoontes in gedagte
Jou leefstyl en skoonmaakroetine hoort deel van jou matkeuse te wees. Kinders, troeteldiere en baie voetverkeer vra vir ’n duursame, maklik-versorgbare mat.
Eben beveel aan dat gewone matte ongeveer elke 6–12 maande professioneel diep skoongemaak moet word, terwyl natuurlike vesels ’n meer gespesialiseerde roetine kan vereis.
Wees ook versigtig met swaar gebruik van skoonmaakmiddels op harde vloere. Die oorblyfsels kan aan skoene en voete kleef en op jou mat beland, waar dit vuilheid kan aantrek.
“Meer skoonmaakmiddels beteken nie ’n skoner mat nie.”
Eben Barnard
Moenie ’n mat net op grond van kleur en sagtheid kies nie. Dink aan hoe jy leef, kies die regte vesel en konstruksie en belê in ’n goeie onderlaag (underlay) Maak ook seker jy weet hoe om jou nuwe mat behoorlik te versorg.





