skoonheidsblapse
skoonheidsblapse

Ons grootste skoonheidsblapse

Ons het onlangs so in die gesels ons grootse skoonheidsblapse vir mekaar vertel en so lekker gegiggel dat ons dit net moes deel. Van wimpers wat op vreemde plekke afval tot dooie vel waar en wanneer dit jy dit nie wil hê nie. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

Justine se grootste skoonheidsblapse

Haarverlengings onder jou voete?

Ek dra vir jare lank al haarverlengings. Dit is niks nuuts as een dalk uitval of lostrek nie. Op ’n dag is ek saam metmy skoonsus uit vir ontbyt by ’n koffiewinkel, daarna het ek ’n vinnige afpraak by Tosca Salon om ’n haarverlenging wat losgetrek het weer terug laat plak.

Die los stuk haarverlenging het ek in my handsak gebêre. Ons betaal vir ontbyt en gaan haarsalon toe, toe ek daar in my handsak loer is die hare weg, net weg! Ek onthou ek het dit nog in my handsak gehad toe ek vir ontbyt betaal het, so ek moet terug skiet koffiewinkel toe (hierdie hare is duur julle!).

Al die pad terug loop ek en soek op die winkelsentrum se vloer vir ’n sliert lang swart hare, maar niks! Ek kom by die koffiewinkel aan en daar sit ’n jong paartjie aan tafel net mooi daar waar ons gesit het. Ek skraap my moed bymekaar en loop nader en vra “Ekskuus julle, ek soek net gou ’n stukkie van my hare wat hier uitgeval het”.

Die man lig sy voet en net daar lê my pikswart haarverlenging!

Bloedrooi sê ek dankie, vat my haarverlenging en hol terug salon toe. Aarde sluk my in!

Vals wimpers wat jou sal laat skrik

Indien julle nie teen die tyd weet nie, ek dra graag vals wimpers wat ek self aanwend (lees die artikel hier om te sien hoe!). Maar met tye raak die gom los en daar val af en toe ’n bondeltjie wimpers af. Gewoonlik saans of soggens wanneer ek gesig was. Maar hierdie keer staan ek en betaal vir my inkopies by Checkers.

Die kassier hou haar hand so oop sodat ek my kleingeld kan neem, en met díé voel ek “daar gaan ’n wimper” en dit land net mooi vierkantig in die palm van haar hand.

As julle nie weet nie, hierdie bondeltjies lyk soos klein spinnekoppies of brandwurms. Die arme vrou het so groot geskrik en gegil. Ek moes haar net probeer kalmeer en verduidelik wat sopas gebeur het. Na ’n hele storie, rooi gesig en helfte wimper-oog stap ek by Checkers uit. Dankie tog dit was nog voor Covid-tye, daardie arme kassiere!

Suzanne se grootste skoonheidsblapse

Velle wat hang

So ’n dag na ’n professionele chemiese afskilfering gaan haal ek my seuntjie by die kleuterskool. Dit was pre-Covid, so al die mammas staan in die skool se gang en gesels. Ek kry my seuntie en sy dogterjie-maatjie. Die dogterjie kyk na my met groot oë en merk: “Sjoe, jou vel lyk baie droog en seer,” en sy wys na my ken. Ek sien toe haar ken is ook rooi en dit lyk of sy effens ekseem het. Ek dag sy projekteer dalk omdat háár vel seer is. Gesels, gesels loop ek uit (hoekom ek daardie dag so geselserig moes wees, weet nugter alleen).

Toe ek in die kar klim en in die spieëltjie kyk sien ek daar hang reusegroot stukke dooie vel by my ken af. Nie net een nie, maar ’n paar.

Voete wat vervel

Ek het die fout gemaak om gedurende hoogsomer van daardie sokkies met vrugtesure te gebruik. Jy hou dit vir so ’n uur en ’n half aan en dan is die dooie velle verondersel om af te dop. Maar niks het na die tyd gebeur nie. Ek het aangeneem ek het seker nie baie dooie velle aan my voete nie.

Toe ek egter so drie dae later by ’n swembadpartyjie is, en afkyk na my voete, sien ek dat die velle in sulke groot stukke (soos wanneer jy afdop) begin afkom. En baie daarvan!

Ek het die heeltyd my voete onder ’n handdoek of sarong probeer wegsteek. Ek was te bang om te swem. En dit was so ’n baie warm Februariedag en ek wou so graag afkoel in die swembad. Dink net aan voe-velle wat op die water dryf of selfs die swembad-pomp verstop! Jig. Dit het vir ’n hele paar dae lank aangehou en nodeloos om te sê het ek nie sandale gedra nie.

Van kop tot tone ingesmeer

Voor ’n glansgeleentheid het ek besluit ek wil vir ’n ‘spray-tan’ gaan. Die salon waar ek toevallig was vir ’n ander behandeling het toe juis ’n spesiale aanbieding op ‘spray-tan’.

Min het ek geweet die maerste, mooiste terapeut gaan nie die kleur aansproei nie, maar aansmeer! Met haar hande! Oor elke liewe voutjie en rolletjie wat ek het.

Daar staan ek, halfkaal en bitter skaam, terwyl die meisie my insmeer. Sy het duidelik aangevoel dat ek ongemaklik is en het my so vinnig as moontlik probeer klaarsmeer. Toe ek later by die huis kom en die kleur begin ontwikkel, sien ek dit is só streperig dat ek dit net sowel self kon aangesmeer het.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
onderverf
Wat is die onderverf-grimeertegniek en hoe doen jy dit?
error: Content is protected !!