Wil jy ook graag langer wimpers hê, maar tyd (en geld) knyp vir ’n salonbesoek? Probeer ’n slag om jou eie vals wimpers aan te wend – ’n semi-permanente oplossing met individuele wimpers. Die truuk is wel, oefen, oefen, oefen totdat jy dit bemeester het. Loer hier – ons wys jou hoe. Deur Justine Kroes
Dit het jy nodig:
Jou gunsteling individuele wimpers – die “flared clusters” so ’n paar haartjies op eens werk makliker om daardie voller wimper voorkoms te kry. Hier is die gunstelinge wat ek al deur die jare gebruik het:
Eylure Individual Lashes (R99,95 Dis-Chem)
Kiss Haute Couture Lashes (R180 Clicks)
Clicks Beauty Essentials Eyelashes Medium (R59,95)
Catrice Lash Couture Single Lashes (R99 takealot)
Essence Lash to Impress (R57 Haircity.co.za)
Haartangetjie – of “tweezers” om die wimpers te knyp en uit die verpakking te lig. Hiermee gaan jy ook jou wimpers in die gom druk en aan jou wimperlyn vasplak.
Gom – die meeste stelletjies kom met hul eie gom by – ek het wel gevind Eylure se Superfix Lash Glue (R79,95 Dis-Chem) werk die heel beste – die gom word swart droog en dit hou ook die langste op my oë.
Skoon maskaraborseltjie – ek gebruik dit om my wimpers mooi netjies te kam nadat ek dit aangewend het.
Stap 1
Maak seker jou oë is mooi skoon – verwyder enige oortollige grimering en olies op jou wimperlyn – dit mag verhoed dat die wimpers goed vasplak.
Stap 2
Gooi ’n bietjie van die gom op ’n skoon, steriele, droë oppervlak – ek gebruik gewoonlik ’n stukkie foelie wat ontsmet is.
Moet nie te veel van die gom uitgooi nie, jy het nie baie nodig nie en sal kort kort nog moet uitskep omdat die gom taamlik vinnig droog word.
Stap 3
Knyp een van die bondeltjies met jou haartangetjie vas en trek versigtig van die plastiekhouertjie af (wees versigtig om nie te hard te druk nie – jy kan die sagte wimpers beskadig).
Druk dan die swart geknoopte punt in jou druppel gom – wees versigtig vir te veel.
Stap 4
Gebruik nou jou handspieëltjie (in jou een hand) en kyk in die spieël wat jy doen.
Druk sagkens die vals wimper teenaan jou eie wimperlyn vas. Hou die oog waaraan jy werk toe – en beweeg die wimper saggies heen en weer om seker te maak hy plak goed vas.
Maak seker jy plak elke wimperbondeltjie met wimpergom bo-op jou wimpers vas en nie op jou vel nie.
Maak jou oog oop en kyk of jy gelukkig is met die plasing van die wimper. As hy effens skeef sit, skuif hom saggies met jou haartangetjie reg. Of verwyder dit versigtig en probeer weer.
Herhaal en vul totdat jou wimperlyn volgeplak is. Jy kan self besluit hoeveel wimpers jy wil aanwend, gebruik minder vir ’n natuurlike voorkoms en meer vir ’n voller voorkoms.
Ek begin gewoonlik aan die binnekant van my oog uitwaarts en plak dit in daardie volgorde aan.
Ek kam dan die wimpers saggies met my skoon maskaraborseltjie om te sien of daar dalk enige gapings is – indien wel, plak ek eenvoudig nog ’n bondeltjie daar aan.
’n Paar ekstra wenke;
- Hierdie wimpers hou so 5 tot 6 dae – soggens sal jy dalk een of twee moet vervang wat deur die nag of met gesigwas afgeval het. Jy kan met die wimpers swem, oefen, dans, slaap, stort en bad!
- Maak seker jy kies die regte lengte vir jou oë. Die meeste van die individuele wimpers is beskikbaar in drie lengtes, kort, medium en lank. Ek gebruik graag die medium lengte.
- Toets self watter lengte die beste werk vir jou oogvorm. Jy kan ook die kort lengte aan die binnehoeke van jou oë, die medium lengte aan die middelpunt van jou wimperlyn en die langer lengte aan die buitehoeke van jou oë aanwend.
- Moet nooit net die wimpers aftrek nie – jy kan jou eie wimpers beskadig. Die meeste van die wimpers kom met hul eie “lift off” serum – ‘n olie wat die gom oplos sodat jy die wimpers maklik kan verwyder.
- As jou pakkie nie met ’n olie daarby gekom het nie – gebruik ’n olie gebaseerde grimeerverwyderaar om die wimpers te verwyder.
- Ek het deur die jare nog nie ’n enkele slegte reaksie gehad met die wimpers of gom nie. Ek dra ook kontaklense en vind dat dit gladnie my oë irriteer nie.
- Vir ekstra drama wend ek ’n lagie of twee maskara bo oor die wimpers aan – ek vind my eie natuurlike wimpers en die vals wimpers word dan “een”.
- Laaste wenk – Oefen, oefen, oefen. Jy gaan dit beslis nie die heel eerste keer perfek regkry nie, maar hoe meer jy oefen hoe makliker raak dit.
Loer na die video hier:
Lees ook: Haarverwydering moet en moenies