Aktrise Rolanda Marais moe grys word haar rol as Sanet Vosloo vir die nuwe TV-reeks Slot. Ons was saam salon toe om dit kyk hoe dit gebeur. Kyk ons video en kuier saam by die salon. En ja, sy lyk steeds beeldskoon. Deur Suzanne Kotzé
In Slot is Rolanda se karakter, Sanet, ‘n wêreld-bekende psigiater en bio-chemiese wetenskaplike wat westerse medisyne vervang met plant-gebaseerde medisyne om mense wat aan trauma lei, te help. Hierdie (onwettige) medisyne kan onmiddellik pasiënte se onderbewussyn binnedring en sy bied wegbreek-terapie sessies op ’n verlate plaas aan.
“Dis vir my lekker om te lyk soos ek eintlik nog altyd wou lyk,”
vertel Rolanda (wat nog verbasend min natuurlike grys hare het) oor haar nuwe ‘grys’ hare.
So word Rolanda Marais grys
Voor en na haar hare gedoen is.


Rolanda Marais word grys; so is dit gedoen.
Eers word fyn deeltjies hare gebleik. Daarna is donker kleur tussenin aangewend om diepte te skep. “Die kleur is net ’n tydelike kleur, en sal uitwas,” sê Rolanda se haarstilis, Wessel Gerber, van Vat dit Kop toe, Durbanville.
Die kleur en bleikmiddel is afgespoel. ’n Pers kleurskakering (toner) is aangewend om dit keer dat die ligte strepies geel word. “Dit is ’n voortdurende probleem met ligte of grys hare, en ’n sulfaatvrye pers sjampoe of ’n pers opknapper of masker is ’n moet vir tuissorg,” sê Wessel.
Daarna is haarverlengings wat spesiaal gemaak en gekleur met Rolanda se eie hare versmelt. Die lang verlengings is geknip en Rolanda se kuif is ook geknip.



Haar dogtertjie se reaksie op die grys
Wat was Charlotte (Rolanda se drie-jarige dogtertjie) se reaksie toe mamma met grys hare by die huis kom?
“Ek het vir Charlotte voorberei dat ek grys hare gaan hê as ek tuiskom. Haar reaksie was “Ma, dit lyk mooi.” Ek het vir haar verduidelik dat ek ’n rol speel en my hare daarvoor grys moet wees. Ek dink nie sy verstaan so lekker wat dit beteken dat ek ’n ‘rol gaan speel’nie. Ons bly vir ’n paar weke in ’n klein, plattelandse dorpie waar ons die nuwe reeks verfilm. Charlotte is hier in ’n speelskool. Haar nuwe juffrou het grys hare. Charlotte vra toe ewe: “Mamma, is dit die tannie met wie jy kom speel?”



Wessel se raad as jy jou grys wil wys.
- Elke persoon het ’n unieke plan nodig, want elkeen se hare, grys en leefstyl verskil.
- Maak seker jou stilis is ’n kleurkenner.
- Jy kan nie met vars kleur so ’n proses aanpak nie, maak seker dat jou kleur al bietjie uitgegroei is.
- Moenie pers sjampoe gebruik wat sulfate bevat nie. Dit kan veroorsaak dat jou grys hare (wat reeds meer porieus is), nog meer porieus word en breek.
Lees ook: Hare; die mooiste uitgroei-vriendelike kleure en style.