so werk serums
so werk serums

Só werk serums

Serums is al lank deel van vele vroue se velsorgroetines, maar vir ingeval jy nie seker is nie: só werk serums. Glo ons, hierdie stap (voor jou dag-of nagroom as jy dalk wonder) is nie een wat jy wil mis nie. Deur Suzanne Kotzé

Só werk serums

Wat is ’n serum?

’n Serum bevat gewoonlik minder olie, meer vloeistof en meer gekonsentreerde bestanddele as ander velsorgprodukte. Die tekstuur is lig en die molekules kleiner en kan jou vel dieper as ander velsorgprodukte binnedring. Dit is ideaal om spesifieke probleme soos pigmentasie of fyn lyntjies op te los. Serums bevat ook gewoonlik meer aktiewe bestanddele en ’n hoër konsentrasie daarvan. 

Wanneer moet ek ’n serum aanwend?

Soggens en saans, maar saans is die belangrikste, want dit is wanneer selhernuwing plaasvind. Sommige serums wat byvoorbeeld retinol bevat, moet slegs saans aangewend word. Serums wat hoog is in anti-oksidante en wat ook help om jou teen UV-strale en besoedeling te beskerm, is gewoonlik goeie keuses vir die dag. 

Hoeveel serum moet ek aanwend?

Slegs ’n paar druppels; gewoonlik is drie tot vier (as jou serum ’n pipet het) of een spuitjie genoeg. 

Hoe moet ek dit aanwend?

Verskillende skoonheidshuise het verskillende voorkeurtegnieke. Ons hou daarvan om om serum met ‘klaviervingers’ aan te tik. Moenie bekommerd wees as jou vel effens prikkelrig voel na jy jy jou serum aangewend he niet – dit is normaal vir aktiewe bestanddele (veral vitamien C en retinoïede). 

In watter stap in jou velsorgroetine moet ’n serum aangewend word?

Voordat jy jou dag- of nagdroom aansmeer. Wag egter so ’n minuut sodat jou serum lekker intrek voordat jy jou room aansmeer. Borsel solank jou tande of smeer jou lyfroom aan nadat jy jou serum aangewend het en voordat jy jou gesigroom aansmeer. 

Moet ek nog steeds room ook aansmeer?

Ja jy moet. Serums bevat baie aktiewe bestanddele en bestanddele wat kleiner molekules het sodat dit jou vel dieper kan binnedring. Hulle bevat geen versagmiddels nie en verskaf meestal nie genoeg vog aan jou vel nie. 

Hoekom lyk serums se botteltjies anders as ander velsorgprodukte?

Omdat serums baie meer aktiewe bestanddele het, is dit belangrik dat die verpakking lig- en lugdig moet wees, anders word die aktiewe bestanddele minder effektief. ’n Dekade of wat gelede het die meeste serums pipetaanwenders gehad, maar vandag het die meeste van die serums wat ons getoets het pompbotteltjies of dosis-spesifieke aanwenders. 

Vir ’n helderder vel en beskerming teen besoedeling

Endocare Radiance C Ferulic Edafence Serum (R1146)

Endocare Radiance C Ferulic Edafence Serum is vanaf Mei by Dermastore, Skin Renewal en Skin Miles beskikbaar)

Die aanwender van hierdie serum is wonderlik! Dit trek presies die regte hoeveelheid op vir een aanwending. Die serum bevat Edafence (afkomstig van ’n plant in Antartika) wat help om jou vel teen besoedeling te beskerm. Dit bevat ook Vit C (5%), Vit E en ferulsuur (ferulic acid) wat kragtige anti-oksidante is en ook help om jou vel helderder te laat lyk. Dit bevat ook groeifaktore wat help met vernuwing. Ons gebruik hierdie graag bedags. 

Clarins Bright Plus Advance Brightening Serum (R870 vir 30ml) 

Clarins Bright Plus Serum

In ware Clarins-styl ruik en voel hierdie serum lieflik. Dit bevat kragtige anti-oksidante, natuurlik van botaniese afkoms, soos roosmirt (Rose-Myrtle) en Acerola bessies wat besonder hoog in vitamien C is en wat help om jou vel helderder en meer glansend te laat lyk. Hialuroonsuur is verantwoordelik is vir die sy-agtige tekstuur en gee ekstra vog. 

Eucerin Even Pigment Perfector Dual Serum (R619 vir 30ml) 

Eucerin-Even-Pigment-Perfector

Twee serums in een botteltjie wat saam uitkom en mekaar komplimenteer. Aan die een kant is Eucerin se gepatenteerde Thiamidol® wat help om donker merke te verminder en aan die ander kant hialuroonsuur wat bevogtig. 

Helder en gehidreerd

CLE Cosmetics Serumide (R1490 vir 50ml, Strl Shop)

Hierdie serum gee wonderlike bevogtiging vir droë, dowwe vel. Dit bevat van ons gunsteling bestanddele; niasinamied (wat help met teenveroudering) en hialuroonsuur (bevogtiging). Dit is ook veganis-vriendelik. Die jeltekstuur trek vinnig in en dit het ’n heerlike skoon reuk. 

Eerste tekens van die ouderdom 

Gatineau Melatogenine MorphoBiotique Serum (R1350 vir 30ml)

Gatineau Melatogenine Serum

Die hele Melatogenine MorphoBiotique-reeks is spesifiek geskep vir die eerste tekens van veroudering soos fronsplooie en die marionetlyne (langs jou mond). Die serum help om vrye radikale te neutraliseer.

Vir meer volwasse, droë vel

Nuxuriance Gold Nutri-Revitalizing Serum (R1045vir 30ml)

Nuxe Nuxuriance Gold serum

Hierdie serum ruik soos spa! Saffraan, Bougainvillea en ’n gepatenteerde formule van porseleinroos help dat droë en dun velle (dankie ouderdom) sterker en en meer glansend lyk. 

Olierige, meer volwasse vel 

Filorga Age Purify Intensive Serum (R1430 vir 30ml)

Filorga Age Purify Intensive

Hierdie Age Purify reeks is spesifiek geskep vir die wat met plooie en puisies of olierige vel sukkel. Dit is baie meer algemeen as wat jy dink, so moenie alleen voel nie! Dit bevat kruie-ekstrakte, peptiedes (wat help om kollageen te vorm), sink (verminder olieproduksie) en sure wat help om die tekstuur, vergrote porieë en puisies te verminder. Die serum help om jou vel te balanseer danksy die ekstrak van die achiote plant.

Hidrasie

Solal Hydration Serum (R445 vir 30ml) 

Solal Hydration Serum

Hierdie is ’n wonderlike sakpas-opsie as jou vel gedehidreerd voel. Dit bevat jojobasaad-olie wat strelend is en goed werk as die sperfunksie van jou vel beskadig is. Dit bevat ook hialuroonsuur. Sodra jou vel meer bevogtig is, lyk plooie ook minder erg. Die vog vul van die (let wel nie alles nie) ‘klowe’ op. Die serum voel heerlik en trek vining in. Ons is ook gaande oor Solal se nuwe verpakking.  

As jy “Só werk serums” geniet het lees ook: Alles wat jy wil weet oor gesigwas

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Twienervelsorg aknee
Twienervelsorg vir aknee en puisies
error: Content is protected !!