kuif
kuif

Die kuiftrend: Vyf redes waarom elke vrou ’n kuif moet hê

En vyf goed om in ag te neem voordat jy ’n kuif knip. Handige raad en die mooiste kuif-inspirasie. Deur Suzanne Kotzé

30/06/2023

Vyf redes waarom elke vrou ’n kuif moet hê

Stilis Flo Neacsu is mal oor kuiwe: “Sommige vroue is nog getraumatiseer deur die kuiwe wat hul ma’s vir hulle geknip het as kinders. Maar ’n kuif is allermins ’n soliede geknipte stuk hare wat jou voorkop volhang.

Foto: Wella Professional

Daar is soveel verskillende tipe kuiwe, en ek is mal oor ’n kuif.  Ek glo elke vrou kan gerus ’n (goedgeknipte) kuif oorweeg.

Flo Neacsu
  1. Dit lyk meer glansryk
  2. Dit trek aandag na ’n vrou se oë
  3. Dit help om jou gesig en haarstyl te raam jou gesigvorm te vlei. 
  4. Dit steek plooie (op jou voorkop) weg
  5. Dit steek uitgroeikleur (en grys hare) weg. Baie vroue het veral heelwat grys hare aan die voorkant van hul kop, en die kuif steek dit weg.

Vyf goed om in ag te neem wanneer jy ’n kuif knip

Foto: Intercoiffure Mondial

Stilis Charles Junior Louw gee raad

1. Jou gesigvorm

“Enige gesigvorm kan ’n kuif dra. Die geheim is dat jou kuif so geknip moet word, dat dit help om jou gesig meer ovaalvormig te laat lyk. 

2. Jou haartipe

Dikker, growwe haartipes is meer geneig om regop te staan, daarom moet jy ’n langer kuif knip. As jou kuif kort geknip is met hierdie haartipe gaan dit dalk net regop staan. 

Foto: Intercoiffure Mondial

As jy baie dun hare het, sal jy ’n voller kuif moet knip sodat jou voorkop nie deurskyn en jou kuif slierterig lyk nie. 

3. Die grootte van jou voorkop

Foto: Intercoiffure Mondial

’n Groter voorkop werk veral goed saam met ’n kuif en jy kan wegkom met ’n soliede kuif (mits dit by jou gesigvorm pas.) As jy egter ’n klein voorkop het, oorweeg gerus ’n kantkuif of ’n gordynkuif. Anders kan dit jou gesig ‘benoud’ en oorweldig laat lyk. 

4. Leer jou kuif

Onthou, jou hare is waarskynlik al jare lank gewoond daaraan om agtertoe of kant toe te val en nou moet dit ewe skielik vorentoe lê. Jy gaan eers jou kuif moet ‘leer’ om reg te lê deur dit byvoorbeeld reg te stileer. Blaas dit links plat, middel plat, regs plat en herhaal. 

5. Stilering

Foto: Intercoiffure Mondial

Jy wil nie die tagtigs se ‘bubble’ kuif hê nie, en dit is wat jy gaan kry as jy jou kuif met ’n borsel droogblaas. Gebruik eerder jou vingers om jou kuif net reguit vorentoe te blaas.

Met ’n gordynkuif kan jy dit eers agtertoe blaas en dan die stukke langs jou gesig effens uitkrul om daardie sewentigs gevoel te skep.” 

Foto: Intercoiffure Mondial
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
harde ken-hare
Harde ken-hare
error: Content is protected !!