omgewingsvriendelik
omgewingsvriendelik

5 omgewingsonvriendelike skoonheidsoortredings wat jy dalk pleeg

Dit is maar al te maklik om omgewingsonvriendelike skoonheidsoortredings te pleeg. Die meeste van ons is aan minstens een of meer skuldig. Onthou, jy hoef nie alles wat jy doen te verander nie, dikwels voel ons geïntimideerd en dan los ons dit heeltemal, maar elke aanpassing van jou kant af, al is dit hoe klein, kan ’n verskil maak. Deur Suzanne Kotzé

Omgewingsonvriendelike skoonheidsoortreding 1: Jy gebruik watte om grimering te verwyder

Oplossing: “Die grootste verandering wat jy aan jou skoonheidsroetine kan maak is om ’n volhoubare grimeerverwydersmetode of -produk te kry”, sê Robyn Smith, eienaar van Faithful to Nature.

Probeer: Faithful to Nature Konjac Sponge (R99, faitful-to-nature.co.za) om jou gesig af te vee in plaas van watte. Psst die sponsie is bio-afbreekbaar, so gooi dit gerus op jou komposhoop as jy hom nie meer kan gebruik nie.

As jy nie sonder watte kan nie, het ons danksy ons blogger vriendin, Candice-Lee Kannemeyer van In My Bag, geleer van Last Round (prys is afhangend van die wisselkoers R217, thelastobject.com). Die sewe katoensirkels voel soos watte, maar is herbruikbaar. Was of spoel dit uit nadat jy dit gebruik het, laat dit droog word en sit dit terug in die oulike houertjie. Jy kan glo tot 1 730 gebruike hieruit kry. Ons het dit sommer dadelik bestel, want ons is nou maar een maal lief om watte te gebruik, veral om ooggrimering te verwyder. Die afleweringskoste is wel duurder as die produk self (om en by R334). Daarom het ons sommer vier bestel en die afleweringskoste het dieselfde gebly. Dit is dalk ’n goeie idee om dit saam met vriendinne te bestel en die afleweringskoste te deel.

Omgewingsonvriendelike skoonheidsoortreding 2: Jy herwin nie jou jou verpakking nie

Jy is dalk goed daarmee om jou kombuisvullis uit te sorteer, maar wanneer dit by jou badkamer kom, land alles in een drommetjie.

Joseph Joseph Split Bin

Oplossing: Kry ’n drommetjie met twee kante soos die Joseph Joseph Split™ Bathroom Bin (R649, Woolworths). Nog ’n oplossing is om twee klein drommetjies te koop in verskillende kleure en herwinbare verpakking in een kleur drommetjie te gooi.

Omgewingsonvriendelike skoonheids oortreding 3: Jy maak nie van terugbringdienste gebruik nie

Baie skoonheidshuise bied afslag, of selfs ’n gratis produk as jy leë houertjies terugbring wat hulle kan herwin of hergebruik.

Oplossing: ondersteun hierdie dienste

Lush: As jy vyf leë potjies of buisies terugbring met die woorde “Not Virgin” daarby, kry jy ’n gratis Fresh Face Mask.

MAC Cosmetics: Met die Back-to-Mac-program kan jy ’n gratis MAC-lipstiffie van jou keuse kry as jy ses leë houertjies van hul primêre verpakkings na ’n MAC-winkel of -toonbank terugneem. Lees meer hier

Omgewingsonvriendelike oortreding 4: Jy gooi bio-afbreekbare verpakking by jou gewone rommel

Oplossing: Bio-afbreekbare verpakking hoort op jou komposhoop of in die grond. Die meeste bio-afbreekbare produkte sal jare neem om op vullishope af te breek.

Omgewingsonvriendelike oortreding 5: Jy koop handelsmerke wat nie volhoubaar is nie

Doen jou huiswerk en besluit wat vir jou belangrik is en ondersteun handelsmerke daarvolgens. Van geen toetsing op diere (kyk vir die leaping bunny symbol), veganisties (met geen diere of dierebyprodukte soos lanolien, heuning of byewas) tot produkte met volhoubare en min verpakking, wat van herwinbare materiale gemaak is en of self herwinbaar is. Dan is daar natuurlik ook nog fair trade en organies.

Produkte wat ons onlangs ontvang en getoets het:

Omgewingsvriendelike skoonheidsprodukte

Nuxe se Bio-Organic-reeks

Die reeks wat laasjaar bekendgestel is, het sertifikasie dat dit veganisties en organies is. Hulle het egter pas vyf nuwe produkte bekendgestel wat selfs nog meer omgewingsvriendelik is deur die gebruik van water (’n skaars hulpbron) te verminder.

Die Cleansing Oil (R675 vir 200ml) is nie net heerlik vir grimeerverwydering nie, maar ook as ’n stortolie. Die bestanddele is van 100% natuurlike oorsprong en 81% is verkry vanaf organiese boerdery en die formule bevat geen water nie.

Jy kan die Nuxe Bio Organic reeks by orleanscosmetics.co.za koop

As jy nog nie ’n aansmeerdeodorant geburik het nie, sal jy aangenaam verras wees oor hierdie Balm Deodorants. Jy smeer dit soos room aan. Dit bevat absorberende botaniese poeier en oganiese botaniese olie. Dit is in twee weergawes beskikbaar: Fresh Feel wat botaniese kokosneutolie bevat en die ander weergawe Sensitive Skin bevat amandelolie. En ja dit voel asof jy room aan jou kieliebak smeer, maar dit laat geen wit strepe nie en hou die reuke weg en bevogtig ook.

Die Ultra Rich Soap is beskikbaar in Invigorating en Gently en kan gebruik word om jou gesig en lyf mee te was. Ons het nie gedink ons sal ooit ons gesigte met ’n koekie seep was nie! Gelukkig is hierdie nie ’n gewone koekie seep nie! Die romerige formule met botaniese olie is ook bevogtigend en word deur ’n meester seepmaker in Frankryk gemaak.

Die verpakking word meestal van herwinbare materiaal gemaak en is ook herwinbaar terwyl die formules bio-afbreekbaar is.

Salt & Stone Deodorant

Ek gebruik al vir meer as ses maande Salt & Stone Eucalyptus & Cedarwood Deodorant No1. En ek kan nie meer hiersonder nie! My vriendinne kon nie glo dat ek R300 betaal vir deodorant nie, tot ek vir hulle gesê het dat ek minstens vier maande uitkom hiermee. Ek hou so baie hiervan, dat ek dit selfs al vir ’n vriendin gekoop het vir haar verjaarsdag! En nou kan sy ook nie hiersonder nie. Dit bevat magnesium, Tapioca stysel, koeksoda en probiotika om reuke te neutraliseer en vog te absorbeer.Probiotika help om die balans tussen goeie en slegte bakterië te behou.

Salt & Stone Deodorant Natural (R300, elk van STRL)

Salt & Stone het pas ook ’n nuwe weergawe bekendgestel 02. Waar die No1 romerig is, is hierdie weergawe deursigtig en voel ligter en varser op jou vel. Dit is beskikbaar in Bergamot & Eucalyptus, Santal & Vetiver en Eucalyptus (R300, elk van STRL). Al drie ruik heerlik en dit werk goed. Al die geure kan deur mans en vroue gedra word.

Die houertjies word van afvalplastiek uit die oseaan gemaak en die verpakking is herwinbaar.

Jy kan Salt & Stone by STRL Cosmetics koop en dit is volgens hulle veganisties en word nie op diere getoets nie.

Zero deur Skin Academy

Zero Night Cream (R395, Dischem)

Die Zero Night Cream het al verskeie pryse gewen en bevat galambotter en groentee ekstrak. Die room se tekstuur is ryk, maar los nie ‘n lagie op jou vel nie. Volgens Skin Academy is hulle produkte veganisties en toets hulle nuwe op diere nie. Beskikbaar by Takealot en Dischem

Nivea Naturally Good

Die stortjel bevat 98% natuurlike bestanddele en die verpakking is meer omgewingsvriendelik en word van hewinbare plastiek gemaak. Die formule is ook bio-afbreekbaar.

Lees meer oor die Nivea Naturally Good reeks hier

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
parfuumwenke
10 Beste parfuumwenke
error: Content is protected !!