In die Mode-kollig; Esté Rabé van Bottomless Coffee Band

Ons volg al ’n rukkie Esté Rabé van Bottomless Coffee Band se cool en trendy aantrekstyl en ons kon nie wag om vir haar ’n paar mode vrae te vra nie! Esté deel 5 van haar gunsteling klere-items, uitrustings wat sy nooit sal dra nie, haar gunsteling ontwerpers en waar haar liefde vir mode begin het. Deur Justine Kroes

01/04/2022

Waar het jou liefde vir mode ontstaan?

Toe ek ’n klein dogtertjie was het ek eendag ’n tannie hoor sê “Hoe jy aantrek is ’n aanduiding van hoeveel respek jy het vir die geleentheid en vir die mense saam met wie jy daar is”.  Voor hierdie oomblik sou ek gereeld verdwaal in “konsertspeel” voor die spieël in van my susters se ou trompoppie-, ballet- en dirigentklere. 

Kostuum het my nog altyd aangetrek en blinkers en tutus en dinge wat ’n statement maak en ’n storie kan vertel.  Ek vermoed hierdie fassinasie en daardie tannie se woorde het ontmoet in my kop en ek het besef:

My selfrespek, hoe ek opdaag in ’n vertrek, waarvoor ek staan, wie ek is; dit kan alles versterk word deur wat ek kies om aan te trek.  Klere het soos ’n uitvloeisel van my persoonlikheid begin raak.  ’n Vorm van uitdrukking en nie net ’n funksionele item nie. 

Este Rabe

Beskryf jou modestyl?

Ek probeer om nie te veel te kyk na wat in die mode is nie, maar ek sal wel elemente daarvan inkorporeer.  Ek sou sê my styl is eklekties, elegant met ’n twist, glam-rock, euro-african, stylvolle street style.

Esté se 6 gunsteling items in haar klerekas

1. Swart Leer Broek

Ek het ’n swart egte leer broek van my Ma gekry wat ’n mens vir enige geleentheid kan dra – dis elegant en tydloos, maar voel so bietjie rock ‘n roll.

2. Sequin toppie

Ek het ’n swart langmou sequin toppie wat saam met alles werk.

3. Maroon Suz Shoes Boots

My maroon Suz Shoes boots – ek kom al lank saam met Suz Shoes en hierdie paar enkel boots is alles waarvoor ek lief is in ’n skoen.  Dis gemaklik en elegant, maar bold en ’n bietjie dramaties. Loer hier vir nog unieke ontwerpe.

4. Goue blinker broek

My goue glitter broek van Ateljee – want almal kort so ’n bietjie bling in hulle lewe!

5. Swart hoed

My swart hoed wat ek in Camden mark in Londen gekoop het – dit herinner my altyd aan reis en my belofte aan myself om altyd die avontuur te kies.

6. Amos swart en pers rokkie

My swart chiffon en pers glitter rokkie van Amos – dis gemaklik, die pers glitter maak ’n indruk en dit maak die onderkant van die rok swaarder sodat dit nie so maklik opwaai op ’n verhoog nie.  Dit knoop toe tot bo met lang moue wat dit vir somer of winter kan laat werk. Loer hier vir nog ontwerpe van Amos.

Wat sal jy NOOIT dra nie?

Blou jeans met ’n wit bloes.

Hoe verskil jou verhooguitrustings van jou alledaagse klerekasitems?

’n Mens kan maar altyd so ’n bietjie ekstra bysit vir die verhoog.  Ek sal soms dieselfde broeke vir elke dagse styl en op die verhoog dra. Ek kombineer dit net gewoonlik met iets blinks by vir die verhoog. 

Ek probeer altyd iets op die verhoog dra wat ek nie as ’n “elke dagse item” beskou nie – dit hou dinge interessant.

Ek sou sê dat die “elke dagse styl” meer patrone en teksture insluit (stylvolle street style en euro-african) en die verhoogstyl is vir blinkers, verskeie kleure en sequins (glam rock, elegant met ‘n twist),

Esté se gunsteling ontwerpers:

Ek dra graag Ateljee en Julie De Pao se glitter en sequins skeppings – dis gemaklik, maar baie indrukwekkend en die snitte pas my altyd goed.

Ek het ook ’n paar lospassende broeke en rokke van Isabel de Villiers – ek is mal oor die materiale wat sy gebruik en die tekstielontwerp wat baie lyne, letters en helder kleure insluit. (Klik hier vir Isabel de Villiers se aanlyn winkel)

Este by Ontwerper Isabel de Villiers
Este in Isabel de Villiers

Ek laat ook graag spesifieke goed ontwerp by Olga-Maré Möller – sy is regtig goed met ontwerp vanaf idees en prentjies wat ek in my kop het.

Ek het ’n gunsteling denimbaadjie van Jeanius Platform – dis kuns op denim!

Este se moderaad:

Ken jou lyf en verstaan wat komplementeer jou tipe bou.  Om vir jouself mooi te lyk is die heel belangrikste.

Moenie bang wees om aan te trek waarvan jy regtig hou nie – daar is nie reëls nie en jou mooiste klere hoef nie stof te vergader vir spesiale geleenthede nie.  Vertrou jou instink – as jy iewers instap en iets praat met jou is dit joune, moenie te veel daaroor dink nie.

Onthou dat jou klere JOU storie en persoonlikheid moet verteenwoordig, niemand anders s’n nie

Esté oor volhoubare modekeuses:

Op ’n stadium het hoeveelheid belangriker geraak as kwaliteit. Omdat supermarkte en groot klere- winkels toegestroom is met goedkoop, lae kwaliteit hoeveelhede items, het mense begin aanneem dat dit is wat dit veronderstel is om te kos. Dit is soms skokkend om te besef hoe dit gekom het dat die groot verskaffers so goedkoop kan vervaardig. Ons behoort teen goedkoop, onvolhoubare metodes van vervaardiging te stem, elke keer as jy vir iets betaal stem jy letterlik vir of teen ’n industrie.

Dit is makliker gesê as gedaan, maar betaal eerder duurder vir goeie kwaliteit, plaaslike vervaardigde of volhoubare mode waar en wanneer jy kan.  Of koop tweedehands.

Este Rabe

Skenk gereeld klere wat jy nie meer dra nie en probeer items koop wat jare sal kan hou en wat jy oor en oor op verskillende maniere kan dra.  Ek dra soms vir jare nie iets nie, maar dit bly in my kas en as ek dit een seisoen weer optel is dit vir my die mooiste item en dra ek dit weer met nuwe oë.  Jy “recycle” op hierdie manier amper jou eie styl en klere.

’n Show naby jou!

As jy graag vir Esté in haar pragtige uitrustings wil sien, loer hier vir ’n vertoning deur Bottomless Coffee Band…dalk naby jou:

Polokwane – Grounded Container Bar – 21 April

Tzaneen – Old Packhouse – 22 April

Hoedspruit – Blue Mountain – 26 April

Pretoria – Barnyard Menlyn – 28 April

Witrivier – Yoons Barnyard – 29 April

Clarens – Noah’s Cheese – 1 Mei

Hermanus – Hermanuspietersfontein – 7 Mei

Nelspruit – Hoërskool Nelspruit – 21 Mei

Stellenbosch – Muratie – 28 Mei

Klik hier om vir Bottomless Coffee Band te volg op Instagram of stuur ‘n epos aan info@bottomlesscoffeeband.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
‘Very Peri’ Pantone kleur van die jaar items vir jou klerekas
error: Content is protected !!