Orden
Orden

Skep orde met ORDEN se regpakwenke

Maak nou tyd om orde te skep, want “’n geordende spasie laat ’n mens sommer ligter voel, wat lei tot meer energie en kopspasie.” So glo die twee reg- en wegpakkers, sorteerders, organiseerders en skeppers van orde en ORDEN. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s: Tracey Baard

ORDEN en hulle orde-obsessie

As jy (soos ons) aanhangers is van orde en die TV-reeks, ‘The Home Edit’ gaan jy mal wees oor die dames van ORDEN.

“Ons missie by Orden is eenvoudig: om ’n warboel in orde te omskep.”

ORDEN stigters Natascha Mostert en Jeanine van Tonder.

Die twee sê hulle is “(effens) obsessief oor spasies of dalk eerder “O.C.D” – ons afkorting vir “ORGANISE. CREATE. DECLUTTER”. As huis-organiseerders is ons passievol daaroor om kliënte te help om hul spasies en lewens te vereenvoudig.”

Hulle ken mekaar al sedert 2014 toe hulle kinders saam in die kleuterskool was. “Ons het mekaar dikwels by die skool raakgeloop – Jeanine altyd perfek gegroom!” vertel Natascha. Na ’n spontane gesprek aan die begin van 2021 het ORDEN begin vorm aanneem.

Albei van hulle het nog altyd van mooi spasies gehou en as ontwerper het Natascha ’n ontwikkelde oog, terwyl Jeanine se benadering as mondhigiënis klinies en presies is. Natascha geniet dit nou om haar ontwerpvaardighede aan te wend vir ’n nuwe uitdaging. Jeanine wil graag mense help en ’n verskil maak. “Soms het mense net ’n hupstootjie in die regte rigting nodig om hul spasie of omstandighede te omskep,” vertel sy.  

Ons hou ook daarvan om ons kliente soos “vriendinne” te laat voel en is opgewonde oor die talle saamwerkgeleenthede wat voorlê.

Ons naam ORDEN is ’n omvattende beskrywing van dit wat ons doen – organiseer, sorteer, groepeer, rangskik, opruim, weggooi en ook mooi maak!

Só help orde jou beter funksioneer

Daar is ’n direkte verband tussen ’n oorvol spasie, hoe dit die atmosfeer in jou huis affekteer en verhoogde stresvlakke.

  • Jou huis moet ’n spasie wees waar jy kan afskakel, amper soos by ’n spa.
  • Dit is onmoontlik om tot rus te kom as daar bokse rondstaan wat jou herinner aan onvoltooide take of ’n kas vol kledingstukke wat jou herinner aan die ekstra kilogramme wat jy dalk wil afskud.
  • ’n Geordende spasie laat ’n mens sommer ligter voel, wat lei tot meer energie en kopspasie.

Die grootste regpak- en wegpakfoute wat hulle kliënte maak

Uitstel

Een van die grootste foute is dat mense uitstel om ’n taak aan te pak of met ’n taak begin wat te groot en oorweldigend is om klaar te maak.

Emosionele band

Nog ’n uitdaging is die emosionele band of sentiment wat mense aan items heg. Dit is uitdagend om “afskeid” te neem van persoonlike items. As huisorganiseerders het ons nie dieselfde emosionele band met ‘n item nie en is dit vir ons maklik om mense deur die proses te lei.

Tel elke item in jou kas op en vra jouself, maak dit my gelukkig.

Ons hou van Marie Kondo se benadering: “Does it spark joy?” Met ander woorde, as jy ’n item in jou kas het, maak dit jou gelukkig? Indien nie, is dit tyd om dit te laat gaan. Marie Kondo stel voor dat jy elke individuele item optel en so besluit wat om te hou, wat om te verkoop en wat om weg te gee. Ons moedig mense aan om klere wat te klein is of nie meer in die mode is nie eerder vir liefdadigheid te skenk.

Gunstelinghouers om te gebruik vir organisasie

Visueel is dit baie bevredigend as al die houers bymekaar pas, maar dit kan ook duur wees.

Akrielhouers van @home

Enige houer of mooi blik kan gebruik word om items te groepeer.

  •  Outydse blikke kan mooi uitgestal word en ’n nuwe stel etikette kan help om dit ’n opgedateerde voorkoms te gee.
  •  ’n Vyfliter roomyshouer is ook baie bruikbaar om speelgoed soos boublokkies in te orden.
  • Kleiner plastiese botteltjies kan ook gebruik word om items soos knope en garing in te groepeer.
  • Skoenbokse het ook vele doele. Trek dit oor en gebruik dit om sentimentele items of fotos in te bêre – soos ’n “memory box”. Of sit dit binne in groot handsakke met die doel om sakke mooi regop te laat staan.
  • “Pool noodles” of opgerolde tydskrifte kan gebruik word om stewels te laat regop staan in jou kas.

ORDEN se gunstelingwinkels vir organsiasie produkte

Daar is deesdae al meer opsies – mandjies, akrielhouers, glashouers met bamboesdeksels en die mooiste verskeidenheid hangers. Natuurlik is ons gaande oor The Home Edit se akriel-reeks, beskikbaar by @home.

orden haardroeër
Akrielhouers van @home
Akrielhouers van @home
Akrielhouers van @home

As dit heeltemal buite jou begroting is, kan ons die volgende winkels aanbeveel: Store & more, Gelmar, Westpack, Home Etc en kettingwinkels soos Checkers en PEP.

Ons hou daarvan om teksture soos hout, glas en akriel te meng. Dit is wel nodig om jou leefstyl in ag te neem. ’n Kas vol glashouers is glad nie geskik vir ’n gesin met klein kindertjies nie.

Op die oomblik crush ons op fluweelhangers met roosgoudhake!

Regpak- en wegpakwenke om orde te skep (sonder om wasteful te wees)

Moenie goed hou omdat jy dit dalk eendag gaan nodig kry nie

Die uiteinde daarvan is oorvol rakke en laaie. Dit is beslis nie nodig om drie blikoopmakers te hou nie, een wat lekker werk is meer as voldoende.

Pak uit en maak skoon

’n Goeie begin is om eers alles uit te pak en dan ook sommer skoon te maak – daar is niks wat ’n Handy Andy lappie nie kan regkry nie. So kry jy ’n oorsig oor wat alles in jou kas is.

Die een-jaar-dra beginsel

As jy iets ’n jaar laas gedra het, is die kans groot dat jy dit nie sommer weer gaan dra nie.

Die 80/20 beginsel

Jou kas moet slegs 80% vol wees.

’n Kas moet verkieslik nooit 100% vol wees nie. ORDEN gebruik Clea en Joanna van The Home Edit se se 80/20 beginsel. Maak jou kas slegs 80% vol. As daar te veel items is, laat gaan 20% daarvan. ’n Kas wat visueel mooi lyk, is lekkerder om uit aan te trek.

Voor en na foto’s

Neem ook foto’s van ‘vooraf’ en ‘daarna‘ – dit sal jou inspireer om meer as net jou klerekas reg te pak!

ORDEN wenk vir taai plakkers

Blaas plakkers met ’n haardroeër; die warm lug sal help om die die gom los te maak sodat jy dit maklik kan aftrek en dit sal help keer dat daar ’n taai lagie bly sit.

Die regpakgurus wat ORDEN bewonder

Ons is mal oor die Netflix-reeks, The Home Edit met Clea Shearer & Joanna Teplin. Die TV-reeks is propvol idees oor hoe om spasies te organiseer. Woorde soos “zones” en “backstock” is nou alledaags in ons woordeskat. Ons hou veral daarvan dat kategorieë gedefinieer word wat help om items in groepe te sorteer en so ’n stelsel skep wat maklik is om te onderhou. The Home Edit se styl is skoon en eenvoudig, met ’n tikkie kleur. Hulle kenmerkende voorkoms is ’n boekrak wat volgens die kleure van die reënboog gepak is. Ons hou ook daarvan om van lig na donker te rangskik – net soos ’n reënboog.

Ons is ook mal oor die voorkoms van The Home Edit se reeks produkte en ons is baie gelukkig om saam met @home te werk. Dit was ’n groot verrassing toe hul ons gekontak het om hul kompetisiewenner se kombuis te transformeer en ook van die eerste persone te wees om die nuwe Vanity reeks te sien.

So lyk ’n ORDEN regruk

ORDEN is deur @home genader om ’n kompetisiewenner se kombuis te organiseer en kyk net die verskil!

Voor
Na

Besoek gerus ORDEN by orden.co.za of volg hulle op Instagram


Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
slaap
15 Beste wenke vir beter slaap
error: Content is protected !!