uitgroei vriendelike haarkleur blonde model
uitgroei vriendelike haarkleur blonde model

Hare: die mooiste uitgroei-vriendelike kleure en style

Kon daar ooit ’n beter tyd wees vir die uitgroei-vriendelike kleure en style wat nou  in die mode is? Wees gereed om skermgrepe te maak vir jou volgende salonbesoek! Daarby nog 15 moet- weet haarkleurtegnieke en wat dit inhou. Deur Suzanne Kotzé

Uitgroei-vriendelike kleure (en style volg)

Hierdie nuwe kleurtegnieke kan jou op die lang duur geld spaar, omdat dit minder gereelde instandhouding verg en meestal minder skade aanrig as byvoorbeeld ’n hele kop vol ligstrepies. 

Nadat ons gedurende die harde inperking maar te bewus geword het van hoe vinnig ons kleure uitgroei en teruggenael het salon toe, het stiliste hierdie tipe kleurtegnieke meer en meer aanbeveel. 

“Ons probeer kliënte leer van tegnieke soos root smudge (wortel smeer) en balayage wat minder onderhoud verg en steeds toelaat dat jy kan blond bly, sê Nastassia Viljoen, stilis en ambassadeur vir Tosca Salon. Met hierdie tegnieke beteken dit ook dat jy vir korter tye in die salon hoef te wees, want soms hoef jy net in te kom vir ’n vinniges sessie om ’n toner op te sit.”

“Die meeste kliënte verkies nou meer natuurlike kleure wat pas by hulle eie natuurlike kleur en al hoe meer mense verkies om hulle natuurlike grys te wys”, sê David Bekker, Tosca Salon, Stellenbosch. 

Andrew Young, nasionale verkoopsbestuurder van Kevin Murphy, verduidelik hoe die voorkomste van Kevin Murphy geskep is. 

Kleur tegniek: sombré

hare natuurlik sombre haarkleur

 

’n Kleur na aan die natuurlike wortelkleur word hoofsaaklik op die haarpunte gebruik wat ’n sagter kontras skep tussen byvoorbeeld ou ligstrepies en donkerder wortels. 

Natuurlike kleur: mid-lengtes en punte moes reeds te vore ligter gemaak gewees het. Kan werk vir verskillende natuurlike skakerings. 

Kleurtegniek: Kontoering of gesigraam (face framing)

 ’n Kombinasie van ligter en donkerder skakerings word gebruik om sekere dele te beklemtoon en ander dele weg te steek, jou wortels kan boonop donkerder wees om uitgroei beter te beheer. 

Natuurlike kleur: Donker blond of ligter.

Kleurtegniek: verheldering (Illuminating)

Semi-of demi-permanente skakerings in dieselfde tipe kleurtone word gebruik. 

Natuurlike kleur: donker brunette

Kleurtegniek: basisbreking (base breaking)

Uitgroei vriendelike haarkleur natuurlike blonde

Dit is ideaal vir blondines wat van te vore ligstrepies gehad het en nou minder tyd het om salon toe te kom. Dit kan gebruik word as kleuropknapping op jou wortels tussen-in langer besoeke. 

Ideale natuurlike kleur: natuurlike ligblond (natuurlik basis 8 diepte) of ligter. 

Kleurtegniek: blonde balayage, baba-ligstrepies en kleurskakering (toning)

Met die balyayage tegniek word kleur meer vertikaal aangewend, veral op jou middel-lengtes en haarpunte en nie op jou wortel-area nie. 

Natuurlike kleur: ligblond

Kleurtegniek: balayage met verfyning (refining)

Die ligstrepie-tegniek fokus meer op die punte, en ou wortelarea is effens donkerder en meer natuurlik. 

Natuurlike kleur: medium tot ligblond

Kleurtegniek: sone-skakerings (zone toning

Met skakering (toning) kan ’n donkerder skadu-effek (root smudge) op jou wortel-area geskep word. Dit is ideaal as jou natuurlik kleur donkerder is of as jy grys hare met ligstrepies het. 

Natuurlike kleur: donkerblond of donkerder

Ulrica Maia, nasionale tegniese opleidingsbestuurder van Joico vertel hoe hierdie voorkomste van Joico geskep kan word. 

Kleurtegniek: skadu-wortel met balayage/sombré

Die skadu-wortel (root shadow) werk fantasties wanneer dit dieselfde kleur of skakering as jou natuurlike kleur is.  

Natuurlike kleur: mediumblond vir die foto-voorkoms, maar dit kan op enige kleur gedoen word.

Kleurtegniek: klassieke ombré en verspreide baba-ligstrepies

Die baba-ligstrepies is baie fyn op die wortel area, wat minder geneig is om uitgroei te wys. Natuurlike, warm kleurskakerings vergemaklik instandhouding.

Natuurlike kleur: Donkerblond om die resultaat op die foto te verkry, maar die tegnieke kan met enige haarkleur gebruik word. 

Kleurtegniek: balayage/kleursmelt en die money piece tegniek

Die ligste dele rondom jou gesig (die money piece genoem) beklemtoon jou gesig en word nie direk op jou hele wortel area aangewend nie. 

Natuurlike kleur: Lig- of donkerbruin vir hierdie foto-voorkoms. 

Uitgroei vriendelike snitte

Een lengte snitte

“Dit lyk vir langer gesonder. Mens kan eerder lae slegs rondom die gesig bysny vir ekstra definisie en om die gesig te komplementeer,” sê Nastassia Viljoen, Tosca.  

Lob

Die lob (lang bob) styl is altyd gewild en dit is steeds “’n groot gunsteling” sê David Bekker, Tosca. Dit is ’n goeie manier om van ’n paar maande se dooie punte ontslae te raak en ‘nuut’ te voel. Die styl groei ook mooi uit. 

Dié styl is van Kevin Murphy. 

Kort, pixie snitte

As dit reg gesny word, kan hierdie snitte maklik in ’n kort bob styl ingroei. “Jy sal wel nodig hê om die hare in jou nek te laat skeer of knip,” sê Charles Junior Louw van Hashtag Colour Lounge.

Hierdie styl is deel van Schwarzkopf Essential Looks se Urbaganza versameling

Kyk hoe mooi kontrasteer die moderne, amper happerige snit met die glansende silwer skakerings. Dit is deel van Schwarzkopf Essential Looks se Urbaganza versameling.  .  

Behalwe vir die styl is ons ook gaande oor die rokerige blonde kleur van die snit. Dit is met Wella Professionals se Insta Vintage reeks geskep. 

Jou haarkleur woordeboek: 15 moet-weet haartegnieke

  1. Baba ligstrepies: baie fyn lig-strepies wat die voorkoms van kinders se son-strepies naboots. 
  2. Basisbreking (base breaking) jou natuurlike kleur word ’n halwe tot een skakering ligter gemaak. 
  3. Balayage: die Franse woord beteken ‘vee’ of ‘verf’ en haarkleur word aangeverf en dit skep gewoonlik ’n natuurlike, subtiele, songesoende voorkoms van donker (op jou haarwortels) na ligter (op jou punte).
  4. Gesigraam: lig-strepies word rondom jou gesig-area aangewend om die aandag op jou gesig of ’n area van jou gesig wat jy wil beklemtoon, soos jou wangbene, te vestig . Soortgelyk, maar meer subtiel as die ‘money’ tegniek. 
  5. Glaseertegniek (glazing): ’n demi-permanente kleur wat uitwas na ’n paar wasse en soos ’n glansende bo-lagie is. 
  6. Kleursmelt: verskillende kleurkombinasies, so natuurlik aangeverf dat dit lyk asof die skakerings inmekaar in smelt.  
  7. Kontoering: Soos met grimering word donkerder kleure gebruik om seker dele weg te steek en ligter kleure op dele wat jy wil beklemtoon. Jou gesigvorm sal bepaal hoe jou stilis die kleur aanwend. 
  8. Money piece tegniek: ’n ligter of helderder strook hare rondom jou gesig-area wat aangewend word nadat jou hare gekleur of gebleik is. Dit word verpersoonlik om jou gesig en gelaat te vlei. 
  9. Ombre, nog ’n Franse woord, beteken skadu of kleurskakering en gaan van donker na lig. 
  10. Sone-skakerings (Zone toning) word gebruik ná ligstrepies of bleiking en slegs sekere dele van jou hare word geskakeer om variasie en diepte te skep. 
  11. Sombré: die sagter, meer subtiele weergawe van ombré
  12. Toon (toning): ’n produk word aangewend nadat jou hare gebleik is, om enige warm, gelerige ondertone te neutraliseer. 
  13. Verheldering (illuminating) sommige dele word met baba-ligstrepies ligter gemaak en dan word die glaseertegniek (glazing) gebruik om die ligstrepies meer subtiel te laat lyk en jou natuurlike kleur meer glansend. Veral gewild onder brunette. 
  14. Weeftegniek: een van die oudste en mees gebruikte tegnieke, waar kleur deur jou hare geweef word deur fyn deeltjies van mekaar te skei.
  15. Wortelsmeer (root smudge): kleur wat net ’n skakering of twee ligter of donkerder as jou natuurlik kleur is, word op jou wortelarea aangewend.

Lees ook: Doen dit so: Gedraaide poniestert

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Somerparfuumwenke en nuwe fyngeure vir jou geurekas
error: Content is protected !!