Kyk om patrone te meng is intimiderend, maar as jy eers begin is dit eintlik maklik en pret. Dit laat jou modestyl interessanter lyk en ewe skielik het jy baie meer uitrusting-items om te meng en pas. Ons leer jou hoe. Deur Suzanne Kotzé
Meng patrone só
Met die terugkeer van maksimalisme is patrone meng beslis deel van die voorkoms en trend, maar patrone meng hoef nie noodwendig uitspattig te wees nie. Jy kan dit so groot of bont doen soos jy wil, dit is belangrik dat jy dit met selfvertroue dra en meng. Maar om te begin meng, gaan jy dalk eers uit jou gemaksone moet klimp en begin eksperimenteer.
1. Meng swart en wit


Helder kleur en patrone saam kan oorweldigend voel as jy nuut is met patrone meng. Deur swart en wit patrone, soos byvoorbeeld kolle en strepe of strepe en blomme te meng is maklik.
2. Strepe saam met strepe is maklik om mee te begin



“Ek voel strepe is ’n maklike patroon om mee te begin eksperimenteer. Jy kan vertikale en horisontale strepe meng of selfs net verskillende kleure strepe meng,” is moderedakteur Annelee Joubert se raad.
3. Sien strepe as jou patrone ‘neutraal’



Strepe werk by die meeste ander patrone. Van tiervel tot blomme.
4. Kolle is klassiek



Ons is mal daaroor om polkakolle van verskillende groottes en/of kleure te meng.
5. Laat een kleur pas


“Dit is baie belangrik om kleur in gedagte te hou wanneer jy jou uitrusting bymekaarsit. Jou patrone kan heeltemaal verskillend wees, maar dit moet ten minste een kleur in gemeen hê om mooi saam te werk,” sê Annelee.
6. Hou jou silhoeët eenvoudig

“Hou jou silhoeët so eenvoudig moontlik. Byvoorbeeld ’n patroonhemp of T-hemp by ’n hoë middelyf patroonbroek. So lyk dit meer gesofistikeerd as byvoorbeeld valletjies en frilletjies met patrone,” is Annelee se raad.
7. Breek die patroon met ’n effekleur

Dra byvoorbeeld ’n effekleurige baadjie of jas oor jou patroon hemp en romp. Of dra ’n effekleurige T-hemp onder ’n oopgeknoopte patroonhemp en broek.
8. Kies een groot patroon


Een patroon wat byvoorbeeld die aandagpatroon is, soos groot blomme wat nou in die mode is, en meng dit met kleiner blomme en strepe.
8. Wees strategies met groot patrone en proporsies


Groot patrone trek meer aandag, so maak seker jy trek aandag na die regte plekke. ’n Groot helder streep om ’n groot borsmaat sal byvoorbeeld nog meer aandag na die area trek. ’n Peervormige lyfvorm kan byvoorbeeld ’n groot patroon bostuk en ’n kleiner patroon romp of broek oorweeg.
9. Meng verskillende geruite patrone



Geruite patrone is baie in, en jy kan gerus verskillende patrone soos geruit met gingang of tartan met vensterraam geruit meng.
Annelee wat meestal donker kleure (veral swart) dra, sê haar gunsteling patrone is verskillende grootte geruite patrone in neutrale kleure. “Ek dra meestal donker kleure, maar voel dit voeg op ’n subtiele manier meer variasie by my klerekas.”
10. Teenoorgestelde kleure kan ook werk

Soos jy brawer word, begin met kleur ekperimenteer wat op die teenoorgestelde kante van die kleurwiel lê. Soos blou en rooi of pers en geel. Dit is wel belangrik om op een dominante kleur te besluit wat die meeste aandag trek.
11. Teenoorgestelde skakerings is meer subtiel

As dit vir jou te wild is, probeer aan skakerings van die kleure te dink. Soos donkerblou en roes saam in plaas van blou en oranje.
12. Patrone en kleure moet komplementeer nie kompeteer


Hou in gedagte dat jou kleure en patrone mekaar moet komplementeer en nie moet baklei vir aandag nie. Om byvoorbeeld patrone te dra wat in dieselfde patroonfamilie is, soos die geruite familie, te dra en dan kleure te meng werk goed.
13. Kies een dramatiese effek; óf kleur óf patroon

Jou patrone hoef nie bymekaar te pas nie, jy kan hulle kleure bymekaar laat pas, kontrasteer of komplementeer. Hoe meer dramaties die kleurverskil, hoe eenvoudiger kan jou patroonmengsel wees en andersom.
14. Dra ’n serp


Voeg ekstra patroon by of breek die patroon op met ’n serp om jou middel gebind.
15. Voeg ekstra patroon met bykomstighede by


Steeds bang om patrone te meng? Voeg een ekstra patroon met ’n bykomstigheid by, van ’n hoedjie tot ’n handasak of ’n serp. So kan jy gewoond raak aan ’n patroon en wie weet as jy brawer voel, begin oorgaan na klere.
Hierdie patrone is nou in
Pokakolle

Pokakolle in verskillende groottes, kleur en vorms. Polkakol-inspirasie hier: https://stylvol.co.za/kol-koller-koelste-polkakolle-van-klassiek-tot-kreatief/
Cabana strepe

Dink aan die strepe van sonsambrele, is groot nuus vir die somer. Bont en groot, en dit werk veral goed saam met maksimalisme en dopamiene modes wat weer aan die terugkeer is.
Geruit

in verskillende vorme en kleure
Groot blompatrone

Maremekko styl blomme in eenvoudige bypassend kleure met ’n grafiese gevoel eerder as mooi blommetjies.
Diervelpatrone

soos sebra, slang en die bambi-patroon wat steeds in die somer te sien is.
‘Camouflage’

En dan ‘camouflage’ broeke was oral by die onlangs Kopenhagen-modeweek te sien.
Patroonkopies










Icononography Strappy Waisted Maxi Dress Stripe Spot (R899, Bash)


Aurella Shirt Dress (R899, Ayana)






H&M Barrel-leg twill trousers – black/zebra print (R529, Superbalist)








