Of jy nou met Jan Tuisbly se karretjie ry of met vakansie gaan, hier is ons moet-hê skoonheidsprodukte vir jou somervakansie. Van lyfwas, tot room, sonskerm en haarsorg-produkte. Deur Suzanne Kotzé
Die ekstra son, swem en buitelug is heerlik, maar veroorsaak ook dikwels dat jou vel en hare ekstra sorg benodig. Hierdie is van die staatmakers wat gereeld in ons vakansie smuktassies is. Selfs al bly jy bly tuis die vakansie, is hierdie produkte ook heerlik vir elke dag gebruik.
10 Moet-hê skoonheidsprodukte vir jou somervakansie.
1. Groot lyfwas en -room vir die hele familie
Hierdie lyfwas en -room reinig en bevogtig so sagkens dat jy albei vir jou lyf en gesig kan gebruik. Jy hoef geen ekstra potjies room in te pak nie. Dit is heerlik strelend en geskik vir sensitiewe velle ook.
Dit is ook in ’n room-weergawe beskikbaar, maar kinders verkies gewoonlik die ligter tekstuur van die ‘Fluid’.
2. Hidrerende masker
Die meeste van ons bring meer tyd in die buitelug en langs die swembad of by die see deur. Die kombinasie hiervan laat dikwels ons velle droog en gedehidreerd voel. Ons eet en drink ook meer ongesond, en dit kan alles ’n uitwerking op ons velle hê. Jou vel kan dalk ook meer sensitief voel as gevolg van ’n kombinasie van al hierdie faktore. ’n Masker wat hidreer, streel en voed sonder enige parfuum is ’n goeie keuse.
Hierdie is van die gunstelinge wat ons graag inpak. Gebruik dit minstens drie keer per week. Wenk: ons gebruik dit graag saans voor ons gaan slaap en hou dit sommer aan en was eers die volgende oggend in die stort jou gesig.
3. Haarmasker wat bevogtig
Swem en son kan jou hare uitdroog, daarom is ’n haarmasker of behandeling wat jou hare voed en versterk ekstra belangrik. Onthou om jou hare met kraanwater af te spoel nadat jy geswem het.
Wenk: maak jou hare met kraanwater nat voordat jy in die swembad spring. Dit keer dat jou hare die swembadwater (en chemikalieë) absorbeer.
4. Soutwatersproei vir jou hare
Gee jou hare ’n blaaskans van hittestelering en gebruik jou hare se natuurlik tekstuur tot sy voordeel. ’n Soutwatersproei kan help om tekstuur te beklemtoon en is min moeite.
5. Getinte sonskerm
Verruil jou onderlaag vir ’n getinte sonskerm. So verseker jy dat jy elke dag sonskerm gebruik en as jy heraanwend (soos mens behoort te doen) sal jou gesig ook nie spierwit wees nie.
Dit is spesifiek vir olierige veltipes en voel droog as jy dit aansmeer. Dit help ook om olie-produksie te reguleer.
6. Nood-room
Bioderma Cicabio Cream (R290) help om rooiheid en vel-irritasie te verlig. Smeer dit aan om enige ongemak te verlig, van sonbrand tot muskietbyte.
7. Hidrerende watersproei
Dit laat jou nie net heerlik vars voel nadat jy dit aangespuit het nie, maar bevogtig en streel ook jou vel. Dit is veral nodig na ’n dag in die buitelug en bring ook verligting aan velle wat dalk effens te veel son gekry het.
8. Groot bottel aanspuit-sonroom
Sit ’n groot bottel aanspuit sonroom naby jou buitedeur neer, sodat jy en jou familie sommer kan aanspuit voordat julle by die deur uitloop. Onthou die meeste sonroom moet minstens ’n halfuur voor sonblootstelling aangespuit word.
9. Geleidelike verbruiner
Die meeste van ons kort nog kleur aan die begin van ’n vakansie en met ’n geleidelike selfverbruiningsroom kan jy geleidelik jou kleur opbou. Dit is ook minder geneig om streperig te lyk. Onthou wel om minstens vyf ure te wag voordat jy swem nadat jy dit aangewend het.
10. Glinsterende lyfkleur
Hierdie afwas Caribbean Tan Tinted Body Bronzer Shimmer Cream (R89,95) is ’n ou gunsteling en kan vinnig effens kleur aan bleek bene of arms gee of ’n sonbruin kleur mooi glinsterend laat lyk. Dit kan ook enige selfverbruiningstrepe wegsteek.
Lees ook: Selfverbruining: 10 foute wat jy maak
Hoop jy het Ons 10 moet-hê skoonheidsprodukte vir jou somervakansie geniet. Laat weet ons gerus wat jy graag inpak.