Heerlike Kersfeesresepte

Hierdie Kersfeesresepte het jy nodig! Van lambsboud met kruisement en port tot komkommer, kruisement, suurlemoen & spanspek-slaai en gemmerkoektiramisu. Ons monde water sommer. Resepte uit Elmarie Berry se The Table The heartbeat of the home.

Lamsboud met kruisement en port

Kerstyd sou nie volledig wees sonder ‘n skaapboud op die tafel en natuurlik vars kruisement nie. Hierdie heilsame gereg is die feestelike middelpunt van jou spyskaart en hierdie gereg sal jou gaste betower.

Bedien 6-8

  • 2,25–2,7 kg skaapboud
  • 3 eetlepels ekstra suiwer olyfolie
  • ¼ koppie vars kruisementblare, gekap of 2 eetlepels gedroogde kruisement
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 3 takkies vars roosmaryn, houtagtige stingels verwyder
  • 2 knoffelknolle in die helfte gesny horisontaal
  • ¾ koppie balsamiese asyn
  • 1 koppie port
  • 1 koppie droë witwyn
  • 8 groot swartvye, sommige gehalveer, sommige heel gelaat
  • Granaatpitte vir garnering

Voorverhit die oond tot 160°C.

Plaas die skaapboud in ’n groot diep roosterbak, vetkant na onder. Bedruip die vleis oraloor met olie en geur beide kante mildelik met die kruisement, sout, peper en gekapte roosmaryn.

Rangskik die knoffelknol helftes rondom dit. Meng dan dan die asyn, port en witwyn en gooi dit om die vleis. Bedek met ’n deksel of foelie en rooster vir drie ure. Haal uit die oond en gebruik ’n tang om die been om te draai met die vetkant bo-op. Bedek en rooster vir nog twee ure.

Haal die bakplaat uit die oond en verstel die hitte tot 200°C. Plaas die boud vir 20 minute terug in die oond, voeg dan die vye om die vleis by en rooster vir nog 10 minute – die vye moet net warm en sag wees en nie uitmekaar val nie. Garneer met die granaatpitte.

Sit warm voor in die skinkbord as ’n feestelike middelpunt.

Komkommer, kruisement, suurlemoen & spanspek-slaai

’n Ware gunsteling om die tafel in my huis. Hierdie slaai laat my dink aan my Midde-Oosterse wortels met die vars komkommer, kruisement en suurlemoen.

Bedien 4-6

  • 1 groen spanspek
  • 1 salot, in die lengte gehalveer en in fyn skywe gesny (40 g)
  • 1½ vars groen brandrissies, fyn gesny in repies (ontpit vir minder hitte)
  • 1 groot komkommer, in die lengte gehalveer
  • 1 teelepel sout
  • 60 g lamsslaai (lambs lettuce)
  • Handvol vars dille, grof gekap
  • Handvol vars basiliekruid
  • Handvol vars kruisement
  • Eetbare blomme, vir garnering

Kruisement & za’atar slaaisous

  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • 4½ eetlepels olyfolie
  • 1¼ teelepels gedroogde kruisement
  • 1½ teelepels za’atar

Maak eers die slaaisous deur al die bestanddele in ’n klein beker te klits. Sit eenkant.

Gebruik ’n spanspekballer om die vlees uit die spanspek te verwyder.

Voeg die spanspek, salot en brandrissies saam in ’n bak. Skep die waterige middel van die komkommer uit en sny dan die komkommer skuins in 5 mm-dik skywe. Sit dit in die bak saam en gooi die sout oor. Meng goed. Sit die lamsslaai en kruie by. Meng liggies, garneer met eetbare blomme en bedien dadelik.

Gemmerkoek Tiramisu

Tiramisu op sy eie is reeds ’n ster, maar die gemmerkoekspeserymengsel maak dit ekstra feestelik.

Bedien 6

Gemmerkoek spesery-mengsel

  • 2 eetlepels gemaalde kaneel
  • 2 eetlepels gemaalde gemmer
  • 1½ eetlepels gemaalde wonderpeper
  • 1½ teelepel gemaalde naeltjies
  • 1½ teelepels gemaalde neutmuskaat
  • ’n Knippie varsgemaalde swartpeper.

Tiramisu

  • 1 koppie kloproom
  • 1 koppie mascarpone, saggemaak
  • ¼ koppie suiker
  • 1 teelepel vanielje-ekstrak
  • 1½ koppies afgekoelde espresso of baie
  • sterk koffie
  • 2 eetlepels koffielikeur
  • (Ek gebruik Kahlua)
  • 24–28 vingerkoekies (Boudoir)
  • 2 eetlepels kakaopoeier

Maak eers die gemmerkoekspeserymengsel deur al die bestanddele saam in ’n klein bakkie te meng. Sit eenkant.

Vir die tiramisu, klits die room totdat medium-stywe punte vorm. Sit eenkant.

Meng die mascarpone, suiker en vanielje tot goed gemeng.

Vou die geklopte room met ’n spatel by die mascarpone mengsel en skraap ook die bodem en kante van die bak. Klits die mengsel tot glad met ’n elektriese klitser.

Gooi die koffie, 4 eetlepels van die gemmerkoekspeserymengsel en likeur in ’n vlak bord en doop elke vingerkoekie liggies in die koffielikeurmengsel. Moenie die koekies week nie, anders sal hulle pap word.

Voer die basis van ’n vierkantige oondbak met ’n laag beskuitjies uit.

Smeer die helfte van die roommengsel oor die beskuitjies. Herhaal met nog ’n laag gedoopte koekies en roommengsel. Verkoel vir minstens  vier ure of oornag.

Meng die res van die gemmerkoekspeserymengsel met die kakaopoeier en strooi dit oor die poeding net voordat jy dit bedien.  

The Table The heartbeat of the home deur Elmarie Berry is beskikbaar by Takealot, Exclusive Books, Loot, Graffiti Books

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
gewig
7 Dinge wat jou gewig beïnvloed – en die tipe gewig wat jy wil behou!
error: Content is protected !!