Rolene Strauss & Vanes Mari du Toit was albei al aan die ontvangkant van aanlyn bitsigheid en gee raad en wenke. Rolene (ook ’n lewensafrigter) meen dat ons tans deur ’n baie moeilike tyd gaan en dit beïnvloed hoe ons reageer, in die regte lewe maar ook op sosiale media. Vanes-Mari sê die kritiek wat sport vergesel het haar van jongs af minder sensitief gemaak oor aanlyn kritiek. Deur Suzanne Kotzé
Rolene Strauss oor aanlyn bitsigheid
Sosiale media is soos ’n swaard wat na twee kante toe sny. Ons het:
- die voorreg om ons opinie te kan deel
- die verantwoordelikheid om nie ons opinie so te deel dat ons ander seermaak nie. Dit vergeet ons soms.
Dit is belangrik om te onthou dat daar ’n persoon aan die anderkant van die foon is wat jou opmerkings lees en dat dit kan seermaak.
Lelike kommentaar en opmerkings maak seer
Vanaf 2014 toe ek mej. Suid-Afrika gewen het, kry ek gereeld lelike aanmerkings. Dit was toe vir my baie moeilik om te hanteer. Dit het steeds ’n invloed op my en op my emosies; ek is egter nou al baie beter daarmee om dit nie so persoonlik op te neem nie.
Dit is ook wel belangrik om kommentaar te lees wat mens skryf oor jou hoe jy oorkom en seker te maak jy kom wel op die regte manier oor. Só leer jy ook weer daaruit.
Die meeste van ons het dit al op laerskool geleer, maar dit is ook so van toepassing op sosiale media:
As jy tandepasta uit ’n tandepastabuis druk, kry jy dit nie sommer weer terug nie.
So ook met woorde. Woorde wat gespreek word het ’n langdurige effek en dit kan seermaak. Des te meer as jy dit neerskryf op sosiale media. Al vee jy jou kommentaar uit, het iemand dit dalk al gescreenshot en dit is vir ewig vasgevang. Met baie bekendes sien ’n mens hoe goed wat hulle lank gelede geskryf of getwiet het, terugkom en hulle lewens en loopbane nou beïnvloed.
Raad vir wanneer jy aanlyn bitsigheid ondervind:
Wanneer ek geboelie word hou ek die volgende in gedagte
- Dit gaan nie oor jou nie.
Dit gaan tien teen een oor die persoon self. Wat hom of haarself dalk ook baie meer kritiseer.
2. Dit gaan wel ook oor jou
In Engels word dit so mooi gestel:
“Your response is your responsibility.”
So jy het nie beheer wat anders mense oor jou skryf nie, maar jy het beheer oor hoe jy daarop reageer. Om nie terug lelik te wees nie en om te probeer keer dat dit jou te emosioneel ontstel.
Blok persone
Aan die begin het ek baie aardig gevoel om iemand te blok, maar dit gee jou ’n mate van beheer. Blok die persoon om jouself te beskerm.
Praat daaroor
Jy hoef nie op sosiale media daaroor te praat nie, maar praat met jou nabymense daaroor en hoe dit jou laat voel. Moenie daardie emosies binnehou nie.
Vanes-Mari du Toit oor aanlyn bitsigheid:
Toe ek aan Dancing with the Stars deelgeneem het, het my aanlyn teenwoordigheid begin groei. Saam met die groter publieke aansien begin mense egter ook dink dat hulle jou ken en kan sê oor jou net wat hulle dink.
My sportagtergrond het my gehelp om kritiek te hanteer
Ek kom uit ’n sportiewe agtergrond, waar jy daagliks gekritiseer is oor jou spel en fiksheid. Ek was dus gekondisioneer deur my sport om kritiek goed te hanteer en dit om te draai in iets positiefs. Daarom het die negatiewe kommentaar op sosiale media my nog nie regtig so geraak nie.
Ek het van jongs af geleer dat iemand anders se opinie niks met my te doen het nie, want as persoon weet ek wie ek is.
Ek weet wie ek is in Christus en in myself, so ek gaan nie dat iemand anders se opinie dit oorskadu nie.
Humor en direktheid help my om aanlyn bitsigheid te hanteer
Sommige mense het my sommer op my werk (KykNet) se platform ook gekritiseer en sleggesê. As enige iemand anders na jou werk toe kom en jou slegsê, dan het jy die reg om vir jouself op te staan. Die manier wat ek gekry het om dit te hanteer, is met humor. Iemand sal byvoorbeeld iets skryf oor my, maar my naam verkeerd spel en dan sal ek kommentaar lewer daarop en hulle reghelp voordat hulle my verder slegsê. ’n Tannie het byvoorbeeld gesê sy kan nie meer TV kyk as ek op die TV is nie, sy gaan haar TV verkoop. Toe het ek kommentaar gelewer en gesê ek weet van iemand wat dit sal koop. Dit was ’n bietjie tong-in-die-kies en dit is ook wie ek is as persoon.
Daar is regtig baie aanlynboelies daarbuite wat agter hulle skerms skuil. Soms moet hulle ook leer dat n ’mens nie net kan sê wat jy wil nie. ’n Hele paar tannies het al vir my gesê hulle kan nie glo ek reageer op wat hulle skryf nie. My reaksie was, wat verwag jy as jy my op ’n openbare platform gaan slegsê. Ek is geregtig daarop om myself te verdedig.
Vanes-Mari se raad aan ander wat aanlyn bitsigheid ondervind
Probeer om jouself nie daaraan te steur nie. Dit is wel makliker gesê as gedaan.
Ek kan nie beheer wat mense van my dink of sê nie, daarom fokus ek op dit wat ek kan beheer.
Dit wat ek kan beheer is my reaksie.”
My reaksie is gewoonlik om dit nie te ernstig te probeer opneem nie, en bietjie te kan lag daaroor en vermaak word daardeur. Dit beteken egter nie dat ek gaan stilbly nie.
Dink twee keer voordat jy iets leliks tik
As jy aanlyn kommentaar lewer is dit vir ewig daar, al delete jy dit kon iemand dit nog steeds gesien het of gescreen shot het.
- Is dit die tipe nalatenskap wat jy wil los?
- Ons is almal hier op geleende tyd, wil jy jou tyd eerder gebruik om ander af te kraak of op te beur? Dit neem regtig veel meer karakter om iemand op te bou eerder as af te kraak. So, kom ons probeer mekaar eerder positief ondersteun.
- As jy die persoon ken, bel hulle eerder en praat dit uit as om mekaar op sosiale media sleg te sê of stuur vir hulle ’n private boodskap voordat jy hulle probeer verkleineer op ’n sosiale media-platform.
- Sal jy wat jy tik vir die persoon in sy/haar gesig sê of skuil jy agter jou skerm?
- Jou kommentaar kan jou in die moeilikheid laat beland. Daar is streng wetgewing oor naamskending of rassisme aanlyn. Jy kan in die tronk beland, of jou werk of reputaie verloor. Dink twee keer voordat jy enige iets tik!
Lees ook: Rolene Strauss gee raad: gebruik positiewe bevestiging so