15 Tafeldek en onthaalwenke vir goedvoel saamkuier-aande

’n Paar onthaalkoninginne deel hulle beste onthaalwenke. Mag hierdie tafeldek en onthaalwenke jou inspireer om ’n kuier te reël wat minder stresvol vir jou is, en lank nog deur jou gaste onthou sal word. Deur Suzanne Kotzé

Tafeldek en onthaalwenke

1. Atmosfeer laat gaste welkom voel

Tafel gedek deur Kim Black

“Gaste voel welkom wanneer hulle die indruk kry dat jy hulle verwag het.

Dit klink eenvoudig, maar daar is ’n fyn kuns daaraan om jou huis en die atmosfeer gereed te maak om iemand op hulle gemak te laat voel: ’n kers en vars blomme in die badkamer, lapservette op die tafel.

Dit is juis hierdie klein tekens van voorbereiding wat vir jou gaste sê: Ek het aan julle gedink,” is sjef en skrywer Vickie de Beer se raad.

2. Hou ’n tema in jou agterkop

Dit hoef nie ’n spesifieke tema te wees nie, maar eerder iets breed wat dit maklik maak om jou spyskaart en tafel te inspireer. Byvoorbeeld Italiaans, of ’n gesellige, warm tradisionele bredie, met ’n paar stukke erfstuk eetgerei op jou tafel. Dit werk goed as jou tafel en spyskaart saam ’n storie vertel.

3. Kies staatmaker resepte waarmee jy vertroud is

Kosskrywer en sjef Elmarie Berry sê dit sal help dat jy nie gespanne voel dat jou kos gaan flop nie. “Hou so vier lekker spyskaarte in jou arsenaal sodat jy een kan kies waarmee jy vertroud is.”

4. Kook vooruit

“Martha Stewart het gesê enige spyskaart wat jou vir meer as 15 minute besig hou terwyl jou gaste daar is, is die verkeerde spyskaart!”

Berei alles vooraf tot amper heeltemal klaar. ’n Kaasbord met beskuitjies is ’n maklike voorgereg wat geen tyd van jou verg nie. Sop as voorgereg kan pragtig opgedien word en is geen moeite om net voor aansit gereed te kry nie,” is Vickie de Beer se raad.

Sjef en skrywer Elmarie Berry se wenk is om ’n nagereg te kies wat jy vooraf kan maak. “Iets wat jy net kan inskep, sodat jy nie nog goed hoef styf te klits nie.”

5. Laat een gang maak

Stilis Vicki Sleet sê moenie bang wees om te laat maak en op te dollie nie. “Ek glo daarin om vooruit te maak en nie bang te wees om minstens een gang te laat maak/te koop nie. Dit is soveel meer realisties, en dikwels meer bekostigbaar en baie minder stresvol.”

6. Dek die tafel voor die tyd

Foto: The Home Collective

Om tafel te dek en mooi te maak is seker een van die lekkerste dele van onthaal. Ons dek graag die tafel die aand voor die tyd, en Vicki Sleet sê sy doen dit ook so.

Elmarie Berry sê ’n mooi gedekte tafel laat jou gaste welkom voel.

“Dit wys vir jou gaste jy het hulle verwag en jy het moeite gedoen.”

“Hou ekstra eetgerei en borde wat benodig word eenkant gereed, sodat jy lekker saam met jou gaste kan kuier. Dink aan klein besonderhede soos cocktail servette vir ’n morsige happie, of klein bordjies vir happies,” sê Vickie de Beer.

Elmarie beveel ook aan dat, as jy nie ’n tafel voor die tyd met borde en eetgerei wil dek nie, om die borde en messegoed te stapel, sodat dit gereed is teen etenstyd.

7. Aanhalings by elkeen se plek

Kim sê sy sit graag ’n aanhaling by elke gas se plek. “Dit laat gaste spesiaal en geïnspireerd voel.”

8. Jy hoef nie noodwendig blomme te gaan koop nie

“Kyk wat jy in jou tuin het. Gebruik loof, varings of olyftakke. Of selfs groente en vrugte om rangskikkings te maak,” is Elmarie Berry se raad.

9. Pak ekstra glase uit

“Ek hou daarvan om meer as genoeg water- en wynglase uit te pak, sodat gaste hulleself maklik met ’n nuwe glas kan help,” is Vickie de Beer se wenk.

10. Welkomdrankie

“’n Verwelkomingsdrankie breek altyd die ys. Ek verkies Suid-Afrikaanse Cap Classique met ’n klassieke happie soos salmpatee of lewerpatee. Sorg ook altyd vir ’n alkoholvrye opsie. Ek maak gewoonlik ’n groot beker tuisgemaakte rooibos-ystee met gemmer,” sê Vickie.

Toe ons by kunstenaar Kim Black geëet het, het glase met plastiek-badeendjies in ’n heerlike prettige atmosfeer geskep. Kim sê: “Gevriesde plastiekeendjies (van Crazy Store) sorg vir ’n lekker lag, en identifiseer ook jou glas. Nog ’n opsie is ’n welkomdrankie met spookasem op die glas, vir iets anders.” 

11. Drankie-stasie

Pak glase en drankies (so twee of drie opsies) uit sodat mense hulself kan help. “Veral vir ’n welkomdrankie, jy wil nou nie hê jou gaste moet hulle eie koelboks oopmaak vir hulle eie drankie nie,” sê Elmarie.

Sit gerus ook ’n klein vullisdrommetjie naby jou dranktrollie of-stasie. So hoef minder mense jou kombuis binne te kom opsoek na ’n drom vir leë bottels (en dit maak die skoonmaakproses makliker).

’n Opvou-kamptafel, op sy hoogste gestel met ’n tafeldoek bo-oor werk goed vir drankies aangesien dit effens hoë as ’n gewone tafel is. Skuif dit teen ’n muur met die tafeldoek wat laag afhang en niemand sal eers weet dat dit net ’n plastiek-kamptafel is nie.

12. Laat genoeg geselstyd toe vir kuier voor die ete

Moenie oorhaasig met die kos wees nie, die voorafgeselsies help dikwels om atmosfeer te skep.

13. Die playlist is belangrik

Die regte musiek is ook belangrik. Musiek wat ’n ontspanne atmosfeer skep sonder om oorheersend te wees, laat mense op hulle gemak voel.

14. Wees subtiel met afdek

Laat eerder vuil borde ’n rukkie langer op die tafel staan as wat jy oorhaastig is met afdek. As jy te vinnig begin afdek, hou die na-ete lekker gesels dikwels ook op. Neem so subtiel ’n bord of twee eerder as om almal se borde gelyk af te dek.

15. Sluit die aand af met ’n klein verrassing

“Dit is lekker om die aand met ’n klein verrassing af te sluit, iets onverwags. Handgemaakte sjokoladetruffels en piepklein koeksisters saam met koffie en brandewyn, of Peppermint Crisp-yslollies, kan ’n prettige manier wees om die aand af te sluit,” sê Vickie.

Ons het onlangs by vriende gekuier, terwyl die Springbokke gespeel het, en die gasvrou het sjokolade Martini met groen bokkie Zoo-koekies bedien was so ’n oulike en spesiale afsluiting tot die aand was.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Boekrak en uitstalwenke vir verskillende dekorstyle
error: Content is protected !!