orden jou kunshoekie
orden jou kunshoekie

Orden jou kunshoekie so

Orden jou kunshoekie; dit mag jou en jou familie dalk net inspireer om meer kreatief te wees! Met die lang winter skoolvakansie wat aangebreek het, is dit nou is ’n goeie tyd om kreatief te raak in plaas daarvan om net voor die skerms te plak. Deur ORDEN se Natascha Mostert en Jeanine van Tonder. Verwerk deur Suzanne Kotzé.

01/07/2022

Elke stokperdjie vereis ’n unieke oplossing, maar die basiese beginsels vir ’n geordende spasie bly dieselfde – sorteer, groepeer, weggooi, rangskik, opruim, organiseer en ook optooi.

Hoekom is dit belangrik dat spasies reg ingerig en georden word?

Deur die gemors uit te gooi kom jy tot rus en met ’n slim sisteem in plek kan jy ’n baie meer georganiseerde lewe lei. ’n Geordende spasie laat mens sommer ligter voel, wat lei tot meer energie en kopspasie wat weer lei tot verhoogde produktiwiteit.

5 Orden beginsels wat jy kan toepas in jou kunshoekie (en die res van jou huis!)

1. Goeie beligting is belangrik

Dink oor hoe jy jou spasie gebruik. Goeie beligting het ’n impak op jou produktiwiteit of luim.  Natuurlike lig is ideaal! ’n Lamp, kuns teen die muur en ’n plant  kan  ’n vaal ruimte vinnig opkikker. 

2. Hou gereelde gebruiksitems binne bereik

Items wat gereeld gebruik word moet binne bereik gestoor word, terwyl die res weggebêre kan word.

3. Stoorspasie

Ekstra rakke, aansteekborde of ‘pegboards’ is uiters effektief om ’n beknopte spasie met ’n beperkte begroting te omskep.

Orden wenk: As jou spasie uiters beperk is, hang gerus ’n skoensak agter die deur en maak so die meeste van vermorsde spasie.

4. Stal uit

Ons hou daarvan om dit wat vir ons mooi is uit te stal. Dit is ook maklik om ’n afgeronde voorkoms te kry deur van eenvormige houers gebruik te maak. Stoor kleiner items in deursigtige botteltjies sodat jy maklik kan sien wat daarin is. 

5. Etikette

En die finale stap om ’n sisteem in plek te hou is om etikette op houers aan te bring.

Orden jou kunshoekie so

ORDEN het met kunstenaar en eienaar van The Workshop, Melissa Dietstein gesels oor haar uitdagings as kunstenaar en hoe haar droom studio ingerig moet wees.

Een van Melissa se grootste uitdagings is nat en vuil kwaste. Sy is dikwels haastig en het nie altyd tyd om kwasse behoorlik te was nie. Kwaste verniel gou en die verf raak hard as dit nie behoorlik uitgewas word nie. 

Nog ’n algemene probleem in haar kunsstudio is buisies verf wat nie mooi toegedraai word nie en dan droog raak. Die meeste kunstenaars druk verf uit ,maar draai nie altyd die doppie terug nie, so hoe gemaak?

Wenke vir jou verf en kwaste

  • Gooi ’n plastiekoortreksel oor jou werksblad veral as daar klein kindertjies werk. Dit maak opruim soveel makliker.
  • Skaf ’n groot ‘drop sheet’ aan om jou vloer te bedek. Dit is by enige hardewarewinkel beskikbaar.
  • Organiseer kwaste volgens grootte.
  • Kwaste moet verkieslik regop staan.
  • Nadat vuil kwaste gewas is, kan dit aan wasgoedpennetjes gehang word.
  • Rig jou kunshoekie naby ’n wasbak in vir hande en kwaste was
  • Soms is dit nodig om halfpad deur ’n kunswerk op te hou verf. Hierdie wenk werk sleg vir olieverf. Draai jou palet net so met olieverf op in kleefplastiek toe en stoor dit in die vrieskas. Die oorblywende verf kan so gestoor word en op ’n later stadium gebruik word. Olieverf is duur, so behalwe dat dit ’n paar rand spaar, werk dit uitstekend!
  • Hang verfbuisies met knypers (bull clips) op ’n aansteekbord. As jy regtig O.C.D is stel ons voor dat jy dit volgens kleur rangskik. Dink aan die reënboog.

Aansteekbord 

  • Die meeste kunstenaars het TE VEEL goed en alles land op ’n hoop. Rig ’n aansteekbord of ‘pegboard’ in teen ’n muur. As alles van die tafel af is en teen ’n muur hang, skep jy ’n oop werksbladspasie om op te werk! As jou tafel eers leeggepak is en al jou items het ’n plek teen die muur gaan jy sommer lus voel om kreatief te wees.

Wenke vir papier, pastelle en penne

Nog ’n probleem in Melissa se kunsstudio is papier wat rondlê en vol stof raak en kunswerke wat oor tyd beskadig. Wanneer daar nie ’n sisteem in plek is nie, land alles op ’n hoop! Melissa droom van rakke en laaie waarin papier netjes georganiseer kan word.

  • Begin met ’n skoon oppervlak om op te werk. ’n Handy Andy lappie verrig wondere!
Ons is mal oor die ‘Art Boxes’ van www.santos.co.za. Hierdie laaghoutbokse is in verskillende groottes en kleure beskikbaar so jy kan dit self in ’n kleur van jou keuse aankoop – elke organiseerder se droom! Op die manier word kunswerke stofvry bewaar.
Ons is mal oor hierdie ‘Multifunctional Pen Holder’ (R99, Trendz of Today) met vier kompartmente – ideaal om penne en ‘Khokis’ in te stoor.
Kyk hierdie oulike houer (R99,Store & More) om skuifspelde en washi tape in te organiseer.

Die KUNSTROLLIE

As jy ’n Pinterest mooi kunsstudio in gedagte het, stel ons ’n ‘art cart’ of trollie voor. Behalwe dat dit mooi lyk kan jy dit rondbeweeg en op verskillende plekke daarmee werk. Trollies is dus ideaal vir beknopte spasies.

Nog ’n wenk is ’n ‘caddy’ of draagbare houer waarin ‘arts & crafts’ rond gedra kan word. Die handvatsel maak dit maklik om rond te dra en met twee kompartemente is dit maklik om items te groepeer.

Net omdat dit vir ons mooi is vertel ons julle ook van Pedersen + Lennard se ‘Flank Desk Shelf’ (R6655) – ‘n bekostigebare en uiters effektiewe oplossing vir ’n beknopte kunshoekie. Dit is ook in ‘Dusty Pink’ beskikbaar wat ons gunsteling is.


Lees ook: Skep orde met ORDEN se regpakwenke

Besoek ORDEN se webtuise by orden.co.za en volg hulle op Instagram

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Rolanda Marais babakamer
Rolanda Marais wys klein Naudé se babakamer
error: Content is protected !!