Daar bly darem maar min dinge so mooi soos ’n stylvolle somersrok. Elke vrou se ideale rok resep lyk natuurlik anders. Party van ons verkies rokke wat onder die knie val, waar ander weer ’n rok bo die knie verkies. Sommige van ons voel selfbewus oor ons bo-arms en ander hou weer van asimmetriese en skouerlose rokke. Hoe dit nou ookal sy, daar is ’n somersrok vir elke stylpersoonlikheid en voorkeur. Loer gerus hier na ons top rokkeuse wenke, en 23 somersrokke wat nou in die winkels en aanlyn beskikbaar is.
Deur Justine Kroes
4 wenke vir somersrokke kies:
1. Kies ’n rok met ’n lang rakleeftyd
Lang rakleeftyd? Dit beteken ’n rok wat nog vir jare lank ’n stapelitem in jou klerekas sal wees. So ’n rok wat gewoonlik van goeie gehalte materiale vervaardig is, se prysetiket mag aan die duur kant wees.
Hoewel, as jy die “cost per wear” bereken (die prys van die rok verdeel teenoor die aantal kere wat jy die rok dra), sal jy vinnig die waarde van so ’n kopie agterkom.
2. Kies ’n rok wat gemaklik sit
Jy ken dalk die gevoel daarvan om ’n rok te dra waarin jy heeldag ongemaklik voel, die rok sit te styf om jou middel of arms, of die rok sit te los en die bandjies val heeldag af.
Dit gaan ongelukkig dadelik wys as jy nie gemaklik voel in ’n rok nie, jy gaan heeldag staan en regtrek. Kies eerder ’n rok wat perfek sit en goed voel aan jou lyf.
Die perfekte rok moet daardie een wees wat jy gryp as jy laat is en nie tyd het om te dink wat jy moet aantrek nie – jy kies hom want jy weet als werk, van die kleur, tot die snit tot hoe dit voel teen jou vel.
3. Die materiaalkeuse is belangrik
Daar is niks erger as om ’n “koel” rok aan te trek net om te besef hierdie nommer klou heeldag lank aan jou warm lyf nie. Loop eerder vanjaar verby die ontwerpe wat van sintetiese materiaalstof gemaak is.
Vermy ontwerpe met materiaalname soos poliëster, nylon en viskose. Al hierdie materiaalsoorte word beskryf as “manmade fibers” en is nie natuurlike materiaalstof nie. Onthou, selfs al lyk die materiale lieflik lig en dun, absorbeer dit nie water nie (sweet!) en die materiaal ‘haal nie asem’ nie.
Kies liefs materiale wat asemhaal soos linne of katoen.
Linne is heerlik lig, lugtig en koel om te dra, perfek vir warmer somermaande. Dit voel koel omdat die vesels lank en wyd is en meer lug deurlaat asook vog afweer. Het jy geweet linne kan tot 20% van sy eie gewig in water opneem voordat dit nat of klam voel?
4. Rokstyle wat tans trend
Die komende somerseisoen se modetrends het ons behoorlik opgewonde, goedvoel en dopamiene-mode is terug en ons kla nie daaroor nie.
Die gewilde rokstyle wat tans op internasionale loopplanke en aan mode-bekendes pronk sluit in:
Helder rokke, veral in gewilde skakerings van die seisoen soos rooi, akwablou en bottergeel.
Bont patrone, insluitend strepe, blomme en polkakolle
Asimmetriese rokke (onder asimmetries gesny of eenskouer asimmetries)
Romantiese rokke met frille en valle
Rokke met kantdetail
Rokke met ’n “drop waist” wat beteken dat dit noupassend tot op jou heupe sit en dan sag en vleiend oor bobene en boude na die onderkant toe val.
Rokke met ’n v-voorpunt rondom die middel





























