Hier is kundige skoonmaakwenke vir jou wasmasjien, tuimeldroër en skottelgoedwasser. Wanneer laas het jy joune skoongemaak? En já, jy moet dit skoonmaak! Deur Suzanne Kotzé
Op ’n ‘girls weekend’ is daar ’n gesprek oor skottelgoedwassers en skoonmaak. En daar is skok en afgryse op sommige van ons se gesigte toe sommige vriendinne erken hulle het nie geweet ’n mens behoort jou skottelgoedwasser gereeld skoon te maak nie. Toe almal tuiskom word daar foto’s gedeel van hoe sommige van die vriendinne se skottelgoedwassers lyk. Dit het vir groot vermaak gesorg. Maar ja, jy moet jou skottelgoedwasser, tuimeldroër en wasmasjien skoonmaak. En dit is nie moeilik of soveel moeite nie. En meestal is witasyn en koeksoda al wat jy nodig het.
Skoonmaakwenke:
Skottelgoedwasser
“Gereelde skoonmaak verseker dat jou skottelgoedwasser optimaal werk, dit voorkom reuke en verleng die lewensduur van jou wasmasjien,” sê Margaret Hirsch, mede-stigter van Hirsch’s Homestores.
Maak jou skottelgoedwasser só skoon
Lallie Mahara, bestuurder, nasionale diens en onderdele by Hirsch’s Homestores, gee raad.
- Verwyder en maak jou filter skoon. (Spoel dit af onder lopende water).
- Vee die deur af en ook oral waar die skottelgoedwasser seël; dit is daardie rubbergedeeltjies. Kyk gerus in al die gleufies waar vuiligheid dikwels ophoop.
- Sit ’n koppie met witasyn op die boonste rak en sit die skottelgoedwasser op ’n kort program aan.
- Gevolg deur ’n spoelsiklus met koeksoda in die seephouertjie.
“Maak jou skottel maandeliks skoon om ontslae te raak van vuiligheid, olie en agterblyfsels van harde water,” sê Tatyana Thambiran, sosiale media strategis van Hirsch’s Homestores.
Vuil skottelgoedwasser probleme
Lallie verduidelik: “As jou skottelgoedwasser vuil is, word hierdie probleme daarmee geassosieer:
- Was nie behoorlik skoon nie,
- slegte reuk
- potensiële muf en bakteriëe wat vorm en
- verkorte leeftyd.”
Wasmasjien
“Gereelde skoonmaak help om muf en skimmel te voorkom, verseker dat jou klere behoorlik skoon gewas is en verleng jou wasmasjien se lewe,” sê Margaret Hirsch.
Maak jou wasmasjien só skoon
Lallie Mahara gee raad.
Bo-laai wasmasjien
- Stel jou wasmasjien op ’n warmwaterfunksie en laat die warm water inloop todat dit omtrent vol is. ‘Pause’ die siklus.
- Gooi ’n kwart koppie witasyn by en los dit so paar minute.
- Gooi een koppie koeksoda in en los dit vir so ’n uur.
- Terwyl die mengsel in jou wasmasjien is, kan jy ’n borseltjie neem en enige dele waar goed aanpak (soos op die rubberring) skoonmaak. (Gebruik sommer van die mengsel in jou wasmasjien as skoonmaakmiddel.) Dra gerus handskoene, veral as jy ’n sensitiewe vel het.
- Skakel jou masjien na die uur om is weer aan sodat die siklus voltooi.
Voorlaai-wasmasjien
- Gebruik ’n witasyn en water mengsel om jou deur, drom en seël mee skoon te vee.
- Gooi twee koppies asyn en koeksoda in jou leë masjien en sit ’n warmwatersiklus aan.
- As die siklus klaar is, gooi ’n halwe koppie koeksoda in die drom en sit nog ’n siklus aan.
“Maak jou wasmasjien elke drie maande behoorlik skoon om die opbou van vuiligheid, muf en seepskuim te voorkom,” sê Tatjana.
Vuil wasmasjien probleme
Lallie sê: “’n Vuil wasmasjien word met die die volgende probleme geassosieer:
- Die opbou van muf en skimmel
- Slegte reuke
- Was nie behoorlik skoon nie
- Moontlike skade aan jou klere
Tuimeldroër
“Deur jou tuimeldroër gereeld skoon te maak, kan jy ’n brandgevaar voorkom, jou droër help om beter te werk en sy leeftyd te verleng,” sê Margaret Hirsch.
Maak jou tuimeldroër só skoon
Lallie Mahara gee raad
- Maak die filter na elke gebruik skoon
- Diepreining jou droër elke ses maande; begin deur dit uit te prop.
- Gebruik ’n klein stofsuigkop om die pluis lokval (lint trap) te stofsuig.
- Maak die uitlaatklep met ’n borseltjie skoon.
- Vee die drom en binnekant met ’n klam lappie en ’n sagte skoonmaakmiddel uit. (’n lae konsentrasie witasyn en koeksoda saam met water kan ook gebruik word).
Vuil tuimeldroër probleme
Voorkom die volgende probleme deur jou tuimeldroër in stand te hou.
- Brandgevaar as gevolg van pluis wat ophoop
- Neem langer om droog te maak en verbruik dus ook meer krag
- Potensiële skade met jou droër
- Verkorte lewensduur.
Trek aan jou handskoene en begin skoonmaak!