Die moet-dra somer modepatroon: Strepe!

Jammer polkakolle, strepe is op die oomblik mode se gewildste patroon. Van fyn tot breë strepe, en sommer alle groottes en skakerings strepe sommer so saam gestileer.

Bekende ontwerpers soos Loewe, Missoni, Jacquemus, Calvin Klein en Isabel Marant het strepe op verskillende maniere in hul lente/somer 2026-versamelings ingewerk. Van gebreide sigsag-patrone tot Loewe se strepe wat in verskillende rigtings afloop, is die boodskap duidelik: hierdie seisoen gaan dit oor kreatiewe kombinasies met ’n speelse benadering tot hierdie klassieke patroon.

En nee, jy hoef nie ’n nuwe klerekas aan te skaf om vir die somer jou strepe te dra nie.  Hier is ses maniere om strepe in 2026 te dra, met praktiese wenke om dit vir jou te laat werk. Deur Justine Kroes

1. Gaan groot met helder kleure

Die klassieke wit en vlootblou (of swart en wit) sal vir altyd ’n tydlose modestapel bly, maar helder, veelkleurige strepe gee jou uitrusting ’n moderne hupstoot. Dink aan rooi en pienk, groen en blou, of verskillende skakerings van geel en oranje.

Stileerwenk: Laat jou gestreepte kledingstuk die ster van die uitrusting wees deur dit met ’n neutrale kleur soos wit, denim, beige of sjokoladebruin te kombineer.

Die heel maklikste manier om strepe in helder kleure (of klomp verskillende helder kleure) te dra is om dit eenvoudig in ’n rok te dra. Dit is een item wat al die harde werk vir jou doen. Kombineer met ’n minimalistiese paar skoene en handsak, al wat jy nodig het om die uitrusting af te rond.

2. Eksperimenteer met die rigting van die strepe

Horisontaal, vertikaal, diagonaal of selfs ’n kombinasie van al drie: strepe hoef nie altyd in dieselfde rigting te loop nie. Een van die interessantste maniere om die patroon in 2026 te dra, is met ’n kledingstuk waarin die strepe in verskillende rigtings verander, byvoorbeeld ’n rok met diagonale panele of ’n hemp met vertikale en horisontale strepe.

Stileerwenk: Vertikale strepe kan jou langer en slanker laat vertoon, terwyl horisontale strepe breedte en visuele gewig kan byvoeg, mits dit nie op die regte plek val nie. Diagonale strepe en chevron-patrone lei die oog oor die kledingstuk en skep die illusie van beweging, juis hierom is diagonale en chevronstreep patrone super vleiend. Let net op waar die strepe begin en eindig, dit is gewoonlik waar jou oë sal rus.

Hoewel dit ’n goeie idee is om die raad in jou agterkop te hou het ons ook al geleer daar is geen vaste reël dat een rigting beter of meer vleiend as ’n ander is nie. Die snit, materiaal, kontras en plasing van die strepe op die kledingstuk speel alles ’n rol.

Gebruik strepe strategies: indien jy aandag op jou skouers wil vestig, probeer ’n gestreepte top; of dalk wil jy jou bene beklemtoon? Kies dan ’n gestreepte broek of romp.

3. Probeer ’n gestreepte bykomstigheid

Indien jy huiwerig voel om strepe van kop tot tone te dra, kan jy liefs eerste ’n gestreepte bykomstigheid probeer. ’n Gestreepte serp, handsak, skoene of selfs ’n trui wat los oor jou skouers gedrapeer word maak elk hul eie modieuse stelling.  

Stileerwenk: Gebruik jou gestreepte bykomstigheid om ’n eenvoudige uitrusting op te hef. ’n Helder serp werk goed saam met ’n wit hemp en denim, terwyl ’n gestreepte handsak ’n neutrale somerrok meer interessant kan laat vertoon. ’n Gestreepte trui oor jou skouers voeg kleur en tekstuur by, en is boonop prakties wanneer die weer verander.

4. Dra ’n bypassende gestreepte stel

’n Gestreepte hemp en bypassende broek, of ’n top en romp in dieselfde materiaal, is ’n maklike manier om ’n afgeronde uitrusting te skep. Dit lyk doelbewus gestileer, maar verg super min moeite.

Stileerwenk: Hou bykomstighede eenvoudig as die strepe reeds baie kleurvol of opvallend is. Sandale, ’n eenvoudige handsak en minimalistiese juwele laat die patroon die praatwerk doen. Vir ’n meer ontspanne voorkoms, dra die hemp oop oor ’n eenvoudige toppie of rol die moue op.

5. Laat een kledingstuk die praatwerk doen

As jy onseker is oor strepe, begin met een fokuspunt: ’n gestreepte hemp, broek, romp of rok. Kombineer dit met eenvoudiger items om die patroon te laat uitstaan.

Stileerwenk ’n Gestreepte hemp werk uitstekend saam met ’n paar denims of ’n neutrale broek. ’n Gestreepte broek kan weer gebalanseer word met ’n wit T-hemp of hemp.

6. Meng jou strepe, meer is meer!

As jou stylpersoonlikheid ’n tikkie drama geniet is hierdie somer die tyd om jou strepe met srepe of ander patrone te meng.

Kombineer byvoorbeeld ’n hemp met fyn strepe met ’n romp met breër strepe, of meng verskillende streepkleure en streep rigtings. Hierdie manier van aantrek pas by die meer speelse, maksimalistiese benadering tot mode wat in 2026 weer groot nuus is.

Stileerwenk: Begin deur een element te herhaal. Dit kan ’n kleur wees wat in albei gestreepte items voorkom, of ’n soortgelyke streepkontras. Jy kan ook die skaal (grootte van strepe) verander: fyn strepe saam met breë strepe skep meer dimensie as twee patrone wat presies dieselfde lyk. Dalk wil jy blomme of ’n ander patroon byvoeg? Kies een met minstens een kleur wat by jou strepe aansluit.

Onthou: Daar is nie meer net een regte manier om strepe te dra nie. Speel met kleur, patroonrigting en proporsies, probeer verskillende kombinasies en dra dit op ’n manier wat jou persoonlike styl weerspieël.

Op ons streep kooplysie:

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Reg of weg! Marilize de Clercq se lentemoderaad
error: Content is protected !!