Beskerming teen die son is belangrik, maar het jy geweet sonveiligheid is vir kinders ekstra belangrik? Ons het Dr Ian Webster, Kaapse dermatoloog en stigter van Dermastore.co.za raad gevra oor sonbeskerming vir kinders en hoe om dit reg toe te pas. Lees sy interessante raad hier: Deur Justine Kroes
Hoekom is sonskerm belangrik, veral vir jonger kinders?
Dr Webster: Sonskade op die vel is kumulatief – dit beteken dat sonskade begin plaasvind van geboorte af. Dink so daaraan, asof jy ’n metertjie op jou voorkop het wat 000 lees van geboorte af, en elke episode van sonblootstelling tel die metertjie op.
Hoe meer gereeld sonblootstelling plassvind en hoe ligter die vel is, hoe hoër is die kans dat velkanker later mag ontwikkel. Dit is daarom uiters belangrik om te begin met sonvermyding, maar ook sonbeskerming van dag een af.
Dr Webster
Onthou babas en kinders se velletjies is dunner, en bevat minder melanien. Boonop sukkel 20% van alle kinders met atopiese ekseem wat beteken hul epidermale sperfunksie (wat vog binne jou vel hou) werk nog nie behoorlik nie.
Hoe gereeld moet sonskerm (dwarsdeur deur swem en speeltyd) weer aangewend word?
Dr Webster: Sonskerm behoort 15 tot 30 minute voor sonblootstelling aangewend word. Daarna moet dit weer elke twee ure na swem, sweet of lyf droogmaak weer aangewend word.
As jou kind swem – kies liefs ’n waterbestande sonskerm vir ekstra veiligheid.
Waarvoor staan die verskillende sonskerm faktore 15/30/50?
Dr Webster: Hierdie getalle verwys na die mate waarop lank die sonskerm jou sal beskerm teen UVB-strale. Met ander woorde hoe lank die sonskerm jou sal beskerm teen sonbrand.
Waarna moet ouers kyk wanneer hul ‘n sonskerm vir kinders kies?
Dr Webster: Ek stel ’n mineraal-formule sonskerm voor, een wat spesifiek ontwerp is met kinder velletjies in gedagte. Die formulering is gewoonlik meer minimalisties en bevat sinkoksied en titaandioksied, wat nie sommer jou kind se vel sal irriteer nie.
Nog ’n voordeel van ’n minerale sonskerm is dat jy dadelik na aanwending in die son kan baljaar.
Dr Webster se voorstelle:
Stylvol se voorstelle:
Die verskil tussen sonskerm en sonblok?
’n Sonskerm bevat chemiese filters wat ultraviolet bestraling absorbeer.
’n Sonblok bevat minerale soos sinkoksied en titaandioksied wat hierdie bestraling wegreflekteer.
Die verskil tussen UVA en UVB bestraling?
UVA bestraling het ’n langer golflengte en penetreer dieper in jou vel. Hierdie bestraling veroorsaak vel-veroudering en velkanker. UVA penetreer deur normale glas, waar UVB deur glas absorbeer word.
UVB bestraling veroorsaak sonbrand en velkanker. Die een voordeel van UVB is dat dit klein hoeveelhede Vitamien D in die vel produseer, wat dan deur jou bloedstroom geabsorbeer word. Vitamiene D is noodsaaklik vir ’n gesonde been en spier-struktuur en ’n gesonder immuniteitstelsel
’n Eenvoudige manier om die verskil te onthou:
UVA = Ageing
UVB = Burn.
Hoeveel sonskerm moet ek aan my baba/ kleuter aanwend?
Die belangrikste hier is dat al die blootgestelde areas op die vel mildelik met sonskerm bedek word. Kies ’n sproei-botteltjie, dit werk die maklikste om sonskerm op besige lyfies aan te wend.
Dr Webster se top sonbeskermingswenke:
- Vermy die middagson, gaan eerder vroegoggend of laatmiddag strand toe.
- Soek altyd skaduwee op die strand – maar onthou, son-weerkaatsing van die sand kan ook velbrand veroorsaak. Wend altyd sonskerm aan, selfs al sit jy onder ’n sambreel.
- ’n Wye rand, styf geweefde sonhoed is ’n moet vir kinders. Nie ’n piek-hoed wat net die gesig beskerm nie.
- Kies langmou swemklere en materiale wat beskerm teen UV-strale
- Van geboorte tot ses-maande is dit belangrik dat jou kind min of byna geen direkte sonblootstelling kry nie. Babas en kleuters kan nie kommunikeer om jou te laat weet dat hulle brand nie, dit is jou verantwoordelikheid as ouer om kinders sonveilig te hou.
- Neem die tyd om vir jou kinders van jongs af goeie songewoontes aan te leer. Verduidelik gereeld hoekom dit belangrik is om deeglike sonbeskerming toe te pas.
- Onthou net een slegte sonbrand of sonblase ervaring tydens jou kinderjare kan die kans van die ontwikkeling van ’n kwaadaardige melanoom later in jou lewe verhoog.
Lees ook: Die pH van baba se vel, het jy geweet dit is belangrik?