parfuum
parfuum

Parfuum moets en moenies

Kenners verklap parfuum moets en moenies, van hoe en waar om dit aan te spuit. Deur Suzanne Kotzé

Parfuum moets…

  • “’n Vel wat goed bevogtig is, laat parfuum langer aanbly,” sê Praveshni Govender die nasionale opleidings- en besigheidsbestuurder vir CHANEL Suid-Afrika.
  • “Hou jou parfuumbottel so 10cm weg van jou af wanneer jy dit aanspuit. 
  • Moenie huiwer om jou parfuum ook aan die voering van jou klere te spuit nie, dit kan jou geur langer laat draal,” sê Praveshni Govender.
  • Wag minstens tien minute nadat jy ’n nuwe parfuum in die winkel aangespuit het, voordat jy dit koop. Na 10 minute het die geur al ontwikkel en kom die middel- en basisnote ook deur, wat bepaal hoe die parfuum regtig ruik, sê Barbara van Kraayenburg, bemarkingsbestuurder vir parfuum en skoonheid van die S.Bacher-groep. (Onthou die topnote is die note wat jy aanvanklik ruik, maar ook die note wat die vinnigste verdwyn).

…en moenies

  • Moenie parfuum aan ’n klam of nat vel spuit nie. As jou vel klam is wanneer jy parfuum aanspuit kan ’n reaksie plaasvind wat veroorsaak dat jou vel warmer word.Dit kan die kwaliteit van die parfuum verander,” sê Praveshni Govender.
  • “Dit is ’n fout om parfuum te koop net omdat dit goed ruik aan iemand anders; onthou jou vel se suurvlakke verskil van die van jou vriendin en veroorsaak dat dit anders ruik op jou,” sê Barbara.
  • “Moenie jou parfuum in jou badkamer bêre nie. Die temperatuur verskille in die badkamer kan veroorsaak dat jou parfuum se leeftyd verkort en kan ook veroorsaak dat dit nie meer so effektief is nie. 
  • As jy jou polse teen mekaar vryf nadat jy parfuum aangespuit het breek jy die geur-molekules en dit beīnvloed hoe die parfuum ruik.
  • Moenie parfuum net aan jou polse spuit nie, onthou van jou ander polspunte ook.
  • As jy parfuum aan jou décolleté area spuit kan dit bydrae tot die veroudering van die area, veral as jy werk toe ry en hierdie area aan son blootgestel word,” waarsku Barbara. 

Lekkerruik geure

Nuwe fyngeure wat ons die afgelope paar maande ontvang en getoets het.

Kate Spade New York EDP  

Kate Spade New York
Kate Spade New York EDP

Hierdie splinternuwe geur is soos die New Yorkse Kate Spade-modehuis; kleurvol en energiek. Kyk net die mooi bottel en die doppie!

Die top-note is aarbei en bergamot. Aanvanklik was die aarbeigeur amper te soet, en dan kom die sitrusgeur deur wat deur die soet aroma breek. Die middelnote of hart van die geur is roos (wat glo net so vroulik soos die Kate Spade-vrou is). Saam met die aanvanklik vrugte-geure, ruik die roos vars en vroulik. Hout-basisnote gee die parfuum diepte. Hierdie parfuum borsis beslis ’n bewys dat ’n mens nie ’n parfuum met die eerste ruikslag moet veroordeel nie, want die blywende geur was heerlik en allesbehalwe te soet. 

GIVENCHY L’Interdit Eau de Parfum 

Givenchy

 

Die eerste L’Interdit fyngeur is in 1957 geskep, opgedra aan Audrey Hepburn wat Givenchy se muse was. Die nuwe L’Interdit Eau de Parfum is in 2018 ontwerp en word as die moderne weergawe beskryf. Wit blomme (jasmyn, lemoenbloeisels en soetemaling) word gekontrasteer met dieper hout-basisnote en patsjoeli. 

Die gelerige kleur van die parfuum het my dadelik laat dink dat dit dalk baie swaar sal ruik, maar al ruik dit aanvanklik swaarder as my gewone gunsteling-fyngeure, skep die kontras tussen soeter en swaarder geure ’n onverwagse geurkombinasie. Dit het ’n subtiele, effens rokerige aroma wat ook deurskemer, wat die geur meer in die blommerige Oosterse-geurfamilie sal plaas. Hierdie sensuele geur sal beslis ’n romantiese aand opkikker. 

 

Miss Dior Rose N’Roses Eau de Toilette

Hierdie vars blommegeur is ongekompliseerd en laat my sommer vrolik voel. Die roosgeur is sentraal in die meeste Dior parfuums, maar bergamot gee dit ’n vars gevoel terwyl muskus intensiteit gee. François Demachy, Dior se bekende parfuumontwerper sê: “Ek wou nie nog ’n roos skep nie, maar eerder ’n oorvloed van blomme verpersoonlik.”

Lancôme La Vie Est Belle En Rose Eau De Toilette

Lancome La Vie

Ek het onthou maar te goed toe La Vie Est Belle jare gelede bekendgestel is. Die botteltjie se glimlag is geïnspireer deur Julia Roberts se breë glimlag. Elke keer as ek die botteltjie sien wil ek glimlag. Die oorspronklike gourmand-geur was altyd vir my te soet en ek was huiwerig om die nuwe geur te toets. Ek verkies gewoonlik vars blommegeure. Die nuwe fyngeur pas egter perfek in hierdie geurfamilie; dit word beskyf as ’n vars, blommerige weergawe van die oorspronklike met pioenroos en roosgeure. 

Les Exclusifs de Chanel Le Lion de Chane

Ekslusief beskikbaar by die Chanel Fragrance and Beauty Boutique V&A, Waterfront, Kaapstad. 

Soos met die meeste Chanel-fyngeure kan ’n mens nie help om meegesleur te word met die storie agter die geur nie. Mademoiselle Chanel is onder die leeu-sterreteken gebore en het altyd ’n liefde vir sterretekens gehad. Nadat die groot liefde van haar lewe, Boy Capel, skielik in 1920 oorlede is, het Gabrielle se goeie vriendin Mishe haar saamgeneem Venesië toe. Hier het sy dolverlief geraak op die kuns en kultuur van Venesië waar leeu-standbeelde volop was. Sy het so baie van die leeus gehou dat sy ook haar woonstel in Parys met leeu-beelde gevul het. Sy het die leeu selfs in mode-ontwerpe gebruik soos op die knope van baadjies en gespes van handsakke. 

Die Oosterse fyngeur kan deur mans en vroue gedra word en het note van bergamot, suurlemoen, amber, vanielje, sandelhout, muskus en patsjoeli. 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Haarverlengings: so werk dit
error: Content is protected !!