Die langer dae en meer sonlig laat ons meer aktief voel, maar oefening en jou vel is nie noodwending beste maats nie, veral as jy geneig is om rooi te word. Hier is raad. Deur Suzanne Kotzé
Dermatoloog dr. Suretha Kannenberg verduidelik hoekom oefening goed én sleg is vir jou vel en wat jy kan doen om die slegte invloed te verminder.
Oefening en jou vel: Hoekom is dit goed?
1. Dit verbeter algemene sirkulasie
Oefening moedig bloedvloei aan wat help om jou vel te voed.
2. Dit help met suurstoftoevoer
Bloed dra suurstof en voedingstowwe na alle werkende selle in jou liggaam, ook jou vel.
3. Detoksifikasie
Behalwe dat bloedvloei suurstof deurgee na jou velselle, help dit ook om gifstowwe en *vrye radikale weg te voer. Oefening ontgif egter nie jou vel nie, want dit is jou lewer se taak. Vermeerderde bloedvloei help egter om sellulêre oorblyfsels uit jou sisteem te spoel. Dit is amper soos om jou vel van binne na buite te reinig.
*Die vrye radikale is suurstofmolekules wat ’n elektron verloor het en onstabiel is. Hulle probeer hulself ‘genees’ en ‘steel’ elektrone by gesonde molekules wat op hul beurt net nóg vrye radikale vorm en in die proses ons selle beskadig.
4. Om spanning te verlaag
Oefening help om spanning te verlaag en kan sodoende chroniese veltoestande soos psoriase verbeter.
5. Gesonder, meer glansende vel
Jou verhoogde sirkulasie (soos by punt 1 genoem) kan help dat jou vel meer glansend lyk.
Oefening en jou vel: Hoekom is dit sleg?
6. Kan ekseem vererger
Sweet en hitte vererger jeuk, wat tot meer inflammasie kan lei en sodoende jou ekseem vererger.
Stylvol wenk: hou hidrerende watersproei in jou kar of gimsak en spuit jou gesig direk ná of tydens oefening hiermee om af te koel.
7. Sonblootstelling as jy buite oefen
’n Mens word aan die son blootgestel as jy buite oefen. Indien jy wel sonskerm aangesmeer het, sweet dit af. Dit is moeilik om met enigiets meer as ’n oefenkeps te draf. Jy kan natuurlik nie met ’n wyerandhoed draf, wat die beste sonbeskerming bied nie. Dit lei tot baie sonskade – velkankers, veroudering en pigmentasie.
Wat kan jy doen?
- Vermy oefening buite tydens 10:00 en 16:00
- Dra steeds die wydste oefenkeps wat jy kan kry
- Dra ’n donkerbril
- Smeer sonskerm aan 30min voordat jy in die son gaan.
- Gebruik maksimale SP-faktor (50 of 50+)
- Wend weer sonskerm aan as jy baie sweet en langer as ’n uur buite oefen. Onder normale (nie-sweterige) omstandighede is twee-uurlikse aanwending ideaal vir maksimale sonskermfunksie. Indien jy heeltyd sonskerm afsweet/afvee/ of in water is, wend meer gereeld aan.
- Bedek jou liggaam soveel moontlik met goedpassende (as te veel strek werk dit ook weer nie ordentlik nie) sonbeskermingsklere – verkiesik iets met UV-protection factor van 30 of 50.
- Aanspuit-sonskerms is handig as ’n mens so aktief is en jou vel nat is – ISDIN het ’n aanspuit-sonskerm spesifiek bedoel vir nat vel.
- Heliocare 360 Oral Capsules (R647 vir 30 kapsules, Skinmiles en Dermastore) werk goed saam met topikale sonskerm as addisionelesonbeskerming. Dit word aanbeveel as jy heeldag in die son gaan wees. Drink dit ’n halfuur voor jy buite gaan oefen. Dit bied tot vier ure beskerming, maar dit vervang nie sonskerm en ’n hoed nie!
Stylvol sonskerm-aanbevelings
8, Kan aanleiding gee tot rosacea
Herhalende episodes van ’n erge rooi en warm vel dra definitief ook by tot die ontwikkeling van rosacea. Al die bogenoemde beskermingsmaatreëls is steeds van toepassing, maar is gewoonlik nie genoeg nie.
Wat kan jy doen?
- Oorweeg die aanwending van brimonidine room (op voorskrif) 30min voor ’n oefen-sessie. Dit veroorsaak krimping van die bloedvate en voorkom die erge rooiheid.
- Probeer in koeler omgewings oefen
- Oorweeg swem as oefening
- Wend koue kompresse aan na oefening.
Stylvol wenk: Soos by punt 6, oorweeg ’n watersproei om jou af te koel en spoel jou gesig so vinnig moontlik na oefening met koue water af.
9. Jy kan folliculitis ontwikkel
Indien jy nie dadelik na oefening stort nie, kan ’n mens folliculitis – inflammasie van die haarfollikels -op die liggaam ontwikkel. Stort dus so gou moontlik na oefening.
10. Gedihdreerde vel
Oefening kan jou vel dehidreer; maak seker jy neem genoeg vog in.
Stylvol wenk. Gebruik ’n hidrerende serum die aand voor jy oefen (as jy soggens oefen) of die aand na oefening (as jy laatmiddag of saans oefen). Ons smeer soms serum aan voor oefening, want dit hidreer steeds jou vel, sonder dat dit jou sweterig laat voel soos wanneer jy vogroom aansmeer voor oefening.
- Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za