‘Jorts’ (jean shorts) was oral by modeweke te sien. En dit is wonderlike nuus vir die van ons wat kortbroeke wil dra gedurende somer, maar nie soveel hou van been (of knieë) wys nie. Maar hoe dra mens dit sonder om soos ’n (of jou!) tienerseun te lyk? Deur Suzanne Kotzé
’n Vriendin het onlangs vir my die wenk gegee om my tienerseun se jorts aan te pas en te kyk hoe dit lyk. En ek was verbaas, oor hoe lekker ek daarin gevoel het toe ek eers begin rondspeel met stilering.
1. Hou jorts se lengte in ag
Net bo of net onder jou knieë is waar jorts moet eindig. As jy groot kuite het, wees versigtig dat die jorts nie op die grootste deel van jou kuite eindig nie. Rol gerus die soom om sodat dit op die regte plek eindig. As jy korter is en sukkel met jorts wat te lank is, laat maak dit gerus korter sodat dit op die regte plek eindig. Dit is iets wat vinnig gedoen kan word deur enige naaldwerkster.
2. ’n Klein hakkie lyk elegant

‘Slingback’ midi-hakke (of hoër as jy kans sien) kan jorts dadelik minder tienerseun en meer stylvol laat lyk. Daar is natuurlik altyd plek vir ’n tekkie of sandale hierby as jy meer informeel wil lyk, maar netjieser, vrouliker skoene verhef net die voorkoms.
3. ’n Tikkie vroulikheid met ballerinastyl skoene

Ballerinastyl skoene skep ’n nouer silhoeët saam met ’n meer bonkige broek en skep ’n mooi kontras tussen manlik en vroulik. Veral as jy dit saam met iets soos ’n kraaghemp dra.
4. Steek jou hemp in

’n Kraaghemp ingesteek by jou jorts en ’n gordel wat jou middel definieër laat jou voorkoms afgerond lyk.
5. Kamisoolstyl-bostuk

Die onderklere-trend is nog hier om te bly en ons is mal oor die kontras tussen ’n vroulike kant kamisoonstyl bostuk en jorts. Dra gerus ’n blazer bo-oor as jy minder lyf of arms wil wys.
6. Verhef jou voorkoms met ’n baadjie

’n Baadjie saam met jorts laat die voorkoms dadelik meer afgerond en volwasse lyk.
7. Denim by denim

Denim by denim bly natuurlik altyd ’n koel keuse, hetsy jy ligter of donkerder denim wil dra.
8. Stelling skoene

Skoene wat ’n stelling maak (hoe mooi is die sebra skoene!) saam met ’n eenvoudige uitrusting is ’n goeie manier om jou voorkoms meer interessant en modieus te laat lyk.
9. Jorts in ander kleure

Onthou jorts hoef nie net in ligte denim te wees nie, indigo denim, donkergrys, swart en selfs wit is dalk makliker om te dra as jy ’n meer klassieke styl het.
10. Stewels en jorts

Die Europese modebewustes dra tans jorts saam met stewels (en jasse) aangesien dit nou herfs is. ’n Goeie idee vir ’n koue somersdag.
11. Sit ’n serp by
Somer se moet-dra bykomstigeheid (lees hier: Moet-hê somerbykomstigheid: Die somerserp) werk natuurlik ook goed by jorts.

Die jorts uitrustings wat ons op die oomblik wil dra




Jorts nou beskikbaar
Jou lengte speel natuurlik ’n groot rol as die by jorts kom en jy sal dalk ’n hele paar moet aanpas voordat jy die regte een kry. Wenk: Loer gerus ook by die mans-afdeling as jy ’n langer dame is.














