Parfuum
Parfuum
Foto: Cottonbro, Pexels

Nuwe parfuums vir jou geurekas

Nes jy verskillende uitrustings vir verskillende seisoene en geleenthede benodig, het jy ook verskillende parfuums nodig. Hier is van ons nuwe gunstelinge PLUS wegpak, regpak en sorgwenke vir jou fyngeure. Deur Suzanne Kotzé

Mens is geneig om net by een parfuum of een geurfamilie te hou, maar jy mag dalk net aangenaam verras wees as jy vir ’n slag iets anders probeer. 

Die koue weer kan parfuum ligter laat ruik, daarom kies ’n mens gewoonlik ’n effens swaarder parfuum vir die wintermaande. 

Nuwe parfuum vir jou geurekas

Women’s Secret

Women’s Secret Rose Seduction en Gold Seduction (R599 elk vir 100ml EDP, Clicks )

Women’s Secret Rose Seduction

Hierdie vrugtige ‘gourmand’ blommegeur word as gesofistikeerd en onweerstaanbaar beskryf. Dit het topnote van lemoenbloeisels, appel en nartjie en jasmyn as een van die middelnote. Vanielje en muskus is die basisnote. Die parfuum het die allerfynste blinkertjies in en ons kan nie ophou om dit keer op keer om te draai en na die blinkertjies te kyk nie. As jy van soeter fyngeure hou, is dié een vir jou. 

Women’s Secret Gold Seduction

Women’s Secret Gold Seduction Eau de Parfum (R599 vir 100ml, Clicks) 

Die vrugtige blommegeur is geskep vir vroue wat daarvan hou om glansryk en sensueel te voel. Jy ruik sitrus en rooi bessies (topnote), romerige blomme (middelnote) en vanielje (basisnoot). 

Valentino Born in Roma Yellow

Valentino Born in Roma Yellow (eers beskikbaar vanaf September. Vanaf R1 300 vir 30ml)

 As jy vars sitrusgeure verkies, maar tog ’n warmer geur soek, is hierdie ’n goeie keuse. Die goue sonsopkoms in Rome (bekend as die ‘goue uur’) is die inspirasie vir hierdie fyngeur. Italiaanse Bergamot, en suurlemoen topnote, met blomme middelnote en vanielje en sederhout as basisnote, skep ’n aanvanklike vars reuk, wat warmer bly talm. Dit ruik vars en bly goed aan, en dit is meer van ’n volronde geur as baie ander vars sitrus geure. 

Sisley Izia La Nuit

Sisley Izia La Nuit (R1950 vir 30ml, Woolworths)

⁠Izia La Nuit is net soos die oorspronklike Izia fyngeur geskep rondom ’n roosgeur, maar waar die oorspronklike een lig en blommerig is, ruik La Nuit dieper en meer gesofistikeerd, sonder om swaar of oordadig te ruik. Vanielje en amber gee dit ’n warm geur, sonder dat dit te ‘OTT’ is. In ware Sisley-styl is die bottel deur bekende kunstenaar Bronislaw Krzysztof ontwerp. ⁠

Die stigters van Sisley, die D’Ornano’s, is groot kunsliefhebbers. Ek was al gelukkig genoeg om by hulle hoofkantoor in Parys te kuier, en selfs hulle deurhandvatsels is deur kunstenaars gemaak. Ek onthou so goed hoe Madame d’Ornano se oë geskitter het, terwyl sy passievol alles uitgewys het wat deur verskillende kunstenaars ontwerp is. Met daardie selfde passie maak hulle skoonheidsprodukte en parfuum. Elke keer as ek een van hulle mooi parfuumbottels sien of die geur aanspuit onthou en koester ek dit. 

Valentino Voce Vita

Valentino Voce Vita (vanaf R1300 vir 30ml by uitgesoekte Edgars en Truworths winkels)

Ons is gaande oor die advertensie vir die fyngeur wat staan vir “my stem, my krag”. Lady Gaga en Pierpaola Piccioli (Valentino se kreatiewe direkteur) het saamgewerk aan die video wat individualiteit vier en mense aanmoedig om hulle stemme te gebruik om hulle diversiteit en waardes te deel. 

Van die note van die houterige blommegeur is bergamot, mandaryn en gemmer, lemoenbloeisels, katjiepiering, jasmyn, mos, sandelhout en vanielje. 

Azzaro Wanted Girl by Night

Azzaro Wanted Girl by Night EDP (R1200 vir 30ml by uitgesoekte winkels)

 

Die fyngeur word as misterieus en vroulik beskryf. Die Oosterse ‘gourmand’ blommegeur is geskep rondom ’n misterieuse wit blom wat slegs saans blom, met ’n tikkie vanielje wat ook bespeur kan word. Daarmee saam word van die note beskryf as sensuele rum en geklopte room. Stout en verleidelik …

Giorgio Armani Sì Eau De Parfum Intense

Giorgio Armani Sì Eau De Parfum Intense R1350 vir 30ml, R2090-00 vir 50ml, R2970 vir 100ml, Foschini

Die chypre Midde-Oosterse geur wil vroue uitdaag om hulle meer ‘intense’ sy te ontdek. Die meer intense weergave van die oorspronlike Sì fyngeur het note van swarbessies, Isparta roos (wat in Turkye groei en petsjoeli. Die geur word as intens, volrond en gesofistikeerd beskryf en ons stem saam. Die geur is nie klatergoud nie, maar eerder wierook en mirre.

Sorg so vir jou geurekas; regpak en wegpak

Nes jy jou klerekas moet uitsorteer en uitgooi wat nie meer werk nie, moet jy jou geurekas ook dan en wan regpluk.

‘Trek’ alles aan en kyk of dit nog werk

Die pH van jou vel verander namate jy ouer word sodat parfuum anders ruik aan jou as toe jy jonger was. Parfuum kan ongelukkig ook ‘af’ raak. As jy na die vloeistof kyk, sal dit donkerder lyk, of dalk ’n melkerige lagie onderin hê. Dalk het dit nie een van die twee nie, maar dit kan steeds af wees en jy sal dit aan die reuk agterkom. Die algemene rakleeftyd van ’n parfuum is so drie tot vyf jaar, maar sommige fyngeure kan dalk na ’n jaar al anders ruik, en ander sal na vyf jaar en langer nog goed ruik. Dit hang ook af van hoe jy daarna omsien. 

Hergebruik ou geure, gee weg of gooi weg

  • Spuit parfuum wat jy nie meer wil dra nie oor kunslvlytpapier of papier wat baie katoen bevat en voer laaie daarmee uit. 
  • Gebruik die parfuum as ’n kamersproei.
  • Sproei die fyngeur op watte, sit dit in ’n materiaalsakkie en hang dit tussen jou klere.
  • Skoonheidsredakteurs hou gewoonlik die parfuumtoetsstrokies wat ons by bekendstellings kry (en wat jy by parfuumtoonbanke ook kry) in ons handsakke of notaboekies om dit te laat lekker ruik. 

Waag met iets nuuts

Almal het gunstelingnote en jy hoef nie na ’n nuwe geurfamilie (soos van blomme na sitrus) oor te gaan nie, maar jy kan ’n ander noot in dieselfde familie probeer. As jy dalk van soetemaling hou, kan jy ’n ander wit blom soos jasmyn probeer. Of jy kan seker maak jou gunstelingnote is steeds in die hart van die parfuum, maar daar is ander top- of basisnote probeer soos ’n meer sitrusagtige topnoot en meer speseryagtige basisnote. 

Sorg vir jou fyngeure

’n Vensterbank of spieëltafel wat baie lig kry, is die slegste plek vir jou fyngeur. ’n Badkamer wat gewoonlik warm en klam is, is ook nie ’n goeie keuse nie. Bêre jou fyngeure in ’n donkerige, effe koel en droë kas waar die temperatuur min of meer dieselfde bly. Sommige mense hou die parfuum selfs in die oorspronklike kartonverpakking, maar die meeste van ons is dalk bietjie lui daarvoor. Oorweeg dit om jou fyngeure in ’n mooi dieperige boks in jou kas te pak. Die karton beskerm dit ook teen hitte. 

Lees ook: Parfuum moets en moenies en nuwe lekkerruik fyngeure

Teken in op ons nuusbrief en word deel van die binnekring.

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
hipersensitewe vel
Neem so beheer oor jou hipersensitiewe vel
error: Content is protected !!