Sê hallo vir die “collective home” voorkoms, en totsiens vir meubelstukke en dekor wat eksie perfeksie bymekaar pas.
Daar was ’n tyd toe die versiering van ’n vertrek beteken het om alles as ’n stel te koop. Die versamelde huis is een wat voel asof jy regtig daar woon, eerder as ’n vertoonlokaal waar alles met een aflewering gearriveer het.
In hierdie artikel deel ons meer oor die “versamelde huis” voorkoms, die realistiese dekortrend wat ons ten volle ondersteun. Deur Justine Kroes
Versamelde huis? Wat is dit?
Die “versamelde huis” voorkoms verwys na ’n dekorstyl wat persoonlik, gemaklik en uitnodigend voel eerder as ’n spasie wat perfek gekoördineerd is.
Dink aan vintage meubels gemeng met moderne meubels, jou geliefde geërfde items langs kontemporêre ontwerpe, en mooi dekor-elemente wat mettertyd versamel is eerder as ’n spasie wat lyk asof alles wat op dieselfde dag gekoop is.
Die versamelde huis voel soos ’n huis van iemand wat regtig daar woon, en nie ’n bladsy uit ‘n dekortydskrif nie.
Hou vas aan jou vintage stoel. Hang die kunswerk op wat jy tydens jou vakansie ontdek het. Meng jou houtkleure. Koop daardie eienaardige lamp, jou huis hoef nie soos almal s’n te lyk nie. Dit moet soos jy voel.
Hier is 8 wenke om die versamelde huis te omhels:
1. Vergeet van die bypassende meubelstel
Beweeg weg van meubelstelle waar alles presies dieselfde lyk.
In plaas daarvan om ’n koffietafel, kanttafeltjies en jou TV-kas uit dieselfde reeks te koop, kies eerder items wat mekaar aanvul sonder om identies te wees.
Dalk is jou koffietafel van warm hout, terwyl jou kanttafeltjie uit metaal gemaak is. Die items hoef nie perfek te pas nie. Maak eerder ’n visuele verbinding deur soortgelyke kleur, materiaal, vorm of afwerking.

2. Meng oud en nuut
Een van die geheime tot ’n versamelde huis is om oud en nuut te kombineer.
’n Moderne bank kan langs ’n antieke houtkoffietafel staan. ’n Kontemporêre kunswerk kan bo ’n vintage ingangsportaal tafeltjie hang. ’n Ouhout eetkamertafel kan omring word deur ’n mengsel van verskillende moderne stoele.

Dit is juis hierdie kontras wat jou huis karakter gee.
Te veel nuwe meubels kan soms plat en onpersoonlik voel, terwyl te veel vintage-items ’n ruimte verouderd kan laat lyk. Jou perfekte spasie lê iewers tussenin.

3. Laat jou huis jou storie vertel
Die mooiste “versamelde” huise bevat dikwels items met ’n storie
Dalk is dit ’n stoel wat jy by jou ouma geërf het; ’n keramiekstuk wat jy tydens ’n spesiale vakansie gekoop het; ’n foto van ’n spesiale persoon; of ’n skildery deur ’n plaaslike kunstenaar.

Dit is juis hierdie items wat ’n huis persoonlik laat voel, so moenie bang wees om hulle uit te stal nie, selfs al pas hulle nie perfek by die res van jou dekor nie.
4. Meng gerus jou houtkleure
Elke houtitem in jou huishoef nie presies dieselfde skakering of afwerking te hê nie.
Dit is juis die kombinasie van verskillende houtkleure wat ’n vertrek meer natuurlik warm laat voel.
Die truuk hier is om balans te skep, byvoorbeeld as jy ’n donkerhout eetkamertafel het, bring ligter hout in deur middel van ’n stoel, kanttafeltjie of dekoritem. Probeer om elke houtkleur minstens een of twee keer in die vertrek te herhaal sodat die verskille eerder doelbewus voel.
5. Tekstuur is alles
’n Versamelde huis fokus nie net op die kombinasie van meubelstyle nie, maar ook op die skep van lae van tekstuur.
Kombineer glad met growwer teksture. Dink aan linne langs fluweel, hout saam met metaal, en geweefde mandjies langs keramiek.
6. Omhels die onverwagte
Elke mooi vertrek het ’n klein bietjie verrassing nodig. Dalk is dit ’n helderrooi stoel in ’n neutrale spasie. ’n Lamp met ’n interessante vorm. ’n Kleurvolle kunswerk. Of ’n vintage spieël met ’n helder raam.
Hierdie onverwagse elemente is dikwels wat ’n vertrek persoonlikheid gee.

7. Koop stadig
Een van die grootste voordele van die “versamelde huis“ benadering is dat jy nie jou hele huis op een slag hoef te versier nie.
Laat jou huis en styl mettertyd ontwikkel.
Besoek antiekwinkels, snuffel by plaaslike markte, verken vintage meubelwinkels en hou jou oë oop vir spesiale items wanneer jy reis.
8. Vind daardie goue draadjie
Al hoef alles nie te pas nie, behoort jou huis steeds samehangend te voel.
Kyk vir elemente wat van nature herhaal word. Dalk hou jy van warm, aardse kleure. Miskien verskyn natuurlike hout in verskillende vertrekke. Of dalk het jou huis ’n liefde vir vintage koper, kleurvolle kunswerke of organiese teksture.

Hierdie elemente wat jy kan herhaal, word die goue draad wat al jou verskillende meubels en dekor-items bymekaar bind.





