Tuis-mani; verf jou eie naels en jelnaels so

Doen jy jou eie tuis-mani? Jy kan selfs jou eie jelnaels ook verf en afweek. Doen dit so, wenke vir gesonde naels en die in-kleure. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

“Baie mense probeer nou geld spaar en doen eerder hulle eie naels tuis,” sê Minelli van der Merwe van Minelli Nail Art in Kaapstad. “Juis hierom is gesonde, natuurlike naels baie in.” 

Tuis-mani; verf jou eie naels stap vir stap 

1. Maak skoon

Maak eers jou naels skoon om enige naellak of oortollige olie te verwyder. Druk ’n stukkie watte in naellak-verwyderaar en maak jou naels mooi skoon. Doen dit selfs as jy geen naellak aanhet nie, want die natuurlike olies op jou naels kan maak dat jou naellak nie lekker vasklou nie. 

2. Druk terug

Druk jou naelvliesies saggies terug. Wenk: jou naelvliesies sal sagter wees na ’n warm bad of stort. 

3. Knip

Knip jou naels nadat jy gebad of gestort het, die hitte sal sal jou naels sagter maak en jy sal makliker kan knip. Hierdie geld veral as jy harde naels het. 

4. Vyl

Gebruik ’n naelvyltjie om jou naels korter te vyl en vorm aan jou naels te gee. Onthou: vyl altyd net in een rigting.

5. Knip vliesies

Gebruik ’n naelvliesknipper om van enige naelsvliesies ontslae te raak – moet liefs nie aan jou naelsvliesies byt of dit probeer afskeur nie – dit kan moontlik verder in jou sagte naelbed inskeur.

6. Skrop

Verwyder enige dooie velletjies op jou hande met ’n afskilferaar. Ons gebruik sommer ons lyfafskilferaar hiervoor. 

7. Basislaag

Wend altyd ’n voorbereidingslagie aan die nael voordat jy gekleurde naellak aanwend. Hierdie basislagie maak die oppervlak van jou naels glad en dis dan makliker om die naelkleur aan te wend. Dit laat jou kleur ook langer hou en keer dat die kleur jou naels vlek. 

Wenk: wees versigtig om dit nie té dik aan te wend nie, want dit kan veroorsaak dat jou kleur aftrek.

8. Twee lagies kleur

Verf jou eerste lagie naellak in die middel van die nael, verf dan beide kante van jou nael vir ’n netjiese manikuur. Hierdie tegniek sal verseker dat jy minder mors en dat veral jou donker mani minder streperig lyk. Verf ook die bopunt van jou nael: verf ’n horisontale strepie van die een kant van jou naelpunt na die anderkant. Dit sal voorkom dat die kleur te vinnig kraak op jou punte. Laat effens droog word en verf nog ’n dun lagie oor die hele nael. 

Wenk: moenie jou naellak botteljie skud nie, rol dit eerder tussen jou hande. As jy jou botteltjies skud, veroorsaak dit net nog meer borreltjies. As jy jou naels verf sal jy hierdie borreltjies sien. 

9. Maak netjies 

Gebruik ’n oorstokkie of selfs ’n dun lipstif-kwassie saam met naellakverwyderaar en rond jou mani netjies af. 

10. Bo-lagie

’n Bo-lagie keer dat jou naelverf vinnig afdop en laat dit langer hou. Wenk: verf elke derde dag ’n bo-lagie oor jou mani – dit sal verseker dat jou mani selfs nog langer hou. Onthou net om te wag todat dit heeltemal droog is. 

Watter kleure is nou in?

Minelli sê: “naak en blink is nou baie in.”

Michellori Orient
Michell Ori in Orient 548 (R80)
Mavala Rose Shell
Mavala Mini in Rose Shell

Candice Klaaste, skoonheidsopvoeder vir Sorbet, sê die kleure wat nou gewild is, is: die rooie, naakte skakerings, bruine, blink en mat naelontwerpe in papawerkleure, donkerblou, grys en skakerings van groen en mosterdgeel. 

Chanel Le Vernis
Chanel LE VERNIS in 883 Pensée, 885 Anthurium en 887 Metallic Bloom (R535 elk)

Top drie wenke vir gesonde naels

Minelli gee die volgende wenke

  1. Maak seker jy het geen vitamientekorte nie, want dit wys in jou naels. Baie van my kliënte wat gereeld algemene vitamien-aanvullings drink se naels is mooi gesond.
  2. Smeer gereeld handeroom aan.
  3. Laat loop koue water oor jou naels na ’n lang bad of as jy skottelgoed in warm water gewas het. 

Verf jou eie Gelish naels tuis

Hierdie oulike Gelish 9ml Getting started kit (R3970) bevat alles wat jy benodig om jou eie jel-naelverf tuis te doen. Dit is nie goedkoop nie, maar as jy dit uitwerk is dit gelykstaande aan so 10 keer se naels doen by ’n salon. 

Gelish 9ml Getting Started Kit

Die moets en moenies van tuis jelnaels verf 

Inligting verskaf deur Lucia Knoetze van Sparkle Cosmetics

Moets

  1. Week bestaande Gelish kleur met Gelish Soak Off Remover af
  2. Gebruik die aanwendingstegnieke soos wat dit in die video gewys word.
  3. Verf die kleur in twee tot drie dun lagies aan. 
  4. Gebruik elke aand naelvlies olie sodat jou naels bevogtig bly en jou kleur langer aanbly.
  5. Maak altyd seker daar is geen stof in die area waar jy jou naels doen nie. 

Moenies

  1. Moenie Gelish meng met ander handelsmerke nie.
  2. Moet nooit jou naelkleur aftrek nie. 
  3. Selfverbruiningsrome, sekere speserye en getinte bevogtiger kan jou naels vlek. 
  4. Moenie jou naelkleurbotteltjies oop los nie, dit sal die kleur dik en hard laat word. 
  5. Moenie jou produkte in direkte sonlig bêre nie. 

Wend jou jelkleur so aan

Kyk die video hier hoe jy jou jelkleur kan aanwend. 

Verwyder jou jel-naelkleur so

Candice Klaaste, skoonheidsopvoeder vir Sorbet gee ook die volgende wenke:

  1. Wend naelvliesolie rondom jou nael aan om jou vel te beskerm. 
  2. Verwyder die ‘blink’ van die jel deur dit liggies te poleer sodat die asetoon of jel verwyderaar kan binnedring. 
  3. Week ’n klein stukkie watte in suiwer *asetoon en sit dit op jou nael. 
  4. Sny tinfoelie in vierkantige stukkies en draai dit om jou nael om die watte in posisie te hou. 
  5. Wag vir so 10-15 minute en verwyder die foelie en watte. 
jelnaels
Foto: Unsplash

6. Gebruik ’n hout naelstokkie en maak liggies die jel op elke nael los todat dit verwyder is. 

7. As die jel nog nie wil loskom nie, los dit vir nog 5 minute aan voordat jy die foelie en watte verwyder. 

8. Gebruik ’n poleerder (buffer) wat sagkens werk om jou nael glad te poleer. 

9. Was jou hande met warm seperige water en wend handeroom soos Sorbet Moisturising Hand & Nail Cream aan. 

* Onthou om eerder die Gelish Soak off te gebruik as jy Gelish produkte gebruik.

Lees ook: Vierkantige gekleurde Franse naels; die trend om nou te dra.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
10 goed wat jy van ekseem moet weet
error: Content is protected !!